Wie regeer die wêreld? Katte

(Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.)

ʼn Kat besit eintlik jou huis en jy is maar net in diens van Kieterkat. Vra maar enige eienaar van ʼn kat, hulle sal jou almal dieselfde ding vertel. Katte roem hulself glo daarop dat hulle eintlik dié een is wat jou om hulle sagte maar vlymskerp toontjies draai.

Gelukkig het navorsing nou bewys dat jy veel meer as net ʼn bron van voedsel vir jou kat is. ʼn Studie wat die bande tussen huiskatte en hulle mense bestudeer, het verlede jaar bevind dat katte hulle troeteldiereienaars ook as ʼn bron van gemak en veiligheid beskou. Kortweg, katte hou van jou, selfs al wys hulle dit nie altyd nie.

Die navorsing het verder aan die lig gebring dat katte geheg aan hulle eienaars is. Die band kan vergelyk word met dié wat honde, en selfs babas, met hulle versorgers vorm.

Kristyn Vital, hoofskrywer van die navorsing, is ʼn postdoktorale genoot aan die Oregon-staatsuniversiteit in die VSA. Vital sê die meeste katte het ʼn behoefte aan sekuriteit waarin hulle eienaars voorsien, en daarom is dit belangrik vir dié eienaars om te onthou dat hulle gedrag in stresvolle situasies ʼn direkte invloed op die gedrag van hulle katte kan hê.

“Hierdie bevindings weerlê die mite dat katte nie ʼn sterk band met hulle eienaars vorm nie, of hulle werklik benodig nie,” sê Marycke Ackhurst, ʼn kenner van troeteldiergedrag by Hill’s Pet Nutrition. Die navorsing volg op die hakke van nog ʼn studie wat in Tokio gedoen is en bevind het dat katte wel hulle eie name ken. So, as jou kat nie kom as jy hom roep nie, ignoreer hy jou waarskynlik net, sê Ackhurst.

(Foto: Hillspet.co.za)

Abigail Tucker, skrywer van The Lion in the Living Room: How House Cats Tamed Us and Took Over the World, sê katte het ons oorrompel vanweë hul gesigte – daardie groot oë het ons bloot aan ons eie babas herinner en verder was hulle nie so bang vir mense soos ander diere nie. Deesdae is katte ʼn wêreldwye obsessie, veral aanlyn, waar karakters soos die oorlede Grumpy Cat meer volgelinge (en ʼn groter inkomstepotensiaal) het as talle ander menslike glanspersoonlikhede.

Tucker voeg egter vinnig by dat ʼn sogenaamde “ouer van katte” genot daaruit put om hulle katte gelukkig te maak, selfs al is dié verhouding meer uitdagend. Dit is vir hulle heerlik om vas te stel wat maak Katsiekats die gelukkigste, of dit nou sy gunstelingspeelding, lekkerny of ʼn spesiale krapplekkie agter die oor is.

En wat geniet ʼn kat meer as enige ding op aarde? Slaap, enige kateienaar sal dit ook vir jou kan vertel.

“Katte kan tussen 12 en 16 uur per dag slaap en die besparing van energie is die belangrikste rede vir die lang periodes van slaap. Katte kan ook maklik insluimer – dit kan vyf tot 30 minute lank duur – maar hulle kan net so vinnig weer terugspring na oplettendheid vir prooi of ander roofdiere. Dit is ʼn soort biologiese instink. As jou kat ooit aan die slaap geraak het terwyl sy regop sit en wag, doen sy bloot wat sy veronderstel is om te doen,” sê Ackhurst.

(Foto: Hillspet.co.za)

Dit is net natuurlik vir ʼn kateienaar om alles te doen om die perfekte bed, kussing of plek te kry vir hul kattekoning of -koningin om hul kop te laat rus. Net soos ons, wil katte ʼn warm, sagte bed hê wat ure lange gemak en ontspanning sal bied, verkieslik in die warmste gedeelte van die huis.

Ondanks die lang slaapvereistes van jou kat is sy allesbehalwe lui, verduidelik Ackhurst. In werklikheid moet ʼn kateienaar seker maak dat Kietsie genoeg speel en oefen vir die vier tot sewe uur van die dag wat hy nie slaap nie.

ʼn Lekker speelsessie is veral belangrik in die aand omdat dit gewoonlik die tyd is wanneer jou kat gereed maak om te gaan jag. ʼn Kat kan met enigiets speel, ʼn leë toiletrolletjie, ʼn toutjie of vere aan ʼn stok sal net die regte speelding wees en dit is maklik om sommer self te maak. Onthou om ook ʼn duursame krappaal vir jou kat aan te skaf, dit is net natuurlik vir jou kat om sy of haar naels te wil slyp deur iets uitmekaar te krap.

Besoek Hill’s Pet Nutrition se webwerf vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.