Trou só in Afrikaans

Afrikaanse borspelde vir die bruid se gevolg (Foto: Shutterstock)

In dié week se trougids deel Maroela Media idees en bewoording vir uitnodigings, geskenkwenke en trouwense wat jou Afrikaanse troue sal opkikker. ʼn Aanhaling of twee kan ook ewe maklik in ʼn troukaartjie of gasteboek gedeel word.

Nou kan jul liefde vir mekaar en vir Afrikaans skyn op die grootste dag van jul lewens!

Sê dit anders

ʼn Troukoerant kan voor die seremonie aan gaste uitgedeel word. Dit bevat besonderhede oor die paartjie (hoe hulle ontmoet het, waar hulle grootgeword het en enige ander interessante feite en foto’s uit hul pad saam) met inligting oor die gevolg (byvoorbeeld name van strooimeisies, strooijonkers, blommemeisies en hofknapies). Jy kan lekker speel met titels vir jou troukoerant: Troukoors, Liefdesrapport, Die {Bruidspaar se van} of Die {Bruidspaar se van}-blad

Troue: Bruilof, bruilofsfees, troumakietie, boerebruilof, egverbintenis, huweliksfees

Openingsreël van uitnodigings

Afrikaanse uitnodiging deur D-Vites by M.H.S (Foto: Elize Mare Photography – Wedding Photographer/Facebook)

Formele uitnodigings, of waar ouers vir die troue betaal, het gewoonlik ʼn vaste uitleg. As jy egter ʼn bietjie meer informeel wil wees of jou uitnodiging aan ʼn sekere tema wil koppel, kan jy iets soos die volgende oorweeg:

  • Jy word hartlik uitgenooi na die boerebruilof van {Bruid} en {Bruidegom}.
  • Gedeelde vreugde word verdubbel wanneer {Bruid} en {Bruidegom} in die eg verbind word.
  • Kom vier saam met ons fees! {Bruid} en {Bruidegom} gaan ewig trou aan mekaar beloof.

Nota: Het jy geweet? Tradisioneel word die vrou se naam voor die man se naam genoem voor hul troue. Ná die troue word die man se naam eerste genoem.

Verwelkomingsbord

ʼn Verwelkomingsbord by jou troue is nie verpligtend nie. Indien jy wel besluit om een te gebruik, kan jy een van dié voorbeelde oorweeg:

  • Welkom by die boerebruilof van {Bruid} en {Bruidegom}
  • {Bruid} en {Bruidegom} verwelkom jou by hulle troumakietie
  • Welkom by {Bruid} en {Bruidegom} se huweliksfees

Pantoffels deur All Things Bridal (Foto: Facebook)

Geskenkwenke

Geskenkwenke behels gewoonlik dat bruidspare ʼn geskenkregister saamstel óf dat hulle gaste versoek om eerder geld te gee. Indien jy ongemaklik is om te vra kan jy dit op een van die volgende maniere benader:

  • Ons nessie is klaar geveer, maar ʼn geldjie sal ons baie waardeer.
  • Geskenke is nie oorbodig, maar bederf ons eerder met ʼn paar note.
  • Spaar jou voete die loop, ons sal eerder self wil koop.
  • Ons het mekaar en die liefde blom, maar ʼn geldjie sal help as die swaar tye kom.

Oulike aanhalings en Bybelverse

Aanhalings en Bybelverse kan op verskeie maniere by die troue geïnkorporeer word. Dit kan moeiteloos in julle troukoerant of op die tafels geplaas word of gaste kan dit in troukaartjies of julle gasteboek skryf.

Hier is ʼn paar Afrikaanse voorbeelde:

Aanhalings

  • “Die huwelik is ʼn leë houer wat leeg sal bly tensy ʼn mens meer daar insit as wat jy uithaal.” – Anoniem
  • “Die huwelik is drie dele liefde en sewe dele vergifnis.” – Anoniem
  • “Vir dié een wat beweer dat die huwelik ʼn 50/50-proporsie is, is die helfte nog nie vertel nie.” – Anton Tsjechov
  • “Die doel van ʼn huwelik is nie om eenders te leer te dink nie, maar om sáám te dink.” – Richard Dobbs
  • “Vóór die huwelik kan jy die een kies wat jy wil liefhê, maar ná die huwelik moet jy die een liefhê wat jy gekies het.” – Martin Luther
  • “Die huwelik is ʼn reis, nie ʼn bestemming nie. Dit is ʼn maraton, nie ʼn naelloop nie. Dit is ʼn lewenslange vereniging van twee onvolmaakte mense wat mekaar liefhet.” – Claudia Arp
  • “Ware liefde is die samekoms van raaisels, geheimenisse en verrassings wat veroorsaak dat twee één word.” – Thomas Browne

(Foto: Nico Strydom)

Bybelverse

  • “Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe. Bo dit alles moet julle mekaar liefhê. Dis die band wat julle tot volmaakte eenheid saambind.” – Kolossense 3:13
  • “En beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van die volmaaktheid is.” – Kolossense 3:14
  • “Twee is beter as een, want hulle het ʼn goeie beloning vir hulle moeitevolle arbeid. Want as hulle val, kan die een sy maat optel, maar wee die een wat val sonder dat daar ʼn tweede is om hom op te tel. Verder, as twee bymekaar lê, kry hulle warm; maar hoe kan een allenig warm word? En as iemand die een aanval, kan al twee hom teëstand bied; en ʼn driedubbele lyn word nie gou verbreek nie.” – Prediker 4:9 – 12
  • “Die huwelik moet deur almal eerbaar gehou word. Wees in die huwelikslewe getrou aan mekaar, want ontugtiges en egbrekers sal onder die oordeel van God kom.” – Hebreërs 13:4
  • “Maar bo alles moet julle mekaar vurig liefhê, want die liefde sal ʼn menigte sondes bedek.” – 1 Petrus 4:8
  • “Laat alles by julle in liefde geskied.” – 1 Korintiërs 16:14
  • “Om hierdie rede sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal een vlees word, sodat hulle nie meer twee is nie, maar een vlees. Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie.” – Markus 10:7
  • “My beminde is myne, en ek is syne.” – Hooglied 2:7

Het jy geweet? All Things Bridal en D-Vites by M.H.S is deel van die diensverskaffers wat later vanjaar in samewerking met Maroela Media ‘n troue ter waarde van R 170 000 gaan weggee. Die kompetisie sluit op 13 April. Kliek hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae