Troubegroting, verskaffers gee raad

Foto ter illustrasie. (Foto:
Priscilla Du Preez/Unsplash.)

ʼn Troubegroting bly die grootste kopseer, veral in tye waar die ekonomie op jou beursie druk. Hoewel ʼn prioriteitslys die uitgawes in perspektief plaas, is dit nie altyd so eenvoudig om begrotingsbesluite te neem nie.

Maroela Media deel dié week verskaffers se begrotingsraad en wenke oor selfdoen-troues.

“Soms moet drome aangepas word om by die begroting te pas,” sê Suvette Claassens, mede-eienaar van Piccolo Fine Designer Jewellery. Claassens en haar man, Johann, het die onderneming in 2008 begin.

Dedré Delport van Dedré’s House of Elegance Boutique meen ook dat bruide soms die prentjie wat hulle in gedagte het, sal moet aanpas ter wille van hul begroting.

“Maak die gastelys minder, kies ʼn eenvoudiger spyskaart, oorweeg ʼn fotograaf se goedkoper pakket of dink daaraan om jou trourok te huur eerder as om dit te koop,” verduidelik Delport.

“Paartjies kan ook bespaar deur die troue 00:00 te laat eindig. Die meeste fotograwe en platejoggies vra ekstra wanneer die troue tot ná middernag voortduur,” voeg sy by. Delport se dienste sluit in gespesialiseerde produkte en pakkette, foto- en videografie, naelbehandelings, grimering en haarstilering.

Nkele, eienaar van Shais Function Hire, sê sy akkommodeer graag paartjies wat met ʼn knap begroting werk.

“Ons werk rondom hul begroting en bied steeds bekostigbare maar stylvolle troues aan,” vertel sy. Dié onderneming bied eksklusiewe spyseniering en hulle spesialiseer in die verhuring van toerusting en meubels vir spesiale geleenthede.

Claassens sê sy en haar span het begrip daarvoor dat paartjies sover moontlik wil spaar, maar waarsku dat dit nie altyd die beste opsie is as dit by trouringe kom nie.

“Ons ervaar gereeld dat goedkoop koop in duur koop kan verander,” waarsku sy.

Piccolo Fine Designer Jewellery behoort tot die Juweliersraad van Suid-Afrika. Enige maatskappy wat tot dié raad behoort, word gemonitor wanneer dit by die suiwerheid en gehalte van hul materiaal kom. Suvette en haar span raai bruidspare dus aan om eers deeglik navorsing oor juweliers te doen vóór hulle van die diens gebruik maak.

Claassens sê dit is ook beter om vooraf ʼn afspraak te maak en dan met die juwelier oor begroting en behoefte te gesels. Dit is die proses wat hulle volg.

“Ons gee leiding en verduidelik alle aspekte van die verskillende metale en edelstene, asook hoe dit die begroting beïnvloed,” vertel sy. “Ons probeer nie om bruidspare se begroting uit te buit nie, maar gebruik dit eerder as ʼn riglyn om die beste gehalteproduk binne hul begroting te lewer.”

Hulle raad aan paartjies is om seker te maak dat elke kwotasie vir dieselfde produk uitgewerk is.

Foto: Free-Photos/Pixabay

“Al die kwotasies moet vir dieselfde gehalte van metaal en karaat, asook die hoeveelheid en grootte van stene uitgewerk word. Dit help nie om appels met pere te vergelyk nie,” verduidelik Claassens.

Juweliersware is ʼn belegging, sê Claassens, daarom is dit belangrik dat die paartjie hul huiswerk doen voor die ringe gekoop word.

Ander aspekte van die troue kan makliker self hanteer of aangepas word. Maar Delport waarsku dat selfdoen-troues nie noodwendig goedkoper is nie.

“Dit is gewoonlik familielede wat ingespan word om kosse voor te berei, maar die bestanddele moet steeds aangekoop en verwerk word,” verduidelik sy. Boonop moet breekware, glase, eetgerei, stoele en tafels gehuur word en dié proses plaas baie druk op naasbestaandes.

“Buiten die druk vat dit die samehorigheid in die familie heeltemal weg, want daar rus nou ‘n verantwoordelikheid op die gaste om te werk en met voorbereiding te help,” sê Delport.

Nkele meen egter dat sommige take self gedoen kan word om koste te bespaar.

“As die begroting baie knap is, kan die uitnodigings en gastegeskenkies self gemaak word. Daar hoef ook nie hope blomme te wees nie,” sê sy.

Die belangrikste is dat bruidspare van die begin af ingelig is en deeglik navorsing oor elke aspek van die troue doen. Maak seker dat meer as een kwotasie vir dieselfde diens aangevra is en wees bereid om aanpasbaar te wees.

Maroela se Bruid van die Jaar: Skryf in as Somerbruid!

Maroela Media bied hierdie jaar vir die eerste keer ʼn spesiale Bruid van die Jaar-kompetisie aan. Dit word in samewerking met Dream Hotels & Resorts aangebied en daar is boonop groot pryse op die spel.

Ons gaan elke seisoen ʼn seisoenebruid aankondig en aan die einde van die jaar gaan ons lesers die geleentheid kry om die Bruid van die Jaar aan te wys. Jy kan in aanmerking kom vir ons Somerbruid as jy tussen Desember 2021 en Februarie 2022 trou. Inskrywings vir ons Somerbruid sluit op 4 Maart 2022. Klik hier om in te skryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.