Aarbeie en room op jou patio

Bella Fuchsia Mariska. (Foto: Life is a Garden)

Wees avontuurlustig en verruil die gewerskaf in ’n bedding vir kreatiewe tuinmaak in allerhande blombakke en -houers op jou stoep!

Daar is mos nie ’n wet wat sê ’n tuin móét in beddings gemaak word nie! En dis mos goeie nuus vir die balkon-, stoep- en patiotuinier. ’n Mens kan net so mooi en lekker tuinmaak deur met verskeie soorte blomhouers en -bakke te speel, met kleure te eksperimenteer, vertikale planthouers te gebruik en ’n paar bekoorlike blomplante by te voeg.

Tuinmaak in houers

Die gebruik van houers van verskillende groottes en vorms gee hoogte en variasie aan jou ruimte en bied terselfdertyd ’n geleentheid om verskillende style te probeer. Hangmandjies is ook ’n eenvoudige manier om ekstra groenigheid in ’n klein ruimte by te voeg. Geweefde mandjies (in plaas van plastiek) met puntige loofplante daarin sal sorg vir interessante tekstuur. Neem gerus jou tyd by die mandjie- en blombakafdeling wanneer jy weer die kwekery besoek en kyk wat jou oog vang.

  • Speel ’n bietjie: Gebruik oulike teepotte of tuinstewels as planthouers om karakter en vrolikheid aan jou ruimte te gee.
  • Dink groen: Jy kan blikke herwin en as planthouers gebruik – versier dit om by jou bestaande tuindekor te pas (kinders sal dit geniet om hiermee te help).
  • Topwenk: Maak seker dat al die planthouers genoeg dreineringsgaatjies het om te keer dat die wortels verrot.

Kry jou patio aan die blom

’n Uitstekende manier om meer lewe in jou patioparadys te bring, is om bekoorlike, bloeiende blomme te plant. Stel jou voor hoe mooi ’n paar blompotte in ’n ry langs mekaar teen die vaal stoepmuur of op ’n buiteventersbank sal lyk. Onthou, elke beskikbare ruimte skep ’n geleentheid om blomme te laat floreer. Verkry hierdie malsheid deur die TFS-konsep te gebruik om die allermooiste blombak te skep.

Probeer die TFS-metode: TFS staan vir Thriller (aandagtrekker), Filler (vuller) en Spiller (ranker). Dus, een regop indrukwekkende plant as fokuspunt, ’n plant wat dig vertoon as vuller, en ’n mooi rankplant wat oor die rand van die houer sal afhang.

Is iemand in die bui vir aarbeie en room?

Plant iets wat jou aan die lekker dinge van die lewe sal laat dink en speel met kleure in jou planthouers. Kombineer ’n heerlike verskeidenheid van dieprooi blomme en genotvolle roomwit skakerings om jou eie soet ontvlugting in ’n blomhouer te skep. Maak jou poedingplantbak deur die betroubare TFS-plantmetode soos volg te gebruik:

  1. Verbena (ysterkruid): helderrooi ranker
  2. Euforbia (noorsdoring): klassieke wit vuller
  3. Petunia: rooi vuller
  4. Alstroemeria (Inka-lelie): roomwit vuller
  5. Dahlia: boergonjerooi aandagtrekker
  6. Calibrachoa (miljoen klokke): geelwit rankplant

Kleurwielskeppings: Vir die informele stoep, meng blaarskakerings om jou tuinmeubels en dekor te komplementeer. Vir die meer indrukwekkende patio, gebruik helder kontrasterende kleure vir ’n dramatiese indruk.

Fuchsia Bella, jou lieflike ding!

Bella Fuchsia Soila. (Foto: Life is a Garden)

Die Fuchsia Bella is absoluut verruklik en maak ’n prentjiemooi potplant. Dit is ’n kompakte, brosserige en bladwisselende struik met ovaalvormige, puntige donkergroen blare. Mens kan ’n sensasionele blommeskou reg deur die somer verwag met blomme wat wissel in skakerings van rooi, pienk en pers. Hulle verkies sonlig bo halfskadu en groei die beste in klam, vrugbare grond.

Speel met fuchsia- en blompotkleure: Paar jou potte met die kleure van die Fuchsia Bella-blomme vir ’n tikkie elegansie op jou stoep.

Van venster tot muur

’n Dooie muur is altyd ’n uitnodiging om lewe daaraan te gee! Al wat jy moet doen, is om ’n paar potte simmetries (in roosterstyl) teen die muur vas te maak – los ’n spasie tussen elke pot (vier potte dwars langs mekaar en vier potte regaf is ’n goeie begin). Vallende varings en klimopplante sal die res doen en gou die muur bedek of die vensters en deuringange pragtig omraam. Vertikale planthouers bring die tuinbeddings as ’t ware na jou huis, dis perfek vir beperkte ruimtes en vertoon modern.

Plantkeuse: Black-Eyed Susan oftewel swartoognooi (Thunbergia alata) is ’n tydlose, gewilde blomrankplant. Leeubekkies (Thunbergia alataAsarina”) werk veral goed in vertikale planthouers en teen die muur van ’n leefgedeelte.

Kruiepotte op die patio

In plaas daarvan om braaispeserye van die winkel te gebruik, dink net hoe jou gaste van vars garnering sal hou! Om kruiepotte byderhand te hê, is handig vir ’n bietjie andersheid in geur en is verreweg die voedsaamste manier om jou braai mee op te kikker.

Zen in jou kuierplek

Bella Fuchsia Sophia. (Foto: Life is a Garden)

Nog ’n manier om jou beddinglose stoepruimte ten volle te benut, is om ’n waterfokuspunt by te voeg. Die geluid van lopende water skep ’n kalmerende, ontspanne atmosfeer en laat jou voel asof jy in die natuur is. ’n Tweevlak-waterfokuspunt gee ook lekker hoogte aan jou stoepruimte.

Ten slotte

Daar is soveel kreatiewe maniere om jou patio te laat blom en lewe daaraan te gee. Jy kan dus voortgaan met jou passie vir tuinmaak, ten spyte van die afwesigheid van tradisionele tuinbeddings. Hou ’n hele dag oop en gaan maak ’n lang draai by jou naaste tuinsentrum vir blomme en blomhouers en beskou dit as ’n avontuuruitstappie. Om meer te wete te kom van tuinmodes en om inspirasie te kry, besoek Life is a Garden en gaan verken die wêreld van plante.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.