Desember se tuinpret

In plaas daarvan om jou kerskrans ná Kersfees weg te gooi, hang of bind dit aan ’n boomtak en hang ’n paar mooi voëlsaadhouers daaraan. (Foto: Verskaf)

Die vakansieseisoen het aangebreek en daar is meer as genoeg rede om dit te vier. Nooi jou vriende en geliefdes na jou spogtuin en geniet die lewe en vriendskap. Life is a Garden se plantgids is hierdie jaar weer propvol idees vir tuinonthale en plantwenke om jou in ’n feesbui te kry.

’n Warm welkomgroet

Rankplante uit jou tuin kan in lieflike sierkranse omtower word wat jy aan jou voordeur kan hang. Probeer gerus die klimopvariante (ivy) en die grootnoem-noem (Carissa macrocarpa) met ornamentele grasstingels waarvan die kleur langer sal hou. ’n Goeie wenk is om ook ’n vrolike “welkom”-deurmat van digte tekstuur by jou naaste GCA-tuinsentrum te koop.

’n Gawe idee: In plaas daarvan om jou kerskrans ná Kersfees weg te gooi, hang of bind dit aan ’n boomtak en hang ’n paar mooi voëlsaadhouers daaraan.

Lig in jou tuin – dag en nag

Sonkragligte is net die ding om jou somertuin saans ’n feesatmosfeer te gee. (Foto: Verskaf)

Sonkragligte is net die ding om jou somertuin saans ’n feesatmosfeer te gee. Gebruik lanterns vir jou tuinpaadjies, versier jou bome met feetjieliggies en laat jou patio skitter met kolligte op elke pragplant. Flesse met sonkragliggies is beslis ’n wenner – plaas ekstra glassteentjies binne-in sodat dit nóg meer vonkel en skitter. Sonligflesse verdubbel die betowering in feetjietuine of wanneer dit rond en bont in jou beddings geplaas word.

’n Skitterende welkomgroet: Vleg feetjieliggies (met batterye) deur die kerskrans wat jy self gemaak het vir daardie bykomende feesstemming wanneer jou gaste opdaag.

 Pret vir die kinders

Vermaak die kinders met ’n goggajagtog en verryk terselfdertyd hul kennis. Maak vinnig ’n insekte-werksblad met ’n lys insekte wat in jou tuin opgespoor kan word en druk dit uit om vir elke kind een te gee. As alternatief is daar verskeie plaaslike apps wat afgelaai kan word om hul ontdekkings te identifiseer. Vir nog meer pret kan elkeen agterna iets interessants van die goggas vertel wat hy of sy opgespoor het.

Gelukkige huisplante

Gebruik gerus amarillis (Maartlelies) as deel van jou feesdekor. (Foto: Verskaf)

Gebruik gerus poinsettias (karlienblomme) en amarillis (Maartlelies) as deel van jou feesdekor. Vul jou huis met Hydrangeas (krismisrose) as jy genoeg het. Pluk die blomme as al die knoppies reeds oop is en skraap ongeveer 5 cm van die sagte bas van die stingel aan die onderkant af. Los hulle oornag tot by hul nekke in die water om hul kraakvars te hou voordat jy hulle in mooi blompotte rangskik.

Binnenshuise wenk: Kry genoeg lekker, vars kruie en plaas dit rond en bont op jou venster- en toonbanke sodat dit byderhand is vir ’n braai, slaai of skemerkelkie. Kruiepotjies en saadkissies is by jou naaste GCA-tuinsentrum beskikbaar.

Feeshappies uit jou tuin

Plant en saai: Waatlemoen, spanspek, patat, komkommer, eiervrug, soetrissies en die laaste tamaties vir die seisoen.

Oes: Uiteindelik het die tyd aangebreek om aan die waatlemoene en spanspekke wat jy in Augustus geplant het, te smul. ’n Groot waatlemoen is ryp as dit effens hobbelrig voel as jy met jou hand daaroor stryk. Spanspekke is ryp wanneer daar ’n fyn krakie verskyn waar dit aan die plant vas was.

Peste beslis nie na jou tuinparty uitgenooi

Maak betyds by jou GCA-tuinsentrum ʼn draai vir doeltreffende pesbeheermiddels – jy wil tog nie ongenooide gaste in jou vrolike somertuin hê nie.

Wees op die uitkyk vir:

  • skubbe op sitrusbome;
  • lemoenruspers op sitrusbome;
  • verwelkbesies (tip wilters) op die sagte blaarpunte van rose, dahlias en abelias;
  • vrugtevlieë op pampoene, skorsies en vrugtebome;
  • kodlingmot (appelmot) op appels en pere (draai kleeflint onderom die stam van die boom);
  • amarillisruspers op krinumlelies en ander bolplante;
  • skimmel of witroes op rose, dahlias en cleomes (spinnekopplante);
  • witvlieg op boontjies en fuchsias;
  • roes op stokrose;
  • peerslakke op perske-, wilde kersie- en ander ornamentele bome; en
  • ’n uitbreek van die rooispinnekopmyt gedurende warm, droë weersomstandighede.

Boheemse kombinasies

Plant hierdie kitsjaarplante in potte wat van kleur, lewe en voeding oorloop. Saailinge en saadhouers is by jou GCA-tuinsentrum beskikbaar:

  • Tamatie, pietersielie en petunia
  • Basiliekruid, eiervrug en petunia
  • Noorsdoring (sagte wit) met rooi petunias

’n Tuinbank vir Ouma. (Foto: Verskaf)

Vrolike geskenkidees vir tuiniers

  • ’n Voëlbadjie, voëlsaadhouer en ’n pakkie saad vir wilde voëls.
  • ’n Werksbank vir Pa om sy potplante oor te plant.
  • ’n Tuinbank vir Ouma.
  • Houers vol blomsaailinge en ’n sak kompos.
  • Vir dié wat daarvan hou: sementornamente vir die tuin soos ’n haas, padda, ensovoorts.
  • In plaas van die konvensionele kerskous, gebruik dié slag ’n paar tuinstewels, tuinklompe of ’n mooi gieter om ’n geskenk in te sit.
  • Draai tuinhandskoene, pakkies saad en ’n troffel in ’n mooi teedoek met ’n vrolike blommotief toe.
  • ’n Goeie keuse vir die ywerige onkruiduittrekker, is ’n knielmatjie en handgereedskap van goeie gehalte.
  • ’n Tuindagboek of -almanak vir die tuinier sodat hy of sy elke plantseisoen vooruit kan beplan en die bloeityd van plante, bome en dies meer kan aanteken.
  • Boaan die lys van eetbare geskenke, is natuurlik brandrissies (chillies). Kies uit ’n verskeidenheid van warm tot baie warm. Onthou net dat sommige rissieplante tot twee meter hoog kan groei en dus nie ornamenteel is nie. Oorweeg ook “berry delicious” in die vorm van aarbeie en bloubessies.

Maak dié somer korte mette met die voorbereiding van jou feestuin en hou die beste tuinpartye ooit!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.