Die lewe is ’n lushof – veral in Desember

Desember is die ideale tyd om saam met familie en vriende in die tuin te kuier. (Foto: Life is a garden)

Die tema en atmosfeer vir hierdie maand is “vakansie”, oftewel “somer, son en see” as jy ’n Suid-Afrikaner is. Desember is vir baie mense sinoniem met luilekker dae in die koelte van ’n mooi tuin. Vir ander is dit weer pure pret as hulle vir ’n slag kans kry om hul binnenshuise, patio- en tuinplante ’n bietjie liefde en aandag te kan gee.

Dis nogal opwindend om in die feestyd, wanneer gesinne en families graag saamkuier, jou huis, patio en tuin bietjie op te kikker. Dalk kan jy ’n skimp of twee laat val van mooi tuingoed by ’n tuinsentrum waarop jy lankal jou oog het – tuingereedskap, -bybehore of plante is ’n wonderlike geskenk wat vir baie jare vreugde sal verskaf. Onthou, die lewe is ’n lushof, betrek dus sommer jou hele familie!

Eetbare plante

Voeg hierdie vakansie ’n handvol energie by jou disse met die volgende kruie:

Ment: ’n Takkie mentblare is tans ’n gewilde smaakbyvoeging in Mojito-mengeldrankies, jenewer en ander tuisgemaakte vrugtedrankies asook byderwetse skemerkelkies. Mentblare is baie geurig met ’n vrugtige, aromatiese geur.

Dié grondbedekker wat baie maklik groei, hou van goed gedreineerde grond en gereelde natmaak. Hierdie geurige kruie is onontbeerlik in die kombuis en word dikwels in die uitleg van ’n tuin gebruik.

Daar is ’n groot verskeidenheid soorte ment om uit te kies, waarvan die volgende die gewildste is:

  • Tuinment (spearmint) vir soutige disse;
  • Peperment vir nagereg;
  • Appelment vir drankies;
  • Sjokoladement saam met likeur; en
  • Tuinment/kruisement in slaaie, saam met lamsvleis, ertjies, murgpampoentjies, vars boontjies, marinades, vrugteslaaie, koue sop, kaas, en meer.

Besoek jou plaaslike tuinsentrum om hierdie en ander variante ment te sien.

  • Wenk: As jy van disse met ’n byt daarin nou, kan jy Viëtnamese koljander (hot mint) probeer.
  • Goed om te weet: Jong blare is mos maar altyd geuriger as ouer blare. Pluk gereeld takkies en blaartjies af sodat dit die groei van nuwe lote kan stimuleer.
  • Het jy geweet? Hoewel dit beter (en smaakliker) is om vars kruie te gebruik, kan takkies vir ’n paar dae in water gesteek word om hul varsheid te behou en mentblare kan gevries of lugdroog gemaak word.

Roosmaryn: Baie gewild! As ons ’n roosmarynplantjie of twee in die tuin gehad het, sou ons dié geurige kruie beslis meer dikwels in ons disse gebruik het – soos in geroosterde groente, pluimvee, lamsvleis, bredies en sop. Hierbenewens gee roosmaryn ook ’n lieflike soutige smaak aan vegaanse en vegetariese disse.

  • Wenk: Gebruik vars roosmaryntakkies of hang dit in bondeltjies om droog te word en bêre in ’n lugdigte houer in die kas.
  • Goed om te weet: Roosmaryn is ’n pragtige immergroen struik met klein blou blommetjies. Mens kry ook die ongewone Rosmarinus officinalis (vir prostaatkanker) wat ook McConnell’s Blue genoem word en dan die lang regop Rosmarinus officinalis, met sy helderblou blomme wat as Tuscan Blue of braairoosmaryn bekendstaan omdat sy lang geurige takkies as sosatiestokkies gebruik kan word.

Die lang regop Rosmarinus officinalis, met sy helderblou blomme staan as Tuscan Blue of braairoosmaryn bekend omdat sy lang geurige takkies as sosatiestokkies gebruik kan word. (Foto: Life is a garden)

Dille: Dille (Anethum graveolens) is ’n wenner as dit by tuinuitleg kom weens sy fyn veeragtige blaartekstuur. Dit is ’n gunsteling in veral Europese en Asiatiese disse en onontbeerlik saam met vis oor die kole. Dille word normaalweg gebruik om die geur van salm, aartappels, bredies, sop, groenboontjies en souse met ’n jogurtbasis op te kikker. Dit word ook in gepekelde kos gebruik. Probeer gerus bietjie dille by jou volgende somerslaai vir daai tikkie eksotiese smaak.

  • Wenk: Saai dillesaad elke paar weke tot in die vroeë somermaande. Op dié manier het jy dille gereed vir gebruik vir jou atjars en alles wat jy wil piekel – dit sal jou ook ’n deurlopende voorraad verskaf vir wanneer jy ook al besluit om jou groente in te lê.
  • Baie interessant: Dille is ’n draerplant (gasheer) vir die ruspe van die swart swaelstertskoenlapper en lok voordelige insekte, soos perdebye en ander roofinsekte na jou tuin.

Kom ons span vir tuinelfies in want alle tuinfeetjies en -kabouters is altyd welkom in die tuin:

  • Karlienblom-hangmatte: Gebruik twee potte met karlienblomme (poinsettias) en prakseer ’n selfgemaakte hangmat tussen die twee potte. Laat Elfie lekker daarin lê terwyl hy die feestelikhede om hom dophou (en sommer ook ’n ogie hou oor dié wat hulle nie kan gedra nie).
  • Waatlemoene te eet: As jy jou waatlemoensaad vroeg genoeg geplant het, behoort jou waatlemoene nou reg te wees vir pluk – ’n heerlike koue nagereg vir almal (met genoeg oor vir Elfie!).
  • Gee Elfie ’n Maartlelie-leer (amaryllis): Kyk hoe ver Elfie teen dié blomrank kan opklim. Hy blyk ’n kranige klimmer te wees!

Wat van ’n anderste soort Kersboom?

Kersfees is ’n omgeefees, ongeag jou godsdienstige oortuigings, en as jy boonop van die sentiment en die gee van geskenke hou, is daar vir ’n ieder en elk ’n boom. Buitendien, wie geniet nie die ritueel van versiering en gepaardgaande vreugde op die gesigte van almal rondom jou nie?

Daar is soveel soorte om uit te kies: van groot tot klein nagemaakte Kersbome asook die gewilde natuurlike bome. Ons hoef egter nie een van die tradisionele bome te kies nie; laat ons dus na ’n paar alternatiewe kyk:

  • Die Bosveldkatjiepiering (Bushveld gardenia oftewel Gardenia volkensii) is ʼn boomstruik met blink groen blare en interessante boogvormige takke. Sy wit blomme maak in die nag oop en het ’n lieflike soet geur en mooi eiervormige vrugte. Die Bosveldkatjiepiering groei stadig en is ideale fokusplante vir kleinerige tuine, stoepplante of selfs as bonsaiboompies.
  • Henkel-se-geelhout (Podocarpus henkelii) is ’n inheemse, piramiedvormige boom met donkergroen naaldagtige hangende blare – ’n goeie keuse as veeldoelige boom.
  • Indien jy eerder ’n kleiner boom vir jou tafel vir hê, is die lemmetjiegroen naaldboom (Cupressus Goldcrest) ’n treffende binnenshuise of stoep-Kersboom wat later op ’n sonnige plek in die tuin uitgeplant kan word of selfs in die pot gehou kan word tot volgende jaar.

Besoek gerus jou naaste tuinsentrum om die groot verskeidenheid Kersbome te besigtig. Jy mag selfs Kersboomliggies en -dekor by party vind.

Wees kreatief

Daar is heelwat plante wat jy kan gebruik om jou eie vars dekor te maak. Hier volg ’n paar maklike wenke as laaste afronding aan die Kersfeesgees wat jou familie en vriende beslis sal beïndruk.

  • Gebruik die buigbare ente van ’n inheemse wilgerboom (Salix mucronate) om ’n pragtige vars krans te maak. Versier dit met dennebolle of Kersdekor as ’n Kerskrans vir jou voordeur of opvallende fokuspunt op jou Kerstafel.
  • Die blare van Leyland-naaldbome (Cupressus leylandii), slagtersbesems (Ruscus aculeatus) en wasblomme van die Geraldton (Chamelaucium uncinatum) is perfek vir enige soort dekor met blomme. Jy kan blommerangskikkings as tafellopers gebruik of om kerse in ’n Kerskrans rangskik of selfs Kersdekor byvoeg.

Indien jy nie hierdie plante in jou tuin het nie, maak gerus ’n draai by jou plaaslike tuinsentrum. Onthou, as jy eers hierdie plante in jou tuin het, het jy altyd vars plante vir dekor.

Wat is nuut by jou plaaslike tuinsentrum?

Gebruik hierdie vakansie om jou plaaslike tuinsentrum te gaan besoek. Wees op die uitkyk vir nuwe kleure en ’n verskeidenheid van mooi meerjarige plante, soos:

  • Nieskruid (Achillea millefolium, oftewel “yarrow”) met sy fyn, varingagtige blaartjies en golwende plat multiblomme;
  • Die Kaapse foksia, oftewel fuchsia (Phygelius capensis), het pragtige koponderstebo trompetvormige trosse blomme wat jou laat dink aan ’n skamerige meisie.
  • Lobelias (Lobelia cardinalis) is opvallende rooi, lang regopblomme, ideaal vir daardie klam plek in jou tuin.
  • Skildblomme (Penstemons) is ’n veeljarige plant met pragtige spiraalblomme wat maklik groei.
  • Magrietjies (Argyranthemums) groei baie dig en een plant is met honderde knoppies en blommetjies oortrek… geen wonder dit word “flower power” genoem nie.

Wenk: Soos met alle nuwe dinge, is nuwe plantsoorte op verskeie maniere beter as hul voorgangers, soos om meer bestand teen plantsiektes te wees, langer te blom, groter blomme te dra of self ’n nuwe blomkleur te hê. Moenie huiwer om die verkoopsman by jou plaaslike tuinsentrum te vra om jou al die nuwe plante vir die seisoen te wys nie. Jy sal nie spyt wees nie.

Kom ons kyk gou hoe jou tuin tans daaruit sien

Desember is die ideale tyd om nuwe idees vir jou huis en tuin te oorweeg. Jy kan met jou veranderings en verbeteringe reeds gedurende hierdie vakansie begin, of jy kan dit as een van jou Nuwejaarsvoornemens aanpak.

Bied jou tuin alles wat jy wil hê? Dink gerus aan hoeveel mense jou tuin geniet en waarvoor jy die ruimtes tans gebruik. Benut jy jou gras en plantbeddings?

Hier is ’n paar idees om jou aan die dink te sit:

  • Is jou grasperk groot genoeg vir jou kinders om daarop krieket te speel of vir jou viervoetkinders om rond te kerjakker? Grasperke bied daardie heilsame “groen” gevoel en is die perfekte ruimte vir pret en speletjies, veral wanneer die familie saamkuier. As jy dalk nie kinders of diere het nie, oorweeg gerus ’n laeonderhoudtuin met gruisklippe in plaas van ’n grasperk wat baie water en aandag moet kry.
  • Wat van ’n boomhuis vir die kinders, ’n pophuis in die tuin of selfs ’n klein fort? Jy kan dié ruimte met prettige tuinornamente of dalk ’n klein bruggie versier, of selfs die kleingoed so ver kry om helder blomme en groente wat maklik groei, te plant.
  • Het dit tyd geword om te dink aan ’n gesonder leefstyl en om jou eetbare tuinplante na die hooftuin te verskuif? Absoluut! Deur kool en spinasie in jou tuinbeddings te plant, sal ’n groot verskil maak. Olyfbome en dwergsitrusbome is nogal gewild in plaas van tuinornamente. Meer groente in jou tuin, beteken meer om op te dis én om aan ander honger magies uit te deel.
  • Is daar ’n plekkie in jou tuin wat soebat vir ’n knus bankie of hangmat? Soek vir ’n skadukol waar jy rustig kan lees of ’n plek waar jy ’n skemerkelkie kan geniet terwyl jy die sonsondergang kan bewonder. Voorafvervaardigde tuinboë en oulike gazebo’s is ook beskikbaar om ’n intieme ruimte in ’n groot of klein tuin te skep.
  • En wat van ’n vuurmaakput vir die braai van malvalekkers, ’n bietjie tromslaan en sing onder die Afrika-uitspansel, stories om die vuur en die lag en samesyn van vriende.
  • Daar is ook niks wat die rustige en sussende geluid van ’n waterfokuspunt kan ewenaar nie. Daar sal beslis ’n plekkie in die tuin wees wat jy al lankal ’n bietjie lewe wou gee – iets waaroor jy nooit spyt sal wees nie. Jou plaaslike tuinsentrum sal ’n groot verskeidenheid modelle hê waaruit jy kan kies.

Wenk:

’n Gewone lagie verf aan die binnekant van jou tuinmure kan ’n groot verskil aan die atmosfeer van jou tuin maak. Donker olyfgroen skep die illusie dat daar geen mure is nie.

Geniet hierdie Desember saam met jou familie en vriende in jou tuin. Koester elke oomblik asof jou lewe werklik ’n lushof is en plant blomme en voedsel waar jy ook al is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.