Foto’s: Jou ideale bestemmings vir Tuindag

Die Vergelegen-opstal. Daar word jaarlikse aanplantings in die agthoekige tuin gedoen en dit is ook hier waar groente en kruie geplant word. (Foto: Verskaf.)

Suid-Afrikaners vier Tuindag hierdie Sondag as ʼn manier om die tuingereedskap vir een dag te bêre en hulle te verlustig in die pragtige groen van ʼn tuin waarin daar heeljaar gewerkskaf word.

As jy inspirasie soek vir jou eie tuin, of dit net begeer om rustig te wandel tussen pragtige blomme en statige bome, kan ʼn uitstappie na die Vergelegen-wynlandgoed in Somerset-Wes net die regte ding wees om te doen.

Hierdie bekende 320 jaar oue eiendom is verlede jaar as ʼn provinsiale erfenisterrein verklaar. Dit bevat ʼn pragtige gerestoureerde opstal omring met 18 uitgebreide tuine, met van die oudste bome in die land.

“Ons tuinbouspan het hard gewerk om te verseker dat ons tuine hierdie seisoen sal inspireer en besoekers verheug. Ons het ook ons kos- en wynkeuses bygewerk. Jy is welkom om ons tuine vir ʼn fynproewersmaaltyd vir twee te besoek, of net saam met jou gesin onder die skaduryke bome met ʼn toebroodjies en voupakkies (wraps) te ontspan,” sê Wayne Coetzer, die besturende direkteur van die landgoed.

Coetzer sê daar is tien tuinbou hoogtepunte om te sien:

  1. Kom verwonder jou aan die Groot Vyf in die tuin. Dit is nou die vyf reusagtige kamferbome wat deur die voormalige Vergelegen-eienaar Willem Adriaan van der Stel voor die opstal geplant is. Dit is in 1942 tot ʼn nasionale gedenkwaardigheid verklaar.
  2. Vergelegen is die tuiste van Afrika se enigste internasionale kamelia-tuin van uitnemendheid en is een van net 39 sulke tuine in die wêreld. Geniet die laaste blomme van die pienk, wit en rooi variëteite wat gewoonlik gedurende wintermaande blom.
  3. Die wynlandgoed spog ook met ʼn kruie- en groentetuin, wat ʼn integrale deel van die geskiedenis van Vergelegen is.
  4. ʼn Hol ou Engelse eikehoutboom, wat ongeveer 300 jaar oud is, is vermoedelik die oudste lewende eik in Afrika.
  5. Die Lourensrivier is die enigste Suid-Afrikaanse rivier wat op sy eie as ʼn beskermde natuurlike gebied verklaar is. Die rivier is iets om te aanskou na die goeie winterreën.
  6. Steek die rivier op die swaaibrug oor en stap verder om ʼn majestueuse geelhout te sien wat na raming tussen 150 en 400 jaar oud is.
  7. Stap die roete van konings. Die Britse koningshuis het die landgoed al dikwels besoek sedert koning George VI en sy gesin dit in 1947 met ʼn informele kuiertjie besigtig het.
  8. Daar is ʼn monster van ʼn wit moerbeiboom wat naby die opstal groei. Dit is ʼn lewende herinnering aan Van der Stel se ambisieuse droom om ʼn sybedryf in die Kaap te vestig.
  9. Wandel tussen die welige uitgestrekte kamferbome, wat voortgeplant het uit die oorspronklike reuse-kamfer wat drie eeue gelede deur Van der Stel geplant is.
  10. ʼn Uitgestrekte plaat helder Afrika-madeliefies naby die Stables-restaurant sal ʼn wonderlike herinnering aan jou besoek bied as jy eers ʼn foto vir jou Instagram-rekening hier geneem het.

Vergelegen kan Maandae tot Sondae van 09:00 tot 17:00 besoek word. Toegangsgeld is R10 per volwassene en R5 vir pensionarisse en skoliere. Besoek www.vergelegen.co.za vir meer inligting.

ʼn Hol ou Engelse eikehoutboom, wat ongeveer 300 jaar oud is, is vermoedelik die oudste lewende eik in Afrika. (Foto: Verskaf.)

Ludwig se roosplaas:

Ludwig Taschner is Suid-Afrika se bekendste roosboer. Sy roosplaas bied jaarlikse ‘n Lenteroosfees in Oktober aan, wat ‘n lushof vir die oog is. (Foto: LudwigsRoses/Instagram.)

Gautengers kan op hul beurt gerus hierdie naweek ʼn draai op Ludwig se roosplaas in die noorde van Pretoria gaan maak vir die jaarlikse Lenteroosfees wat Sondag tot ʼn einde loop.

Die plaas het hierdie jaar besluit om ʼn eenvoudige weergawe van die skou vir ʼn week lank aan te bied. Individuele rose word in ʼn bottels en vase op lang tafels uitgestal.

Hierdie roosplaas is op enige gewone dag ʼn skouspel van kleur en geur, maar met die Lenteroosfees is dit opnuut ʼn lushof vir al die sintuie.

Kom maak ʼn draai op die plaas en maak kennis met die honderde variëteite van rose.

Toegang is gratis en die Rose Kitchen sal die magies voed met ʼn verskeidenheid van maaltye en spesiale disse en drankies wat van rose gemaak is.

Besoek Ludwig Rose se webwerf vir meer inligting hieroor.

Botaniese tuine

Indien jy steeds na ʼn plekkie soek waar jy kan ontspan en die groen van ʼn besonderse tuin wil geniet, kan jy gerus een van Suid-Afrika se 13 nasionale botaniese tuine besoek.

Die tuine spog nie net met talle inheemse diere, insekte en voëllewe nie, maar dit is ook ʼn vertoonkas van ʼn spesifieke streek se eie plantspesies. Die erfenis van Suid-Afrika se uiteenlopende en unieke planteryk is net so ʼn belangrike deel van ons kultuur en moet vir toekomstige geslagte bewaar bly.

Boonop stoot talle bladwisselende bome nou hulle eerste groen blaartjies uit en die trekvoëls van Suid-Afrika het pas na die winter weer plaaslik kom nes skrop – dit is voorwaar die perfekte tyd vir ʼn besoek aan jou naaste botaniese tuin.

Volg die hutsmerk #SANBISpringFestival op Facebook, Twitter of Instagram, of besoek die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut (Sanbi) se webwerf vir meer inligting oor dié tuine.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.