Foto’s: Lê jou eie eetbare tuin aan

(Foto: Verskaf.)

Op Wêreldvoedseldag kan jy dit gerus oorweeg om ʼn stylvolle groentetuin aan te lê wat nie net sal dien as ʼn funksionele voedselbron nie, maar ook ʼn ontspannede koel hoekie kan wees waar jy jou eetgoed saam met jou familie en vriende kan geniet.

Die beste deel van hierdie idee is hoe maklik dit is om hierdie tuin uit te lê.

Vertikale landskapelemente soos ʼn gazebo gee jou tuin daardie kamergevoel in die ope lug. Met ʼn gemaklike bankie kan dit jou gunsteling-plek word om te sit en te ontspan. Dit bied ook die ideale struktuur vir ʼn klimroos. Die driehoeke van hout verskaf bykomende vertikale elemente en is ʼn stut vir klimplante. Jy kan enige ander pilaar of raam gebruik om ʼn tikkie hoogte aan jou ruimte te verskaf. In die tuin wat as voorbeeld gebruik word, is braairoosmaryn gebruik om die driehoeke mee te vul, maar bone, ertjies en tamaties kan net so goed werk.

Die verskillende vlakke in dié tuin se ontwerp bied ʼn slim manier om enige ruimte groter en interessanter te laat lyk.

Die sterk blou kleur op die agtermuur is dramaties en kontrasteer met die kalkkleurige gazebo en hout driehoeke. Die kleur help om die plante te laat uitstaan, veral die argitektonies gevormde grys blare van die artisjokke in die bedding teen die muur. Die blou blomplante in die tuin vorm ʼn eenheid met die kleur van die muur terwyl die kolle geel en goudkleurige blomme aksentpunte in die tuin word. Die pienk kandelaar en kussings is opvallend en trek ʼn mens se oog na die sitplek in die tuin.

Wenk: Herhaling is ʼn sterk ontwerpbeginsel wat dikwels oor die hoof gesien word. Kyk hoe die blik- en terracotta-potte tussen die houtplanters herhaal word. Hierdie herhaling help om die algehele voorkoms van die tuin saam te bind.

(Foto: Verskaf.)

Hier is talle eetbare plante in die ontwerp van die tuin ingesluit.

Het jy geweet rose is verwant aan appels, appelkose, pere en perskes? Rose is amper heeltemal eetbaar. Moenie toelaat dat die dorings op hul stamme jou mislei nie, dit is ook eetbaar. As jy vars roosblare in ʼn gereg of drankie wil gebruik, kan jy van die ouer blombare verwyder en hoef nie die hele blom hiervoor te stroop nie.

Kroonblare kan gebruik word vir:

  • Kleurvolle nageregversierings of kan by ʼn slaai gevoeg word vir kleur.
  • Blare kan versuiker word en as ʼn selfs smaakliker versiering gebruik word.
  • In ʼn somersorbet gekap word of in ysblokkies gevries word.
  • Die blare kan gebruik word in ʼn stroop, jellies, geparfumeerde botter of soet toebroodjiesvulsels.

“Braairoosmaryn”, ook bekend as die Tuscan Blue-roosmaryn, is ʼn regopgroeiende roosmaryn wat tussen 1,2 en 1,5 meter hoog groei. Die roosmaryn het lang, sterk, reguit stengels wat as ʼn sosatiestokkies gebruik kan word.

Die sny en stroop van die roosmarynstengels is ʼn prettige projek waarmee jy sommer die jongspan kan besighou. Of jy nou vleis, groente, spanspek of aarbeie gebruik, die geur van roosmaryn word op ʼn subtiele manier in die kos uit die tuisgemaakte sosatiestokkies versprei.

Vars roosmarynblare en stengelpunte met jong blare kan in talle geregte gebruik word:

  • Aartappels en gebraaide groente.
  • Hoender, wildsvleis, lam en kalfsvleis.
  • Koekies
  • Slaai, souse, kruiebotter en olie.

Wenk: Daar is regopgroeiende roosmarynplante met pienk en wit blomme, ʼn kruipende roosmaryn en die ou gunsteling in meeste tuine naamlik McConnel’s Blue.

Hoewel die gebruik van vinkel niks nuuts in Italiaanse kookkuns is nie, is dit deesdae een van die gewildste kruie om in voorgeregte tot nageregte te gebruik. Die blare, blomme, sade en die plant se bolvormige basis is alles eetbaar. Dit word rou of gaar geëet en het ʼn subtiele anys- of dropsmaak. Florentynse vinkel (Foeniculum vulgare) is ʼn pragtige plant met fyn, varingagtige blare en klein heldergeel blommetjies. Die varingblare is ʼn wonderlike kontras vir plante met groot blare. Dit is maklik om te kweek en word dikwels onder rose geplant om plantluise te beheer aangesien dit die eerste keuse vir die luise sal wees.

Wenk: Bronsvinkel het ʼn pragtige, effense brons kleur, wat mooi in jou tuin en kos sal vertoon.

Geen eetbare tuin sal ooit volledig wees sonder basiliekruid in die somer en viooltjies in die winter nie. Daar is soveel heerlike nuwe basiliekruidvariëteite wat in Oktober gesaai of gekoop kan word. Die opvallende blommetjies van die Viola hederacea of Australiese viooltjies is nog ʼn pragtige eetbare versiering. Laastens is die wonderlike Meyer-suurlemoen, ʼn dwergsoort suurlemoenboom, ideaal vir klein tuine of groot potte.

  • Foto’s is met die vergunning van Garden World se skoutuine en Strylitzia Landscapes verskaf.
  • Besoek Life is a Garden se webwerf vir nog tuininspirasie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.