Foto’s: Skep ’n sensoriese tuin vir jou kinders

(Foto: Life is a garden.)

Die landwye staat van inperking het beslis beklemtoon hoe noodsaaklik en waardevol dit is vir liggaam en gees om tyd buite deur te bring. Hierdie voordele geld natuurlik ook vir die welstand van ons kinders.

Augustus is die ideale tyd om te belê in ʼn langtermyn-leerprojek in jou eie agtertuin met ʼn bietjie hulp van moeder natuur. Skep vir jou kinders ʼn sensoriese ervaring, gevul met avontuur en verkenning, en moedig hulle so aan om meer tyd buite deur te bring.

ʼn Tuin wat sigbaar interessant lyk, bevat ʼn verskeidenheid van kleure, teksture en enkele interessante aksente om die nuuskierigheid van enige agie te prikkel. (Foto: Life is a garden.)

Sig: ʼn Tuin wat sigbaar interessant lyk, bevat ʼn verskeidenheid van kleure, teksture en enkele interessante aksente om die nuuskierigheid van enige agie te prikkel. Bou ʼn hindernisbaan deur boomstompe oor ʼn paar gevaarlike lawa-agtige vetplante en dwerggras te plaas. ʼn Pophuis of skatkis onder ʼn boom kan die verbeelding van enige kind verder aangryp.

Plante om van te kies: Die rooiblaarplakkie (Kalanchoe sexangularis) is ʼn geharde vetplant wat goed sal werk as plaasvervanger vir lawa in jou tuin. Sonneblomme (Helianthus annuus) is groot, vet en pragtige snyblomme. Watergras (Starlight grass of Anthericum) sorg vir tekstuur en kontras en is nog ʼn geharde stryder vir enige tuin.

Bou ‘n hotel vir bye en ander goggas, wat sal help om klanke na jou tuin te lok. (Foto: Life is a garden.)

Klank: Om natuurlike klankstimulasie in jou sensoriese tuin in te bou is makliker as wat jy mag dink. Maak jou eie ratel met droë sade of klippe in ʼn leë speserybottel. Dit sal ure lange plesier vir kinders verskaf. ʼn Windklokkie kan ook subtiele en kalmerende klanke in ʼn laatmiddag-winterbries verskaf. Alternatiewelik kan jy ʼn hotel vir bye en ander goggas in jou tuin bou.

Gelukkig is dit maklik om die reuksintuig te prikkel met ʼn groot verskeidenheid van aromatiese plante wat beskikbaar is. (Foto: Life is a garden.)

Reuk: Help jou kind om stil te staan en die blomme te ruik – dit help om ʼn etos van waardering en bewaring by ʼn nuwe generasie te kweek. Gelukkig is dit maklik om die reuksintuig te prikkel met ʼn groot verskeidenheid van aromatiese plante wat beskikbaar is. Jy kan ook vir jou kinders ʼn Doen-dit-self-potpourri-stasie bou waar hulle hul reuksintuig verder kan ontwikkel en vertroud raak met organiese geure van blomme.

Plante om van te kies: Oorweeg dit om ʼn maanblom (Angel’s trumpet of Brugmansia) te plant vir kinders wat daarvan hou om eerstehands self met die neus te eksperimenteer. Frangipani (Plumerias, Pua melia) is net so mooi soos hul parfuum. Om die blomblare van sterjasmyn (Trachelospermum jasminoides) te pluk is fantasties vir die ontwikkeling van fyn motoriese vaardighede. Kruie soos roosmaryn, laventel en kruisement sal ook staatmakers in die afdeling van jou sensoriese tuin wees.

Só kan hulle ook sommer terselfdertyd ’n bietjie tuisgekweekte goedheid veilig verken. (Foto: Life is a garden.)

Smaak: Groepeer eetbare blomme, bessies en kruie saam in ’n groot houer, sodat kinders veilig en maklik toegang tot die ontwikkeling van hul smaaksintuig het. Só kan hulle ook sommer terselfdertyd ’n bietjie tuisgekweekte goedheid verken. Oorweeg dit ook om ʼn sjefstasie in die tuin in te bou wat beteken kinders kan hul smaakknoppies gebruik en ontwikkel. Laat die kinders kruie vir aandete pluk, gee hulle die verantwoordelikheid om die eetbare tuin nat te maak, of gee hulle net vrye teuels om heerlike kruie-, bessie- en modderkoekies vir die feetjies en kabouters voor te berei.

Plante om van te kies: Vars basiliekruid is ’n smaakontploffing en boonop ʼn uitstekende manier om klein palette te stimuleer. Appelliefies (Ribes uva-crispa) is heerlik om te pluk en boonop gevul met voedingstowwe. Wilde malva (Pelargonium culallatum) is ’n kleurryke lekkerny, want wie wil nou nie ’n blom eet nie! En daar is natuurlik aarbeie wat selfs die neusoptrekkers met die ergste kosfiemies sal behaag.

Lamsoor (Stachys byzantina) is ’n wonderlike keuse vir ʼn plant met ʼn sagte gevoel. (Foto: Life is a garden.)

Tassintuig: Beloon jou kind se nuuskierigheid en behoefte om aan alles te vat. ʼn Ry pype van verskillende groottes en hoeke teen die muur bied eindelose geleenthede vir motorwedrenne en ure lange avontuurtogte. Stel jou kinders aan nog meer teksture bloot met ʼn fontein wat water spuit en plante met gladde, growwe, sagte of selfs stekelrige blare.

Plante om van te kies: Die meeste aalwyne is mooi en stekelrig terwyl dit gehard genoeg is om die meeste opvoedkundige ondersoeke te weerstaan. Lamsoor (Stachys byzantina) is ’n wonderlike keuse vir ʼn plant met ʼn sagte gevoel. Plant ʼn katdoring of katstert (Asparagus plumosus) vir ʼn sagte rankplant wat tussen jou pypspelmuur kan oprank.

Ons weet dit is soms ʼn uitdaging om kinders die hele dag by die huis te hê, en dit dra beslis by tot jou eie stresvlakke. Laat moeder natuur ʼn bietjie by jou oorneem deur te belê in die prikkelende speelterrein – dit gaan nie net jou kind se ontwikkeling bevoordeel nie, maar ook die druk van jou afneem. Van ʼn eetbare tuin tot windklokke en verraderlike lawavloere, daar is iets vir elke kind se belangstellingsvlak en sensoriese voorkeur – en as jy dit tot stand bring, sal hulle dit kom ontdek!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.