Gee jou snoeiskêr vrye teuels

Snoeibome sorg vir ‘n treffende tuin. (Foto: Life is a Garden)

Gaan slyp jou snoeiskêr en spog vanjaar met ʼn stylvolle tuin wat sommer ook jou kreatiewe kant na vore kan bring.

Maak só om ʼn vormsnoeikunswerk te skep:

Bolvorm (lollipop): Kies ʼn lang, bosagtige plant met ʼn sterk hoofstam. Stut die plant behoorlik om te verseker dit groei mooi regop. Begin vorm aan die kruin gee deur stammetjies terug te sny en alle ander groeipunte aan die hoofstam te verwyder.

Plantkeuses: Abutilon, Anisodontea (sandroos), Brunfelsia (ʼn verbleikblom of wat in Engels bekend staan as ʼn yesterday, today and tomorrow) en Murraya exotica (lemoenjasmyn).

Poedelvorm: Gaan vir ʼn dun, maar bosagtige plant en stut dit goed. Visualiseer waar die digte blaargroei die drie poedelvorm-bolle gaan vorm. Vorm die balle op die basis en raak ontslae van al die ander groeipunte.

Plantkeuses: Duranta “Sheena’s Gold”, lourierkersie, sipres en bosboekenhout.

Dun konifere werk goed vir spirale. (Foto: Life is a Garden)

Spirale: ʼn Dun konifeer sal goed werk – en is net die ding om jou vaardighede te toets. Jy gaan ʼn lang, sterk stam nodig hê waarom die plant gedraai sal word en wat eindelik die spirale sal vorm. Rond die vorm af deur die stam rondom die draaie skoon te hou en só te verseker dat die spiraalvorm behoue bly.

Plantkeuses: Juniperus scopulorum “Skyrocket” en alle ander dun konifere.

Probeer gerus ook dié snoeistyle: parterre, doolhof, labirint, knooptuine, ranktralies, rame, heinings, vorms of selfs skattige diere.

Fuchsia-boompies tref die oog. (Foto: Life is a Garden)

Nog lekker snoeiplante met digte blare: Duranta gold, syzygium paniculatum (Australiese waterpeer), wildevy, ligustrum undulatum, asook suurlemoen- en lemmetjiebome. Voed die plante maandeliks met 2:1:2-kunsmis en gooi ʼn deklaag van organiese materiaal om die basis.

Oefen gerus jou snoeivaardighede op vinnig groeiende en bekostigbare roosmarynbosse in planthouers – of waag sommer net ‘n kans. (Foto: Life is a Garden)

Bosse wat blom: Solanum (nastergal), fuchsia, freylinia, hibiskus, westringia. Voed plante maandeliks met 3:1:6-kunsmis. Sodra die nuwe lote begin uitkom, sny dit terug om ʼn voller, meer kompakte vorm te verseker.

Oefen gerus jou snoeivaardighede op vinnig groeiende en bekostigbare roosmarynbosse in planthouers.

En as jy regtig sukkel? Vat ʼn kortpad. Daar is heelwat lewensgetroue, instandhoudingsvrye, nagemaakte vormbome as patio- en binnenshuise dekor beskikbaar.

  • Vir meer tuinwenke en inspirasie, besoek gerus co.zaof sluit by die geselsgroep op die Facebook-blad aan.

Die “lollipop”-boompies maak ‘n stelling teen die wit muur. (Foto: Life is a Garden)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.