Hierdie ses plaaslike binnenshuise plante is wêreldwyd gewild

Binnenshuise plante help ook om die lug te suiwer; dit lyk nie net mooi nie, maar dit laat enige vertrek ook onmiddellik vars lyk. (Foto: Inna Yatsun/Unsplash.)

Suid-Afrika is geseënd met ʼn oorvloed blomme en plante – ons land spog nie net met sowat 21 000 plantspesies nie, maar van die ses erkende blommekoninkryke kan jy een hiervan in die Wes-Kaap se eie blommestreek vind. Die plantdiversiteit van Suid-Afrika is so groot dat daar meer plantspesies in die Tafelberg Nasionale Park is as in die hele Verenigde Koninkryk.

Met die jongste binnehuisversieringstendense is binnenshuise plante weer aan die voorpunt en oral sien jy hangende macramé-planthouers en terrariums. Plantify meen die herlewing van binnenshuise plante is deel van ʼn breër tendens van mense wat poog om nader aan die natuur wil leef.

Binnenshuise plante help ook om die lug te suiwer; dit lyk nie net mooi nie, maar dit laat enige vertrek ook onmiddellik vars lyk.

Dit is nie net Suid-Amerikaanse plante wat gewilde binnenshuise plante is nie, Suider-Afrikaanse spesies word ook verkies juis omdat hulle min sorg (en dikwels ook minder water) nodig het. Ons land se uiteenlopende en wisselende klimaatstoestande maak dat die plante wat hier groei veerkragtig en gehard is. Dit is hierdie eienskappe, saam met die plante se unieke skoonheid, wat plaaslike plante die eerste keuse van beginners sowel as kundige binnenshuise tuiniers maak.

Hier is van die Suid-Afrikaanse gunstelinge:

1. Skoonma-se-tong (Sansevieria)

Skoonma-se-tong (Sansevieria). (Foto: Succulents Today.)

Sansevieria kom wyd oor Afrika, van Wes-Afrika tot Madagaskar, voor en sommige van die 70 variëteite kan ook in Suider-Afrika gevind word. Hierdie immergroen plant staan ook bekend as die Snake Plant of Bowstring Hemp.

Skoonma-se-tong is regtig maklike huisplante. Dit is verdraagsaam teenoor laer vlakke van lig of as daar vergeet word om hulle gereeld nat te maak.

2. Natalse wildepiesang (Strelitzia nicolai)

Natalse wildepiesang (Strelitzia nicolai) kan teen R219,99 by Plantland aangekoop word. Dit is ‘n jonger plant saam met ‘n pot. (Foto: Plantland.)

Hierdie plant is Suid-Afrika se eie immergroen oerwoudplant afkomstig van die kus en woude van die ooste van Suid-Afrika. Die Strelitzia nicolai groei stadig, maar kan hoogtes van twee meter of meer bereik, wat ʼn indrukwekkend kan vertoon en met geduld sal dit die getroue tuinier met pragtige wit blomme beloon.

Die Natalse wildepiesang hou van baie helder lig en dit kan selfs in direkte sonlig geplaas word.

3. ZZ-plant (Zamioculcas zamiifolia)

Zamioculcas zamiifolia is ‘n regte tawwe tienie. (Foto: WeFt/En.wikipedia.org.)

Die Zamioculcas is ʼn tropiese meerjarige plant wat inheems aan Suidoos-Afrika is. Die plante kom van die suide van Kenia tot die noordooste van Suid-Afrika voor. Die ZZ-plant het vele name: Zanzibar, Gem, Zuzu-plant, Emerald Palm en die Eternity Plant. Die Zamioculcas was nie altyd ʼn gewilde plant nie en die kommersiële voortplanting van die spesie het eers in 1996 deur Nederlandse kwekerye begin. Die kwekerye se pogings het verseker dat die spesie wêreldwyd ʼn gunstelingbinnenshuise plant geword het.

Hierdie immergroen plant is ʼn regte tawwe tienie, ʼn lugsuiweraar en sal beslis ʼn bietjie verwaarlosing af en toe kan verwerk, wat dit ʼn besondere huisplant maak. Die plant groei in min of kunsmatige lig en lae vlakke van humiditeit.

4. String-pêrels (Senecio rowleyanus)

String-pêrels (Senecio rowleyanus) (Foto: Allegro.pl/Pinterest.)

Hierdie kruipende sappige vetplant word ook soms die String of Pearls genoem en is inheems aan die droër streke van die suidweste van Afrika. Hierdie eienaardige plante met helder groen “krale” maak ʼn pragtige toevoeging tot die huis.

Dit lyk veral goed as die plant in ʼn hangende pot gekweek word sodat die plant se pêrelstringe oor die rand van die pot kan hang.

Soos met die meeste vetplante, het die plant eintlik min sorg nodig en omdat dit natuurlik water stoor, hoef dit nie gereeld water te kry nie. Wees versigtig om nie die plant te veel water te gee nie omdat dit die wortelstelsel kan laat vrot.

5. Sebra-plant (Haworthia)

Sebra-plant (Haworthia Zebra) (Foto: OurHousePlants.com/Pinterest.)

Die Haworthia is ʼn spesie van vetplante wat inheems aan Suider-Afrika is. Hulle gewildheid spruit uit die wit sebra-agtige strepe wat hul blare versier en die feit dat hulle baie maklik versorg kan word. Die Haworthia het ʼn verskeidenheid van name: Sebra-plant, sebra-kaktus, star window plant en pearl plant.

Hierdie Suid-Afrikaanse binnenshuise plant lyk veral goed in ʼn ongewone houer met interessante grondmengsels en kan ʼn wonderlik versiering op enige tafel wees.

Die sebra-plante hou van baie son of helder lig en sal vensterbanke met goeie sonblootstelling verkies. Tog is hulle ewe gelukkig in indirekte helder ligomstandighede.

6. Aalwyne (aloe vera)

Aalwyne (Aloe vera). (Foto: PlantedWell.com)

Die aalwyn-familie van plante kom oral in Afrika voor met talle van die spesies wat inheems aan Suid-Afrika is. Die meeste aalwyne is droogtebestand, wat dit ʼn wonderlike waterslim plant binne en selfs buite die huis maak.

Die aalwyn het ʼn soort subtiele elegansie en word gekenmerk deur sy vlesige, koelgroen blare. Dit is die ideale plante as jy op soek is na gedempte kleure en ʼn subtiele teenwoordigheid in ʼn vertrek.

Aalwyne is plante wat lae instandhouding en min sorg nodig het. Gee jou aalwyn genoeg water in die somer, maar maak seker dat die grond van die pot eers ordentlik droog word tussen natmaaksessies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.