Kom, doen ʼn eksperiment saam met die kleinspan in die tuin

Doen dié maklike eksperiment saam met die kinders. (Foto: Life is a Garden)

Daar is waarskynlik min dinge so terapeuties as tuinwerk – en vir die kleinspan is dit boonop ʼn gulde geleentheid om sommer ook ʼn les of twee oor die natuur en plantlewe te leer.

Doen dié maklike eksperiment saam met die kinders (jy gaan dit waarskynlik net soveel as hulle geniet).

Plantverdamping

Het jy geweet? Net soos ons wasem deur ons monde uitblaas wanneer ons asemhaal, doen plante presies dieselfde deur wat bekend staan as stomata – klein, porie-agtige strukture op die oppervlak van hul blare. Plante gebruik hul wortels om water en voedingstowwe uit die grond te absorbeer en trek dit op na hul stamme en blare.

Sommige van dié water word dan weer in die atmosfeer vrygestel in ʼn proses wat as verdamping – of transpirasie – bekend staan.

Hoekom het plante verdamping nodig?

Die verlies aan water, of dan verdamping, speel ʼn belangrike rol in die handhawing van gesonde plantgroei, waterbalans en algehele langlewendheid. Meer spesifiek transpireer plante vir drie spesifieke redes:

  1. Die opneem van voedingstowwe. Die koers van verdamping bepaal inderwaarheid eetbare plante se oes. Die waterdruktoestand in ʼn sel (bekend as turgordruk) verseker dat die plantselletjies vol en opgeswel is en is te danke aan die verdampingstroom van water van die wortels tot by die loot. In landbou is verdamping noodsaaklik om gesonde gewasse te verseker.
  2. Om hitte en droogtestres te hanteer is verdampingskoerse belangrik. Dit laat die temperatuur van blare – die grootste plantorgaan – daal. Maar as hulle te veel water verloor, kan dit tot dehidrasie van die plante lei.
  3. Die doeltreffendheid van watervloei is nou verbind aan fotosintese deur die stomata (onthou, dit is daardie klein porie-agtige strukture op die oppervlak van die blare). Heelwat van die water wat uit die grond geabsorbeer word, word vir fotosintese, die uitbreiding van selle en groei gebruik. ʼn Enkele boom van 20 meter hoog kan tussen tien en 200 liter water per dag benodig!

Transpirasie is dus ʼn baie groot deel van ʼn plant se gesonde voortbestaan.

Lus vir ʼn eksperiment om self te sien hoe ʼn plant se verdampingsproses werk? Dit is maklik.

Net soos ons wasem deur ons monde uitblaas wanneer ons asemhaal, doen plante presies dieselfde. (Foto: Life is a Garden)

Jy het nodig:

  • ʼn deurskynende plastieksakkie
  • ʼn stukkie tou
  • ʼn lekker groot blaar aan ʼn boomtak

Maak nou só:

  1. Vind ʼn plant in die tuin met ʼn tak vol blare waaroor jou plastieksakkie sal pas.
  2. Bedek die gedeelte van die tak met die sakkie en seël dit stewig rondom die stam met jou stukkie tou. Verseker jou sakke lê so ʼn bietjie afdraande sodat jy die water wat jy versamel behoorlik sal kan sien.
  3. Laat die eksperiment vir 15 minute en gaan kyk dan weer. Nou sal jy sien druppeltjies water het in die kant van die sak begin versamel. Dít is transpirasie – ʼn verstommende proses wat andersins eintlik onsigbaar sou wees. Deur die verdamping op te vang, word alle dampe wat ʼn rol speel opgevang omdat dit nie in die atmosfeer vrygestel word nie, maar in jou sakkie beland waar jy dit mooi kan sien.

Verdamping speel ʼn belangrike rol in die handhawing van gesonde plantgroei. (Foto: Life is a Garden)

Die water wat jy in die sakkie opvang is boonop silwerskoon – só skoon dat mense en diere dit kan drink. (Maar maak eers mooi seker die plant is nie giftig nie!) As jy dus eendag vir ʼn onverklaarbare rede op ʼn eiland gestrand sit, is hierdie ʼn oorlewingstegniek om jou eie water op te vang.

Wie het geweet “plantsweet” kan so veeldoelig wees?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.