Laat die reën jou tuinwerk doen

Benewens dat dit pragtige dekoreienskappe by die landskap voeg, is reëntuine supernuttig en maklik om in stand te hou. (Foto: Life is a Garden)

Ná die heerlike reën is daar kwalik ʼn beter tyd as nou om in ʼn sogenaamde reëntuin te belê. En om een te skep is eenvoudig – solank jy mooi dink oor die ligging, grond en keuse van plante.

Volg hierdie maklike gids oor hoe om ʼn funksionele reëntuin te skep om oorstromings te verhoed, te keer dat jou water wegloop én jou deel te doen om besoedeling te verminder.

Moeras of toevlugsoord

Benewens dat dit pragtige dekoreienskappe by die landskap voeg, is reëntuine supernuttig en maklik om in stand te hou. ʼn Reëntuin is egter allermins ʼn moeras en daar is ʼn paar begrippe om onder die knie te kry wanneer jy een skep.

ʼn Reëntuin is:ʼn Reëntuin is nie:
ʼn Plantgevulde, laevlakbedding of stuk tuin waarheen reënwater kan vloei en waar water binne 48 uur deur die grond opgeneem word.·        Deurlopend nat, soos ʼn moeras nie

·        Gevul met waterplante nie

·        Vol klippe gestapel nie

·        Noodwendig gekoppel aan pype of geute nie

·        ʼn Teelaarde vir muskiete nie

Deur tydelik alle inkomende water terug te hou en te filtreer, keer ʼn reëntuin dat reënwater dadelik in die munisipale stormwaterstelsel beland en dit verhoed dat besoedelde water regstreeks in strome en rivier inloop. Verstommend en net nog ʼn oorwinning vir die agterplaas-ekoaktivis.

Ligging is belangrik

Die eerste faktor om te oorweeg wanneer jy jou reëntuin beplan, is waar om jou bedding te plaas. (Foto: Life is a Garden)

Die eerste faktor om te oorweeg wanneer jy jou reëntuin beplan, is waar om jou bedding te plaas. Indien dit op ʼn gunstige plek met geskikte plante geleë is, sal jou reëntuin dien as ʼn soort spons en natuurlike filter wat alle inkomende water absorbeer en versamel. Dit word skoongemaak en perkoleer dan stadigaan in die omliggende grond in.

Deur tydelik alle inkomende water terug te hou en te filtreer, keer ʼn reëntuin dat reënwater dadelik in die munisipale stormwaterstelsel beland. (Foto: Life is a Garden)

Jy kan ook verskeie kleiner beddings skep wat reën versamel, aangesien daar geen beperking op die grootte of hoeveelheid van dié beddings hoef te wees nie.

Oorweeg veral gedeeltes in die tuin wat:

  • Natuurlik laerliggend is. Indien jou tuin so plat soos ʼn pannekoek is, kan jy ʼn sloot grawe om reënwater daarheen te herlei, of pype en sementblokke gebruik om water na die reëntuin te stuur.
  • Volle of gedeeltelike son kry.
  • Naby ʼn aflooppunt (soos ʼn geut of oprit) geleë is.
  • Minstens 3 m weg van enige geboue is (sodat fondamente nie beskadig word nie).
  • Minstens 10 m weg van septiese tenks is.

Neem ook kennis van enige moontlike ondergrondse kabels of pype en doen jou beplanning dienooreenkomstig.

Hier’s ʼn handige wenk: Voor jy lostrek en begin spit, toets of die grond doeltreffend dreineer. Grawe ʼn diep gat en vul dit met water. Kyk 24 uur later of al die water al geabsorbeer is. Indien nie, moet jy dalk ʼn ander ruimte oorweeg waar daar beter dreinering en sand (ook te koop by jou plaaslike kwekery) is.

Begin bou

Wees kreatief wanneer jy jou reëntuin ontwerp. (Foto: Life is a Garden)

Besluit oor die uitleg van die nuwe bedding en ʼn vorm wat die res van jou tuin sal aanvul. Ovaal- of niervormige beddings werk gewoonlik goed, veral as die lengte van die bedding langer as die breedte is. Dit help dat die water optimaal en eweredig wegloop.

Belê in ʼn goeie grondmengsel. ʼn Mengsel van 50% growwe sand, 25% kompos en 25% bogrond werk lekker om behoorlike dreinering te verseker.

Inheemse plante is ʼn uitstekende keuse en pas gewoonlik beter by jou klimaat aan, benodig minder kompos en het verreikende wortelstelsels wat water dieper in die grond sal instuur. Vra gerus jou kwekery wat hulle aanbeveel vir die hoeveelheid son wat jou bedding kry.

Oorweeg plante in die middel wat nie omgee vir nat voete en versadigde grond nie, terwyl die buitenste gedeelte van die bedding meer droogtebestand moet wees.

Wanneer jy tuiskom, grawe jou nuwe reëntuin uit, vul die gedeelte met die grondmengsel op en onthou om genoeg ruimte te laat vir nuwe plante, deklaag en water. Wanneer jy begin grawe, doen dit lekker diep sodat jy soveel moontlik van die grondmengsel kan inwerk.

Plant nou jou plante in die middel van die bedding, gevolg deur die meer droogtebestande plante daarrondom. Gee laatmiddag genoeg water.

Gooi laastens ʼn lekker stewige deklaag.

Hou jou tuin in stand deur gereeld op die uitkyk te wees vir enige rommel wat dalk kan opbou terwyl die water deur pype, slote of geute vloei. Op dié manier kan soveel moontlik water opgeneem word. Voed jou tuin twee keer per jaar met ʼn allesomvattende kunsmis.

Die deklaag kan enige tyd opgevul word, en op enige plek waar jy oop grond sien. Dit sal verseker dat jou plante koel in die somer en warm in die winter bly.

Reg vir reën

Jy kan ook verskeie kleiner beddings skep wat reën versamel, (Foto: Life is a Garden)

Deur sommer nou jou reëntuin aan te lê, gee jy genoeg kans vir plante om gevestig te word voor die koue kom. En wanneer dit weer reën, is jou slimtuin reg vir aksie.

Geniet sommer ook die biodiversiteit as ʼn ekstra bonus en onthou om jou voëlbaddens skoon te hou en saadjies vir jou geveerde besoekers te versamel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.