Maak tuin langs jou swembad

Maak hierdie Desember tuin om jou swembad. (Foto: Verskaf)

Indien jy ’n tuinier is, sal plante jou swembadpartytjies kenmerk. Omskep jou agtertuin in ’n palmstrand, ’n golwende grasperk of tropiese paradys. Of dalk hou jy van ’n byderwetse minimalistiese styl?

Van watter stemming jy ook al hou, Life is a Garden bied die perfekte inspirasie en idees vir tuinmaak langs jou swembad (of groterige waterpoel) wat enige somerparty iets besonders sal maak. Kies jou tema en plante wat daarby inskakel en besoek jou naaste GCA-tuinsentrum. Onthou om na die plantinstruksies te kyk en daarvolgens jou kompos en kunsmis te koop.

Die reg en verkeerd van plante langs die swembad

Die allerlaaste ding wat jy wil doen, is om oor instandhouding te stres of om alewig jou swembadfilters te moet vervang as gevolg van blare wat verrot. Om hierdie rede is daar ’n paar plante wat nie langs ’n swembad geskik is nie, asook faktore wat in ag geneem moet word wanneer jy jou swemparadys skep.

  • Verkeerd: Moenie jaarplante wat hul blare tydens herfs verloor en die swembad en omringende area bemors, plant nie.
  • Reg: Plant vrolike immergroenplante wat lae instandhouding benodig.
  • Verkeerd: Moenie sagtevrugtebome soos pruim- en appelkoosbome plant waarvan die vrugte afval en verrot nie.
  • Reg: Plant eerder bome wat nie hul blare verloor nie en hardeskilvrugte soos suurlemoene of lietsjies dra.
  • Verkeerd: Moenie blomme te na aan die swembad plant nie omdat hul kroonblare afval en gedurig verwyder moet word.
  • Reg: Kies immergroen varings en siergrasse wat nie blare verloor nie.
  • Verkeerd: Moenie kruie of laventel (wat bye lok) plant indien jou gesin vir bysteek allergies is nie.
  • Reg: Plaas gerus ’n paar groot klippe rondom die swembad of waterpoel waarop skadelose en hulpvaardige naaldekokers lekker in die son kan bak.
  • Verkeerd: Moenie bome met groot indringende wortelstelsels plant wat die struktuur van jou swembad of waterpoel kan beskadig nie.
  • Reg: Plant eerder bome in houers om te verseker dat jou plaveisel en swembad veilig is.

Interessante, elegante waterpoeltemas

Ontwerp jou ideale agtertuin en spog met jou unieke tuinuitlegvaardighede met een van die onderstaande verruklike temas. Palmbome is seker een van die maklikste maniere om die gevoel van ’n malse, eksotiese eiland te skep – veral wanneer jy palmbome met ’n boma, genoeg seesand en houtdekstoele daarmee kombineer. Oorweeg een van die volgende idees:

’n Palmstrand (nou in die mode en die beste vir beginners)

Varingpalms floreer in skaduwee en halfsonlig. Hulle het kort stamme en is ideaal vir kleiner tuine. (Foto: Verskaf)

Plant hierdie eksotiese, immergroen palms in beddings of houers om ’n ongelooflike mooi eilandatmosfeer te skep. Daarbenewens bied palmbome beskerming teen potensiële oortreders aangesien dit moeilik is om teen palms op te klim. Jy kan ’n palmboom ook maklik snoei om die nodige skaduwee/sonlig langs jou swembad te gee.

  • Die Sabalpalm (Sabal palmetto) verleen elegansie en word tot 15 meter hoog. Hulle hou van vol sonlig, leem-/sandgrond en vaar ewe goed in droë gebiede of langs die see. Hul lang stamme en digte “sambrele” laat jou beslis aan pret by die see dink!
  • Die voordeel van die varingpalm (Cycas spp.) is dat hy in beide skaduwee en halfsonlig floreer. Varingpalms benodig goed gedreineerde grond in houers of beddings met goeie kunsmis om hulle aan die gang te kry. Hierdie palmbome het kort stamme en is ideaal vir kleiner tuine.
  • Gouerietpalms (Dypsis lutescens) met hul dun varingagtige, boogvormige blare wat aan slanke rietstamme groei, is die volmaakte voorbeeld van tropiese gekunsteldheid. Dis ’n fantastiese keuse vir patiopotte wat in helder sonlig staan, of in beddings met vol sonlig of selfs semiskadu. (* Hulle is wel gevoelig vir ryp en baie koue weersomstandighede.)
  • Windmeulpalmbome (Trachycarpus fortunei) is ’n geharde pragstuk wat met sy groot, wiegende blare beslis die regte atmosfeer in jou tuin sal skep. Hulle bereik ’n hoogte van tot 12 meter en groei goed in groot potte of beddings. Plant hulle as fokuspunt in halfskadu.
  • Mediterreense waaierpalms (Chamaerops humilis) is werklik karaktervol en staan uit met hul veelvoudige bruin stamme van veselagtige bas en driehoekige blare. Dink gerus daaraan om hulle as heining vir bykomende privaatheid in son- en halfskadu-areas aan te plant.

 Tropiese paradys

Hibiskus (Foto: Verskaf)

Verskerp die tema deur hangmatte en -stoele, macramé-hangers en tuinmeubeloortreksels en kussings in helderkleurige blommotiewe aan te skaf om by die oerwoudatmosfeer te pas. Sorg dat jy ’n paar van die volgende plant:

  • Paradysblomme
  • Hibiskus
  • Kannas
  • Grenadellablom-ranke
  • Papierriet
  • Josefskleed
  • Filodendron
  • Piesangbome

Die slim minimalis

Varkoorplakkies (Cotyledon orbiculata) (Foto: Verskaf)

Gebruik die volgende waterwysvetplante (uiters lae instandhouding) langs byvoorbeeld ’n wit klippaadjie, groot loopblokke en netjies afgewerkte rande van beddings. Kies eenvoudige houers en plante met treffende loof:

  • Spekboomvariëteite
  • Grondbedekkings (Sedum spp.)
  • Woestynrose (Sempervivum)
  • Senecio (familie van die gousblom)
  • Varkoorplakkies (Cotyledonorbiculata)

Golwende grasperke

Kwaggagras (zebra grass) (Foto: Verskaf)

Die plant van siergrasvariëteite is vinnig en ’n eenvoudige begin om atmosfeer te skep. Plant dit rondom plante wat as fokuspunt dien, langs tuinpaadjies of regs lang die swembad of waterpoel waar grasstringe gou-gou oor die rand in die water sal hang.

  • Geel vosstert (Alopecurus pratensis “Aureus”)
  • Reusriet (Arundo donax)
  • Pronkgras (Fountain grass – Pennisetum setaceum “Rubrum”)
  • Kwaggagras (zebra grass)
  • Veergras (Stipa)

Die somerseisoen is die ideale tyd vir tuiniers om met tuinidees rond te speel en te eksperimenteer. Daarbenewens sal alles wat jy nou plant die kans hê om goed en met sterk wortelstelsels te groei om die koue winters en sterk winde te weerstaan. Onthou om potplantgrond van goeie gehalte asook die regte kompos en kunsmis vir al jou nuwe plante te gebruik. Vra gerus jou GCA-tuinraadgewer om jou met die uitsoek van jou plante te help. “Your life is a garden” – laat jou kreatiwiteit inskop en gee jou tuin én lewe sprankel in die Afrika-son.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Miesa ·

Wees tog versigtig om palms te plant wat sade afgooi. Die ronde sade verstop jou Kreepy Crawly.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.