’n Groentuin vir beginnerboere

Wortels uit jou eie groentetuin – niks kan die geur en kleur klop nie! (Foto: Life is a garden)

Daar is darem maar net iets besonders aan vars groente direk uit die aarde. Die geur is ongelooflik, ʼn mens weet sommer dit is propvol voedingstowwe en niks kan die trotse gevoel klop as jy eers die vrug van jou arbeid begin oes nie.

Life is a garden het ʼn paar wenke vir hoe om jou eie groentetuin te begin:

ʼn Nederige begin

Begin eers klein en besluit of jy houers gaan gebruik, direk in die grond wil plant of verhoogde beddings wil oprig. Oorweeg jou ruimte en beskikbare tyd vir tuinwerk aangesien dit kan help om jou plantstyl te lei. Jy kan natuurlik ook net ʼn paar sade in ʼn leë stukkie grond in jou blombedding saai – dit is net so ʼn goeie begin.

Wenk: Wees versigtig om nie te veel plante in jou beskikbare ruimte te plant nie. Jou groente gaan groter word en ruimte benodig om te groei en te rank. As jy die plante te naby aan mekaar plant, gaan hulle sukkel om in mekaar se skadu te groei. Raadpleeg jou saadpakkie of naaste tuinsentrum vir raad hieroor.

Ligging, ligging en nogmaals ligging

Die ligging van jou groentetuin is ook belangrik in terme van water. (Foto: Life is a garden)

Dit is net so belangrik om te dink waar jy jou groente wil aanplant. Groente hou van son en sal floreer in oop gebiede wat soveel sonlig moontlik ontvang sonder dat groot bome skaduwee oor jou nuwe tuinplantjies gooi. Ondersoek jou beddings met eko-oë: Let op na die son se beweging, die omliggende blare en die uitbreiruimte wat nodig is vir plante om te groei.

Wenk: Ligging is ook belangrik in terme van water. Jou groente moet binne die bereik van die tuinslang of besproeiingstelsel aangeplant word en soveel reënval moontlik kry. As jy van plan is om jou groentetuin op jou stoep te kweek, moet jy seker maak dat jou houers goed dreineer en dit beteken die water sal onder die potte uitloop. Dit sal bepaal waar op jou stoep jy die houers wil plaas.

Die beste groente

Vra gerus vir Google, of besoek Life is a garden se webwerf of Facebook-blad, om vas te stel watter groente jy kan saai en wanneer om dit te doen.

Seisoenale groente is jou beste kans op sukses, aangesien hierdie plante natuurlik aangepas is vir die klimaat van die gegewe tyd.

Oorweeg dit ook hoe die plant groei: Sommige is grondbedekkers soos pampoen en benodig ekstra ruimte, terwyl ander graag rank, soos boontjies, wat beteken hulle gaan ondersteuningstrukture benodig. Sommige plante benodig ook dieper grond, soos aartappels, en lyk meer bosagtig bo die grond.

Jou naaste tuinsentrum is tans oorlaai met sade en saailinge van kruie, vrugte en groente. Geniet ʼn daguitstappie saam met die gesin en vind die perfekte plante vir jou groentetuin met die hulp van vriendelike tuinsentrumpersoneel.

Plant nou in Februarie en Maart:

  • Gauteng: spinasie, blaarslaai, beet en wortels.
  • KwaZulu-Natal: kool, boerboontjies, rape en radyse.
  • Oos-Kaap: spinasie, bone, beet en wortels.
  • Wes-Kaap: blomkool, seldery, ertjies en uie.

Wenk: Onthou dat kompos jou oes kan verseker. Jou tuinsentrum kan jou help met ʼn verskeidenheid van voedsame en organiese kunsmisstowwe om jou groente vir goud te laat groei.

Goeie kompos kan ‘n goeie oes verseker. (Foto: Life is a garden)

Daar is altyd tyd, en ʼn lappie grond, beskikbaar vir selfs net een groenteplant om aangeplant te word. Kies jou gunsteling en plant dit. Dit is so eenvoudig en die beloning is eenvoudig wonderlik.

As jy eers begin met jou eie groentetuin gaan jy opnuut ʼn dieper waardering vir die kos kry wat jy eet. Veral as jy sien hoe dit groei en die verskillende fases van die lewe van ʼn groenteplant aanskou – dit is die natuur se towerkrag op sy heel beste.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.