’n Vertikale tuin

‘n Binnenshuise binnehof met ‘n vertikale tuin. (Foto: Life is a Garden)

Hier is groot planne vir piepklein, beddinglose tuine en jou kans om groente, kruie, blomme en loofplante sonder ’n tuinbedding te plant! Gebruik jou passie vir tuinmaak en dink uit ’n ander hoek: sit gewone plante teen die muur, dié wat eetbaar is in hangmandjies en skep kleur en lewe op jou stoep.

Geometries en groen

Die beste plek om met jou vertikale tuinmaakprojek te begin, is teen ’n kaal, vaal stoepmuur. Gebruik ’n boor en skroewe om jou blomhouers stewig teen die muur vas te kry, maar beplan voor die tyd die uitleg. Probeer ’n elegante, simmetriese roosterstyl met ’n potgrootte spasie tussen elke pot (vier dwars en vier vertikaal is ’n goeie begin). Jy kan ook eksperimenteer met sirkelvormige rangskikkings, horisontale lyne of diagonale patrone met neergolwende rankplante in die boonste potte.

Plantkeuses: Blou lobelias (Compact Royal Jewels) vir blomme wat oorhang, Engelse klimop (English ivy) vir dramatiese blaarranke en Josefskleed (Coleus “Versa Green Halo”) vir ’n eksotiese effek.

Jou vertikale tuin kan ook met potte gemaak word. (Foto: Life is a garden)

Grondloos

Waag om anders te wees met ’n fassinerende, watergebaseerde hidroponiese tuin (sonder grond). Hidroponiese tuinmaak gee jou volle beheer oor jou omgewing, verminder peste, gee jou plante ’n hupstoot, bespaar water, keer die onkruid én bied opvallende, lewende dekor.

Daar is ’n verskeidenheid hidroponiese kweekstelle (growing kits) beskikbaar – selfs vir ander, nievertikale tuine. Vra ’n tuinraadgewer by jou tuinsentrum vir verskillende installeringsopsies en plantvoedingstowwe.

Plantkeuses: Feitlik alle kruie, blaargroente soos seldery en blaarslaai, vrugte soos lemmetjies en avokado’s en binnenshuise sierplante soos die filodendron, vredeslelie, Chinese immergroen en hen-en-kuikens (spider plant).

Het jy lus vir rondhang?

Hangende plantmandjies is ideale plekbespaarders wat tekstuur en lewe aan die kaal hoeke van jou stoep of huis sal gee. Gebruik ’n ketting om houers van die dak te laat hang (klimplante sal speel-speel teen die ketting opklim en by die kante oorhang). Of gebruik halwe mandjies wat teen ’n traliewerk vasgemaak is vir rankplante. Gebruik lyndraad om jou waterbesparende klapperhaarmandjies mee te hang en skep ’n atmosfeer van oorvloedigheid.

Plantkeuses: Probeer pêrelstring (String of Pearls, Senecio rowleyanus) vir ’n lieflike oorhangplant, bosaspersie (large forest asparagus, Asparagus densiflorus) vir ’n tekstureerde slingerplant en ’n blomklimop vir iets heel anders.

Laat hang jou eetbare plante

Met vertikale planthouers kan jy jou kruie en groente sonder beddings en teen enige muur wat genoeg sonlig kry, kweek. Betrek die kinders by hierdie projek en laat hulle hul gunstelinggroentes kies en leer hulle terselfdertyd hoe om hul kos te kweek en te versorg. Vertikale plantbakkies (planting pockets) is by jou tuinsentrum beskikbaar en kan teen enige muur gemonteer word of oor ’n heining of hek gehang word.

Kies jou kos

Besoek ’n tuinsentrum vir ’n verskeidenheid seisoenale saadpakkies en saaibakkies om sommer nou al jou groente te saai/plant. En onthou die magrietjies (marigolds) tussenin as ’n natuurlike pesafweerder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.