Permakultuur: Die antwoord vir verandering

(Foto: Beth Macdonald/Unsplash)

Deur dr. Kara-Lee Prinsloo

Permakultuur verwys na die ontwerp van ʼn ekologies volhoubare omgewing met die integrasie van ekologiese beginsels. Wyer gesien maak permakultuur van tegnieke en beginsels van ekologie gebruik om uiteindelik ʼn volhoubare omgewing te skep. Deur hierdie tegnieke en praktyke – ʼn kombinasie van biodiversiteit en die gebruik van inheemse plante – in ʼn klein ekosisteem soos jou eie tuin te integreer, is die uiteinde ʼn permakultuurtuin wat floreer.

Mike Feingold beskryf permakultuur as ʼn “revolusie vermom as tuinmaak”. Dit is meer as organiese tuinmaak. “Met permakultuur probeer jy die natuur naboots deur nisse vir soveel as moontlik elemente te skep. Jy doen dit deur wisselwerking aan te moedig en deur middel van sinvolle ontwerp hoogs produktiewe ekostelsels te skep wat ryk is aan diversiteit en lewe.”

Die waarde van permakultuur

Die etiese waarde wat permakultuur ons as mens leer, is om vir die omgewing en mense rondom ons om te gee, en om ons surplusse te hergebruik. Dit is inderdaad ʼn baie mooi en positiewe beginsel wat ons in ons daaglikse lewe moet toepas.

Die beginpunt vir volhoubare bestaan is om in jou eie tuin of spasie basiese verbouingspraktykbeginsels toe te pas. Indien die verbouingspraktykbeginsels suksesvol is, gebeur die volgende:

  • water se kwaliteit verbeter;
  • die nodige kundigheid wat deur gemeenskappe bekom word om hul eie kos aan te plant, kan werkloosheid verminder;
  • beter kwaliteit kos kan geproduseer word aangesien geen skadelike chemikalieë en/of gifstowwe die grond sal besmet nie;
  • permakultuur se gebruike bevorder ʼn volhoubare omgewing;
  • die estetiese waarde van Suid-Afrika kan net uit die beginsel van permakultuur voordeel trek.

Suid-Afrika, net soos die hele wêreld, word in probleme vasgevang wat byvoorbeeld deur verstedeliking veroorsaak word. Dit dra weer tot die ongelooflike hoë vlakke van besoedeling, behuisingstekorte asook natuurlik werkloosheid by. Die vraag is dan hoe permakultuurbeginsels ons as gewone mense kan help om wel ʼn volhoubare omgewing in ons eie huistuine of die spasie waaroor ons beskik te skep. Geen spasie is te klein om sekere van die permakultuurbeginsels toe te pas nie. ʼn Mens se denkwyse moet begin verander in terme van hoe ons basiese goed tot ons voordeel kan gebruik.

(Foto: EcoBiz.co.za)

Die beginsels van permakultuur

Daar is drie dinge wat ons in ʼn permakultuurtuin moet toepas, naamlik die gebruik van hernubare produkte en herwinbare produkte, asook die versameling en berging van energie. Die ontwerpbeginsel van permakultuur is om die resultate te geniet van dit wat jy in die tuin gesit het. Elke element, plant en grondbedekking wat jy in die tuin gebruik, sal meer as een funksie byvoeg.

Baie plante word vir meer as een rede geplant. ʼn Goeie voorbeeld is wilde knoffel (Tulbaghia violacea). Dit dra ʼn baie mooi pers blommetjie, maar die bolle en blare se knoffelreuk is ideaal om skadelike insekte, of katte uit jou tuin te hou – net soos afrikanertjies (Tagetes-spesie). Verskeie plante word vir medisinale en estetiese gebruike geplant, soos muishondblaar (Plectranthus fruticosus), malva (Pelargonium peltatum) en katstert (Bulbine frutescens).

Baie mense is oor die algemeen onder ʼn wanindruk as dit by die gelyktydige gebruik van groente, vrugte, kruie, medisinale plante en bome in ʼn tuin kom. Die indruk wat geskep word, is dat dit ʼn deurmekaar effek sal gee en in ʼn oerwoud sal ontaard. Dit is hoekom die mens se denkwyse moet verander. Dit is baie belangrik om altyd ʼn probleem in die tuin of spasie waar jy graag permakultuur wil toepas, te identifiseer. Die ontwerp van permakultuur moet altyd oor die oplossing van die probleem beskik.

So, wat beteken dit nou eintlik? ʼn Probleem kan byvoorbeeld wees dat daar met swaar reën massas water agterbly wat nie gou genoeg wegsyfer nie. Of die tipe grond werk nie met die vrugteboom wat geplant is nie (dit dra nie en as dit wel dra, is die vrug droog). Dit kan wees dat die verkeerde kombinasie plante in die tuin nie die effek wat jy jou voorgestel het gee nie. Die tuin of spasie wat jy wil gebruik moet noukeurig ontleed word voordat jy met jou beplanning begin. Identifiseer waar huidige of vorige probleme raakgesien is en maak notas. Die ontleding van die spasie kan tot gevolg hê dat jy daardie area byvoorbeeld moet lig – miskien deur plantbakke in te bring, of klein ekosisteme te skep, of om plante te gebruik om die wind te keer.

Elke resultaat lewer ʼn nuwe bydrae tot die tuin. Baie organiese kombuisafval kan gebruik word om in die grond in te werk. Blare kan gebruik word as ʼn grondbedekking; dit is organies en dien as voedsel vir die grond.

‘n Groentetuin wat volgens die beginsels van permakultuur aangelê is. (Foto: Local Food Initiative/Flickr)

Hoe kan permakultuurbeginsels in jou spasie toegepas word?

Volg dié maklike stappe as ʼn wegspringplek om vir jou ʼn lushof te skep wat aan die behoeftes van julle huis en jou tuinspasie voldoen. Identifiseer die spasie waar jy wil begin. Ontleed die klimaat, waar die wind vandaan kom en besluit wat jy graag wil bereik. Miskien het jy pragtige bome, of wat van ʼn byekorf in die boom? Stel julle belang in groente en kruie? Klein spasies kan benut word deur plantbakke van hout en selfs sink te laat bou; enige vorm en hoogte. Maak net seker dat jy baie goeie, gedreineerde grond daarin sit. Bly weg van sementpaadjies in die tuin en oorweeg eerder ʼn grondbedekker, soos neutdoppe en selfs bas.

Ontwerp jou spasie natuurlik, maar steeds elegant. Verken die plante in jou direkte omgewing en identifiseer daardie met vele gebruike. Maak seker dat sekere van jou plante, soos die wilde knoffel, die nadelige insekte sal weghou en dat biodiversiteit sal feesvier in die lushof wat jy wil skep.

Hergebruik, hernu en verminderde energie is die antwoord tot sukses. Kry ʼn spasie in jou tuin waar jy ʼn komposhoop kan maak en dink selfs daaraan om erdwurms in te bring – hulle kan help om kombuisafval tot baie vrugbare grond af te breek.

Onthou, permakultuur beteken om permanente, volhoubare, diverse stelsels te skep. Dit moet reg ontwerp en bestuur word om wanbalans te voorkom of te herstel. Begin deur klein veranderinge te maak en benut verandering kreatief. Die grootste verandering wat ons moet maak, is ʼn kopskuif – van verbruikers na produseerders. Leer dan om jou oorskot met ander te deel. Dít is die geheim van permakultuur: omgee vir die omgewing en vir ander.

Lekker tuinmaak!

  • Dr. Kara-Lee Prinsloo is ʼn tuinboukundige en landskaptegnoloog by Tshwane Universiteit van Tegnologie in Pretoria, Gauteng. Sy is ʼn passievolle mens wat die vooruitsig geniet rondom die insette van ʼn tuin, en vreugde put uit die vrugte, medisinale en aromatiese plante as uitsette, asook ʼn skoon omgewing.
  • Hierdie artikel is met die vergunning van die tydskrif Granaat, van Die Dameskring, geplaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Vrijburger ·

Ek het ingekoop hierop.
LOL. My blootstelling aan ‘permakultuur’ het jare gelede begin to my Portuguese skoonpa skelm spinasie saad in my blombeddings gestrooi het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.