Plant jou eie tuin in houers

Daar is soveel plante om van te kies, die keuses kan oorweldigend wees veral as jy ʼn nuwe tuinier is en nou eers begin om jou groenvingers te ontwikkel. Foto: Life is a garden.

Jy het definitief nie ʼn hektaar grond nodig om jou eie vars slaaie en groente te kweek nie. Al wat jy benodig, is ʼn balkon, patio of ʼn posseëlgrootte tuin, ʼn paar terracotta-potte, grond van goeie gehalte en ʼn gieter, en jy is gereed om met jou eie pottetuin te begin.

Life is a Garden het die volgende wenke vir die aanlê van hierdie soort tuine:

Waarom terracotta-potte?

ʼn Lekker groot terracotta-pot, of selfs ʼn stel van hierdie potte, is beslis beter as ʼn plastiekpot. Terracotta-potte is van klei gemaak en natuurlike materiale soos klei is net beter vir plante omdat dit asemhaal. Dit laat lug en selfs vog toe om deur die kante van die pot te beweeg wat beteken plante bly gesonder en dit voorkom die meeste swamwortelsiektes.

Plante hou nie van skielike temperatuurveranderinge nie en terracotta-potte dien ook as ʼn isoleerder wat veranderinge in temperatuur vertraag.

Gewig is ook ʼn voordeel as dit by hierdie soort potte kom. Terracotta-potte is swaarder as plastiek of hout en as jy ʼn kat het wat gedurig teen jou groentepotte skuur, sal dit nie sommer kan omslaan nie. Terracotta-potte word ook net beter met ouderdom en verwering gee elke pot sy eie unieke voorkoms.

Jy kan maklik verskillende plante saam in een pot plant. Foto: Life is a garden.

Wat om te plant?

Daar is soveel plante om van te kies, die keuses kan oorweldigend wees veral as jy ʼn nuwe tuinier is en nou eers begin om jou groenvingers te ontwikkel. Ons beveel aan dat jy dít plant wat jy self graag eet. Daar is nie veel sin daarin om koljander te plant as jy nie die smaak in jou kos kan verdra nie, maar as jy daarvan hou om met kruie te kook kan jy begin om iets soos roosmaryn, tiemie, kruisement en oreganum te plant.

Jy kan ook gerus jou plante meng. Pragtige ornamentele plante vaar goed in potte langs eetbare variëteite en sommige mooi plante kan ook geëet word. Violablomme kan in ʼn slaai gegooi word, terwyl die blomme van laventel en gousblom ook verskillende gebruike het.

ʼn Goeie basis

ʼn Goeie groeimedium, wat in al die voedingsbehoeftes van jou plante kan voorsien, sal die sleutel wees tot jou pottetuin se sukses.

Elke keer dat jy ʼn plant in ʼn pot plant, moet jy ʼn grondmengsel maak wat bestaan uit vier dele potgrond van ʼn goeie gehalte, een deel palmturf wat vooraf in water geweek is, en ʼn groot hand vol korrels van ʼn organiese plantvoedsel.

Sorg ook dat daar ʼn hand vol gruis of klippe in die bodem van die pot is om goeie dreinering van die grond te verseker. Dit sal ook voorkom dat die dreineringsgate verstop word.

Vul die pot met die potgrondmengsel tot ongeveer tweederdes vol, plaas die plante in die potte en vul die potte tot ʼn paar sentimeter onder die rand.

Onthou, te veel water is net so sleg soos te min water en daarom moet jy die grond toets voor jy dit natmaak. Foto: Life is a garden.

Gee hulle water

Plante kan baie verduur, maar jy kan nie verwag dat hulle sonder water oorleef nie. Potte en houers kan net ʼn beperkte hoeveelheid water hou en daarom is dit belangrik om ʼn materiaal soos palmturf by te voeg.

Jy kan sien of jou plante se grond droog is deur ʼn vinger ʼn duimdiepte in die grond te druk. Voeg water by as die grond droog is. In warm weer is dit belangrik om jou potte elke oggend nat te maak voor dit warm word. Gaan die grond weer in die middag na en maak weer nat as dit nodig is. In koeler weer, veral in die wintermaande waar plante nie meer so vinnig groei nie, kan jy twee of drie keer per week die potte natgooi.

Onthou, te veel water is net so sleg soos te min water en daarom moet jy die grond toets voor jy dit natmaak.

Versorging

Plante in potte en houers moet gereeld voeding ontvang omdat die voedingstowwe in die beperkte hoeveelheid grond uitgeput word.

Besoek jou plaaslike tuinsentrum, wat aan die Tuinsentrum-vereniging van Suid-Afrika (GCA) behoort, vir ʼn verskeidenheid potte en al die benodigdhede vir jou houertuin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.