Skep ’n koel, wit Kerstuin

Die wit Ice Bergs-rose is nie net Suid-Afrika se gewildste roos nie, maar sal ook ‘n wenner wees in ‘n wit Kerstuin. (Foto: Life is a Garden)

Tuiniers wêreldwyd weet dat wit by alles pas, want dit komplementeer en kikker die kleure van ander omringende plante in jou tuin op. Die befaamde Engelse tuinontwerper Vita Sackville-West het met hierdie kleurgier in 1930 begin toe sy die tuine by haar huis by Sissinghurst-kasteel begin versier het met ’n magdom wit blomme en plante. Dié skouspel van wit in al sy skakerings staan vandag nog net so – indien nie mooier nie – en het tuiniers oor geslagte heen geïnspireer. In enige tuin gaan alles mos maar oor kleur – die blomme, lower, erdewerk en planthouers, heinings, hekke, tuinmeubels en selfs buitenshuise kunswerke. Tuine is as’t ware ons heiligdom en dit verryk nie net die gehalte van ons lewe nie, maar verfraai ook ons huise.

Wit blomme skep ʼn ambiance van koelte en rustigheid – ʼn lafenis in die somerhitte en op sy beste saans en snags as die glinsterwit ʼn helder kontras teen die donker agtergrond vorm. Indien jy jou patio of lapa eerder ná sononder en in die aand gebruik, maak seker daar is volop wit blomme en silwerblaarplante m jou kuierplek. Dit sal sonder twyfel jou buitenshuise onthaalarea opkikker en boonop ʼn lieflike Kersfeesatmosfeer skep.

As jy wit blomplante soos kandelaars (agapanthus) as randversiering gebruik, skep dit die illusie van ʼn groter tuin of tuinpaadjie. (Foto: Life is a garden)

Hier is ʼn paar wenke om met wit te eksperimenteer om jou tuin in ʼn koel, kalm en rustige lushof te omskep:

  • As jy wit blomplante soos kandelaars (agapanthus) of impatiëns as randversiering gebruik, skep dit die illusie van ʼn groter tuin of tuinpaadjie.
  • Plant wit ysterkruid (verbena) rondom ʼn plant om die kleur(e) daarvan te aksentueer.
  • Meng wit blomplante met silwer of grys plante soos lamsoor (Stachys byzantina) of sterdissel (Centaurea ) vir ʼn kalmerende effek.
  • Plante met wit blomme werk uitstekend met groenblaarplante.
  • Wit is ook perfek om botsende kleure in jou tuin te skei, soos die pienk en oranje van impatiëns, sodat elk tot sy reg kom.
  • Stroke witblomplante soos alyssum sal die oog as’t ware lei na ander mooi plante in jou tuin.

Wit alyssum – altyd ʼn wenner as heining of as sy blomme oor mure, uit potte en blommandjies hang. (Foto: Life is a garden)

Speel met skakerings van wit deur enige van die volgende plante (wat nou behoort te blom) in jou tuin te gebruik:

  • Ysterkruid (verbena) – ʼn plat grondbedekker vir ʼn bedding of pot wat lekker son kry.
  • Wit alyssum – altyd ʼn wenner as heining of as sy blomme oor mure, uit potte en blommandjies hang.
  • Gardenias met sy verruklike geur behoort ook nou te blom.
  • Wit madeliefiebosse (Argyranthemums) is ʼn vrolike staatmaker en gewild in die meeste tuine.
  • Petunias as regop plante óf kaskade.
  • ʼn Appelbloesem bougainvillea (ook bekend as papierblomme) sal vir seker die aandag trek met daardie titsel pienk in sy blomme.
  • Die kanniedood (vinca) is ʼn jaarplant wat die somerhitte goed deurstaan.
  • Portulakke of posteleinblomme gebruik min water en groei maklik.
  • Die gewilde calibrachoa, ook bekend as miljoen klokke, lyk pragtig in net mooi enige houer.
  • Wit malvas (pelargoniums oftewel geraniums) lyk ewe mooi as bos of hangplant.
  • Roomwit karlienblomme (poinsettias) skep ’n ware Kersatmosfeer
  • Pandorea jasminoides “Lady Di” is ’n lieflike klimplant met klokvormige blomme.

Wenk:

Onthou die ferm ysbergrose – helderwit klim- en klusterblomme met ʼn sagte geur as bonus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.