Tuinmeesterskap: Kweek en versorging van clivias

Clivia Miniata (Foto: Life is a Garden)

Clivias, oftewel boslelies, is een van Suid-Afrika se inheemse pragblomme en enige tuinier se droomblomme. Gelukkig hoef jy nie ’n tuinboukundige te wees om hierdie uitsonderlike plante te kweek nie – Life is a Garden sal jou touwys maak met ’n paar grondbeginsels, naamlik hoe om clivia-saadjies te oes, te kweek en hoe om jou elite-skoonhede op lang termyn te versorg.

Clivia-gier

Waarom is hierdie plante dan so besonders? Om mee te begin, hulle gee die verruklikste, trompetvormige en geurige blomme in dramatiese sonsondergangkleure in effekleur- en lieflike tweekleurvariëteite. Weens hul uitgerekte ontkiemingsperiode (een volle jaar van saad tot pot) verdien hulle hul regmatige plek in die professionele tuinargitek se tuin.

Sien jy kans vir die uitdaging? Hierdie pragstukke kan gekweek word as staatmakerhuisplante in ’n goed beligte deel in bedekte beddings of in potte op die patio sonder direkte sonlig. Hulle floreer in ’n ryk potgrondmengsel met goeie dreinering. Clivias blom van herfs tot lente, maar behou hul groen loof dwarsdeur die jaar.

Topwenk: Tuinsentrums het altyd ’n groot verskeidenheid eersteklas-clivias in voorraad om uit te kies en te keur. Vra die vriendelike personeel watter potgrondmengsel die beste sal wees om in beddings en potte te gebruik. Hulle sal ook weet watter kunsmis om te gebruik om jou clivias daardie ekstra hupstoot te gee.

Bestuifde cliviablomme dra groot rooi bessies. (Foto: Life is a Garden)

Kweek clivias van saad

Daar is twee maniere om clivia-saad in die hande te kry:

  1. Besoek jou GCA-tuinsentrum en koop ’n pakkie clivia-saad; of
  2. Wag vir gevestigde clivias om bessies, waarin die sade is, te dra.

Bestuifde cliviablomme dra groot rooi bessies. Pluk die bessies sodra hulle begin verkleur, sprei hulle op ’n tafel of plat oppervlak uit en volg hierdie stappe:

  • Gebruik jou duime om die bessies oop te breek en haal die binnekant uit.
  • Verwyder die sagte gedeelte, vel en membraan rondom die sade binne-in.

Sodra jy die proses baasgeraak het, moet jy al die sade in ’n flou antibakteriële oplossing, soos opwasmiddel en water, was. Maak seker dat daar nie enige stukkies vel oorbly nie en gooi dit versigtig op ’n papierhanddoek uit.

  • Berei jou potgrondmengsel met gelyke dele palmveen en perliet (palm peat and perlite) wat albei by jou tuinsentrum beskikbaar is. Meng dit met ’n bietjie water om die grond klam te maak.
  • Vul die saadbakkies met jou supermengsel en druk dit effens plat. Spasieer die sade ongeveer 2,5 cm van mekaar en plant hulle met die knopgedeelte na onder. Die boonste gedeelte van elke saadjie moet egter nog uitsteek – jy hoef dus nie die sade diep in die grond in te druk nie.
  • Gee die sade in die houer goed water en bedek dit dan met plastiek of glas. Sit jou “babas” in ’n warm, maar beskutte plek wat vol sonlig kry.
  • Gaan loer daagliks na jou “babas”, assesseer hul groei en maak seker dat die grond altyd klam bly. Sodra die onderkante van die sade hul babagroen beentjies begin wys, sal jy weet hulle groei na wense en is gelukkig.
  • Nou vir die moeilike deel: Jou clivia-sade sal eers oor ’n jaar gereed wees om oor te plant. Maar hulle is beslis die moeite werd om voor te wag – hou dus vol om hulle goed te versorg.

Versorging van jou clivias

‘n Geel Clivia. (Foto: Life is a Garden)

Ná al jou aandag, tyd en toewyding wil jy seker maak dat jou clivias die beste versorging kry. Hier is ’n paar handige wenke om gevestigde clivias in jou tuin te versorg:

  • Clivias moet elke drie tot vier jaar gedurende die lente of herfs verdeel word. Dit doen jy wanneer die wortelstokke te dig raak en die bol bokant die grond begin verskyn.
  • Om jou pot-clivias reg te verdeel, moet jy eers die moederplant uit die pot haal en die oortollige grond versigtig afskud sodat jy goed kan sien waar om die plant te verdeel.
  • Gebruik ’n skerp en baie skoon mes om die wortelklompe van mekaar te sny of beur hulle met jou vingers van mekaar. Hierna kan jy die geskeide clivias in nuwe potte oorplant en jou patio verder opdollie.
  • Om clivias in jou tuin te verdeel: gebruik ’n graaf en lig die grond om die plant (minstens 15 cm weg van die stingel) en maak seker dat jy nie die wortels beskadig nie. Sodra die plant uit die bedding gelig is, vee die oortollige grond af sodat die wortelklompe duidelik wys. Sny en verdeel soos nodig en plant dit in ’n ander skadubedding wat kleur kort.
  • Bemes jou clivias een keer per maand gedurende lente en herfs vir maksimum blomkrag (moenie bemesting gedurende die wintermaande gee nie). Gebruik ’n vloeibare kunsmismengsel (met stadige vrylating), beskikbaar by jou GCA-tuinsentrum. Moenie huiwer om vir hulp of raad te vra nie.

Peswaarskuwing:

Wees op die uitkyk vir die lelieboorwurm (lily borer)! Hou jou bolplante en veral jou clivias fyn dop vir tekens van hierdie verpestelike ding. Die wit motte (met ’n vlerkspan van 4 cm) lê klein eiertjies in klompe aan die onderkant van die blare. Besoek jou tuinsentrum vir die beste pesbeheermiddel teen hierdie vabond.

Ten spyte van die harde werk, is clivias uiters dekoratief, blom vir lang tydperke, is perfek vir snyblomme en die plante immergroen. Vorder van ’n groentjie tot ’n professionele kweker van hierdie gesogte blomjuffers deur die bostaande wenke te volg. Clivias is ook ’n wonderlike geskenk – dink dus daaraan om ’n paar potte eenkant te hou vir familie of vriende as jy weer jou clivias verdeel en oorplant.

(Foto: Life is a Garden)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.