Tydskrif vir kunsvlyters floreer ná trekpas

Foto: Met vergunning van die Idees-tydskrif.

Toe Media24 in 2016 vir Idees die trekpas gegee het, was die span se teleurstelling van korte duur. Maroela Media het vroeër berig dat Terena le Roux, redakteur en nou eienaar van die Idees-handelsmerk, in samewerking met haar span besluit het om die tydskrif op eie stoom te laat voortleef.

Na afloop van samesprekings met Media24 Leefstyl kon die handelsmerk behoue bly en is ʼn beginnermaatskappy op die been gebring om dié tydskrif in ʼn digitale en gedrukte weergawe aan die gang te hou. Dit was die begin van ʼn uitdagende, maar rooskleurige hoofstuk vir Idees.

“Die hele wêreld het ons ondersteun. Sommige mense het werk vir ons gedoen sonder betaling, terwyl ánder weer gratis publisiteit gegee het,” vertel Le Roux. Lesers het óók hulle steun op sosialemediaplatforms aangebied.

“Mense wou nie net vir ons geld gee nie. Hulle het ons gevra wat hulle kan doen om te help, en op verskeie maniere hulp aangebied”. Danksy ʼn skarefinansieringsveldtog op Thundafund het kunsvlyters en ondersteuners spoedig aktiewe bydraers geword.

“Ons het vir elkeen wat ʼn bydrae gelewer het ʼn persoonlike brief geskryf.” Vandag nog is die lesers en menseverhoudings ʼn integrale deel van dié tydskrif. Ons lesers is besonders lojaal; dis altyd dieselfde name wat geleenthede ondersteun, briewe skryf en op Instagram-foto’s reageer”.

Dié lojaliteit is egter nie vanselfsprekend nie.

Foto: Met vergunning van die Idees-tydskrif.

“Alles waaroor daar geskryf word, moet lesers gelukkig maak,” deel Le Roux oor die fokus van hulle inhoud. Om in elke uitgawe met nuwe idees vorendag te kom bly wel ʼn uitdaging. “Met Instagram en Pinterest wat onmiddellik beskikbaar is, moet ons voortdurend vir onsself vra of ons doen wat nuut is en hoe ons inhoud vir ons mark aangepas word.”

Idees se inhoud word deesdae selfs ook in Duitsland versprei. “’n Duitse uitgewer, Oz Verlag, het ʼn lisensie om inhoud uit ons publikasies te guitgebruik. Hulle kies relevante inhoud wat strook met Duitse modes en seisoene,” vertel Le Roux opgewonde.

Sedert die tydskrif se onafhanklikwording werk spanlede en medewerkers van die huis af. “Dit was aanvanklik vreemd om nié in ʼn gevestigde omgewing te werk nie,” erken Le Roux. “Maar ek dwing myself om in roetine te bly – ek staan op, maak reg en spring dan aan die werk.”

Foto: Met vergunning van die Idees-tydskrif.

Die span kom weekliks vir spanvergaderings bymekaar. “Ons gesels dan oor die begroting, bemarking, en nodige beplanning vir foto- en stileringsessies.” Sy noem ook dat dit soms uitdagend is om spanlede gemotiveerd te hou en idees uit te ruil, maar dan maak hulle ʼn plan. “Die beste manier om weer saam te dink en te wees, is om die geselligheid van ʼn etenstafel.”

Le Roux verduidelik dat hulle onafhanklikheid in vele opsigte ʼn positiewe ding is. “Ons kan hands on-besluite neem, omdat ons nie vir direksievergaderings of goedkeuring hoef te wag vóórdat groot besluite geneem word nie.”

Nog ʼn aspek van Idees se sakemodel wat hulle uniek maak, is die besluit om nié ʼn webwerf te skep nie. “Ons fokus is op direkte kommunikasie met ons lesers,” en, voeg sy by, “om deur middel van ʼn webwerf te kommunikeer neem iets weg van daardie persoonlike verhouding wat ons koester”.

Wanneer Le Roux oor haar rol as redakteur van Idees gesels, is dit haar onbaatsugtige liefde vir mense wat uitstaan en sy voeg skertsend by dat sy eerder in die agtergrond as in die kollig bly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

johanna ·

Plaas netwerk 24 ontslae raak van Sarie aangesien die tydskrif 3 maande gelede van 35 verhoog is na R60 .. patetiese inhoud —ek sit liewers 20 by en koop die IDEES met n glimlag
well done julle

Mamma ·

Lekker om so ‘n positiewe artikel te lees. Dis ook ‘n bevestiging van my siening dat die korporatiewe rompslomp en “red tape” ‘n groot oorsaak van onproduktiwiteit is. Dit druk mens se siel en kreatiwiteit dood.

Cecilia ·

Baie lief vir Idees maar ek kan ongelukkig dit nie meer bekostig nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.