Verdedig jouself so dié feesseisoen

Argieffoto. (Foto: Unsplash/Timothy Eberly)

Tydens die feesseisoen is ʼn mens geneig om lakser te wees oor jou eie veiligheid aangesien jy in ʼn meer ontspanne luim is.

Maroela Media het aangeklop by sekerheidspesialis Eugene Voges, eienaar van Skydda Tactical Services, wat onder meer selfverdedigingsklasse aanbied, vir selfverdedigingswenke wat tydens die feesseisoen toegepas kan word en moontlik jou lewe kan red.

Moenie alleen rondbeweeg nie

Voges lê klem daarop dat daar nie alleen na plekke toe gegaan moet word nie en dat daar reëlings met ʼn betroubare persoon getref moet word om by ʼn nagklub of elders opgelaai te word. ʼn Uber of ander taxi-diens is ook ʼn opsie.

“Moet onder geen omstandighede ʼn rygeleentheid van ʼn vreemdeling wat jy pas ontmoet het aanvaar nie,” sê Voges.

Moet ook nie alleen in die straat stap nie. “Vroue en meisies stap gereeld alleen van kuierplekke af huis toe, veral wanneer hulle onder die indruk is dat die afstand nie te ver is nie. Ongelukkig is dit glad nie veilig nie en moet jy sover as moontlik eerder ʼn rygeleentheid saam met ʼn betroubare persoon huis toe kry. As dit nie moontlik is nie, stap twee-twee of in ʼn groep.”

Gebruik jou handsak om jou te verdedig

Kry eerstens vir jou ʼn fluitjie wat jy kan blaas indien jy in die moeilikheid beland, sê Voges. “Dit is belangrik dat mense om jou moet kan hoor dat jy in die moeilikheid is om jou te hulp te kan snel.”

Jy kan ook die aanvaller met jou handsak bydam. “Die meeste vroue se handsakke is redelik gewigtig en kan ʼn goeie verdedigingsmeganisme wees.”

Gebruik jou deodorant (spuitgoed) om in die aanvaller se oë te spuit. “Jy kan maklik jou aanvaller binne een tot twee minute verblind deur spuitgoed in sy oë te spuit. Dit gee jou die kans om weg te kom.”

Skaf pepersproei aan en gebruik dit. “Dit kan sommer goedkoop pepersproei wees. Dit is net so doeltreffend soos ʼn duur handelsmerk.”

Jy kan ook jou sleutels gebruik om jouself te verdedig. “Dit maak jou vuis groter wanneer jy jou sleutels in jou hand hou wanneer jy mik om die aanvaller te slaan. Jy kan dit ook gebruik om jou aanvaller mee te krap of steek, wat jou dan die geleentheid gee om weg te kom. Die hele doel is om spasie tussen jou en die aanvaller te skep sodat jy kan weg kom.”

Skree

“Dit is uiters belangrik dat jy nie net skree nie, maar dat jy verbaliseer in woorde dat iemand besig is om jou aan te val. Deesdae kyk mense nie meer op wanneer jy doodeenvoudig skree nie, veral nie in omstandighede waar daar partytjie gehou word nie,” verduidelik Voges.

“Jy moet woorde gebruik soos ‘moenie aan my vat nie’ of ‘los my uit’. Dit breek die aanvaller se aanvanklike selfvertroue en plaas die kollig op die feit dat jy hulp nodig het.”

Bly waaksaam

Wanneer ʼn mens met vakansie is, is jy geneig om meer ontspanne en minder waaksaam te wees. Dit is egter belangrik om altyd bewus te bly van wat om jou aangaan.

“As jy in die aand ry, los ʼn gaping tussen jou en die ander voertuie voor en agter jou indien moontlik, sodat daar genoeg tyd is om jou motor in trurat te sit indien iemand na jou venster toe kom.”

Moet nooit jou drankie in ʼn kuierplek alleen los nie en moet ook nie van ʼn vriend of vriendin verwag om ʼn oog daaroor te hou nie. Moet ook nie drankies wat reeds oopgemaak is of skemerkelkies wat reeds gemeng is van vreemdelinge aanvaar nie.

“Dit neem sowat 1,7 sekondes vir iemand om jou drankie te dokter. Dit is basies ʼn oogwink. Wees dus heeltyd bewus van jou drankie en wie om jou beweeg.”

Wees bewus van jou kleredrag

Hoewel dit so is dat kleredrag nie veronderstel is om aanvallers ʼn rede te gee om vroue aan te val nie, is dit ook ʼn feit dat aanvallers meer geneig is om te fokus op prooie wat skamel geklee is, verduidelik Voges.

“Ek bestee baie tyd saam met verkragters en aanvallers in tronke om te leer wat hulle modus operandi is en hoe hulle koppe werk. Sodoende kan ek ʼn beter prentjie kry van hoe om my kliënte te help om hulself beter te verdedig en gee dus nie dié raad ligtelik of op ʼn ligsinnige wyse nie,” verduidelik hy.

“Ek raai vroue altyd aan om ʼn ekstra hemp en broek in te pak sodat hulle gemakliker huis toe kan stap wanneer hulle op vakansieplekke soos Margate, Hartenbos of by vakansieoorde kuier. Ongelukkig is dit ʼn feit dat ʼn bikini byvoorbeeld makliker verwyder kan word as ʼn denimbroek of T-hemp en ongelukkig trek dit die aandag van die verkeerde mense wanneer jy skamel geklee is.”

Hou jou kinders só veilig

Moenie jou kinders meer as vyf meter van jou af laat wegdwaal nie. “Hoe verder jy sig van jou kind verloor, hoe minder tyd het jy wanneer jy besef hulle is weg. Dit is ongelooflik maklik om ʼn kind te vat, soos wat ons nou al deur vorige voorvalle van kinderontvoering beleef het. Hou hulle naby – elke sekonde tel,” sê Voges.

“Laat jou kind voor jou uitstap in plaas van agter jou en bly ten alle tye bewus van jou kind se bewegings. Moenie jou kind alleen winkel toe stuur nie, selfs in vakansieoorde. Laat hulle altyd ʼn maatjie saamneem of vergesel hulle self. Dit is die veiligste wanneer hulle in groepe saam beweeg.

“Wanneer jou kind alleen stap bestaan die moontlikheid ook dat hy of sy in die moeilikheid kan beland, soos byvoorbeeld om beseer te raak, en hulle kan jou dalk nie in die hande kry nie,” voeg Voges by.

Om selfverdedigingsklasse by te woon of op te stel, kontak vir Lorinda van Pink Flamingo PR by [email protected] of vir Eugene Voges by [email protected]. Klasse vind nasionaal plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.