Video: Dié kleure, elemente inspireer binnehuise tendense in 2023

PG Bison het vandeesweek hul jongste produk- en neigingsgids bekendgestel. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Veelsydigheid, emosionele welstand en ʼn omgewingsingesteldheid is van die hoofinspirasies wat vanjaar in binnehuise ontwerp weerspieël gaan word.

Só meen Jason Wells, handelsmerk- en bemarkingsbestuurder by PG Bison, wat vandeesweek hul jongste produk- en neigingsgids genaamd Gallery 4 Expressions vir 2023 bekendgestel het.

Dié plaaslike houtprodukgroep fokus op die ontwerp van leefruimtes en doen jaarliks noukeurige navorsing om reekse te skep wat deur globale tendense geïnspireer is, maar sorgvuldig vir die Suid-Afrikaanse mark geïnterpreteer kan word.

Veelsydige leef- en werkruimtes is ná die Covid-19-pandemie steeds aan die orde van die dag en dien ook volgens Wells as inspirasie vir die teksture en kleure wat vanjaar beskikbaar gestel word.

“Die pandemie het die manier waarop ons ons leefsruimtes benader heeltemal verander. Een oomblik is ʼn ruimte jou kantoor, maar vanaand is dit jou eetkamer, so alles moet amper ʼn dubbele doel kan dien, en dit is iets wat ons die heeltyd in gedagte hou wanneer ons nuwe produkte ontwerp.”

Daarmee saam is die groeiende tendens van omgewingsbewustheid en emosionele welstand iets wat volgens Wells ook in die nuwe reeks se gedempte skakerings en minimalistiese ontwerpe sigbaar is.

“Natuurlike afwerkings en teksture, wat ʼn meer omgewingsvriendelike en organiese gevoel skep, gaan oral, van die kombuis tot die kantoor gebruik kan word.”

Hy benadruk dat natuurgeïnspireerde-elemente soos houtontwerpe steeds groot is, maar vanjaar saam met soliede kleure of growwe tekstuurontwerpe gebruik word om ʼn warm, dog gesofistikeerde gevoel te skep.

Skakerings van blou, donkerder grys en soliede koolstofkleure is in die mode vir 2023. ʼn Gunsteling in die Gallery 4-reeks is “Naran”, ʼn donkerder skakering van pastelpienk wat danksy sy veelsydigheid in kombuise, leefruimtes én slaapkamers gebruik kan word.

Die nuwe “Summer white”-skakering gaan volgens Wells moontlik as ʼn gunsteling bo die maatskappy se kenmerkende spierwit kleure uitstaan, omdat kliënte toenemend minder kliniese style met warmer ontwerpe wil vervang.

Marmer geniet ook ‘n groot herlewing, maar pas nie elkeen se sak nie.

Danksy verbeterings in digitale skandering, drukwerk en vervaardiging, is houtprodukte met realistiese marmer-geïnspireerde afwerkings nou beskikbaar, en ook nie meer net tot kombuisblaaie beperk nie.

“Ons wil hê dat kliënte op die ou end met die Gallery 4-palet, kleure en teksture moet kan speel om multifunksionele ruimtes met verskillende atmosfere te skep,” meen Wells.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.