10 gewoontes wat sleg is vir jou vel

ʼn Skoon, gehidreerde en versorgde vel is gewoonlik ʼn gelukkige vel. Maar tog weet baie van ons nie altyd hoe om behoorlik na ons vel om te sien nie.

Daar is daardie alledaagse wenke waarvan almal reeds weet: Moenie met jou grimering aan gaan slaap nie, was jou gesig elke oggend en aand, en moenie te veel kafeïen inneem nie. Maar daar is ook ander gewoontes waarvan jy dalk nie eens bewus is nie en wat nadelig is vir jou vel.

Hier is tien gewoontes wat jy moet vermy indien jy ʼn mooi en gesonde vel wil hê:

  1. Jy is te veel op jou selfoon

(Foto: Samantha Gades/Unsplash)

Volgens die saketydskrif Time toon navorsing ʼn mens se selfoon is tien keer vuiler as ʼn toiletsitplek. Jy sal nie een keer jou gesig teen ʼn toiletsitplek druk nie, maar ʼn selfoon word talle kere per dag teen jou wang gedruk of in jou hande vasgehou, wat later aan jou gesig raak. Om dié probleem te beheer moet jy jou selfoon gereeld skoonvee, nie dit saamneem badkamer toe nie en jou hande gereeld was.

  1. Jy vat gedurig aan jou gesig

(Foto: DamianZaleski/Unsplash)

Jou hande raak aan alles wat jy gebruik: jou kos, die toilet, deurhandvatsels, sleutelborde, jou selfoon en nog baie ander dinge. Daarom is dit belangrik om nie met jou vel te peuter nie. Jou hande versprei bakterieë na jou gesig wat kan veroorsaak dat jou vel slegter raak. Was jou hande gereeld, en probeer om so min moontlik aan jou gesig te vat.

  1. Jy maak nie jou grimeerkwaste en -sponsies skoon nie

(Fotot: Alysa Bajenaru/Unsplash)

Grimeerkwaste en -sponsies gaar nie net bakterieë op wat sleg is vir jou vel nie, maar ook dooie selle en olie wat jou porieë kan blokkeer en puisies veroorsaak. Skoon grimeerkwaste en -sponsies wend ook grimering beter en meer egalig aan.

Maak jou grimeerkwas waarmee jy jou onderlaag aanwend een keer per week skoon, en die res minstens een keer per maand deur dit met warm water en seep of sjampoe te was.

  1. Jy verander nie jou kussingslope gereeld genoeg nie

(Foto: Priscilla du Preez Unsplash)

Jou gesig is sowat agt uur per dag teen jou kussingsloop, so dit is belangrik om dit skoon te hou. Verander jou kussingsloop elke drie tot ses dae om te help veg teen ekseem, puisies en ʼn ontsteekte vel. Gebruik verkieslik ʼn sykussingsloop wat sag is op die vel en hare.

  1. Jy sit nie sonskerm in die winter aan nie

(Foto: Pixabay)

Die son straal twee soorte UV-strale uit: UVB-strale maak die vel rooi, laat dit brand en beskadig die vel, terwyl UVA-strale die selstruktuur beskadig, veroudering veroorsaak en ʼn verhoogde kans op velkanker meebring. Hoewel die son nie so helder skyn in die winter nie, moet jy steeds elke dag ʼn sonroom van tussen 20 en 50 SBF dra aangesien jou vel steeds aan hierdie strale blootgestel word.

  1. Jy rook

(Foto: Stas Svechnikov/Unsplash)

Rook laat jou vel ouer voorkom en dra by tot die vorming van plooie. Rook verdun die bloedvate in die buitelaag van die vel, wat bloedsomloop verswak. Dit verlaag kollageen en beroof jou vel van suurstof en die nodige nutriënte vir ʼn gesonde vel.

  1. Jy dink nie aan wat jy binne-in jou lyf sit nie

(Foto: Louis Hansel/Unsplash)

Dit help nie jy wend duur velprodukte aan jou gesig aan, maar hou nie dop wat jy binne-in jou liggaam sit nie. ʼn Gesonde dieet sal help om jou vel gesonder te laat lyk. ʼn Dieet wat ryk is in visolie, groente en vrugte, maar laag in ongesonde vette, verwerkte kossoorte en stysel, kan help om jou vel jonger te laat lyk.

  1. Jy stres te veel

(foto: Unsplash)

Wanneer jy spanning ervaar, raak jou vel meer sensitief en is dit makliker om velprobleme te ervaar. Doen stappe om stres te hanteer: slaap genoeg, oefen gereeld, stel bereikbare doelwitte en maak tyd om dinge te geniet waarvoor jy lief is.

  1. Jy gebruik produkte met alkohol in

(Foto: Christin Hume/ Unsplash)

Alkohol breek jou vel se beskermingslaag wat jou vel gehidreerd hou sommer gou af. Sonder gesonde olies en vog in jou vel sal dit uitdroog, verouder, rooi voorkom en plooie makliker vorm. Om hiervoor op te maak, produseer jou vel dan meer olie wat kan lei tot puisies omdat daar dan eintlik te veel olie op die vel is.

  1. Jy doen nie gereeld oefening nie

(Foto: Jacob Postumay/Unsplash)

Danksy oefeninge raak jy vinniger ontslae van gifstowwe deur dit uit te sweet. Oefening verbeter jou bloedsomloop wat goed is vir jou vel – die uitwerking is ure ná jou oefensessie steeds te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

schaun ·

Dit blyk die simptome van alle siektes of dit hoë bloeddruk of jou vel is dieselfde so ook voorkomende maatreëls.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.