7 velsorgwenke vir die nuwe seisoen

(Foto: Anastasiia Ostapovych/Unsplash)

Al is die winter verby ervaar jou vel steeds die nagevolge van die koue weer. Droë hakskene, knieë en elmboë, sowel as ʼn uitgedroogde vel is tekens van die winter wat sy tol geëis het.

Su-Mari Annandale, Clere Skin se handelsmerkbestuurder, sê omdat ons voete en bene meer weggesteek is in die koue wintermaande, gee ons nie so baie aandag daaraan nie.

“Dit vat dan nie lank vir vel wat afgeskeep word om droog, skilferig en partykeer rooi en geïrriteerd te word nie.

“Met die nuwe seisoen is dit net so belangrik om jou velsorg aan te pas as wat dit is om jou klere te verander. Maar ʼn totale ommeswaai is darem ook nie nodig nie; ʼn paar klein aanpassings sal jou reeds baie beter laat voel en lyk, en boonop jou vel gesond hou.”

Hier is sewe maniere om jou velsorg vir die nuwe seisoen aan te pas:

Maak jou gereedskap skoon

Kyk na jou velsorgprodukte – insluitend rome, grimeerkwaste en haarborsels – en gooi weg wat jy nie meer gebruik nie of wat te oud is. Gooi enige produkte weg wat opgeboude bakterieë kan hê of waarvan die bestanddele nie meer aktief is nie.

Dit is ook ʼn goeie idee om jou veltipe te laat ontleed om te bepaal wat jy by jou velsorgroetine kan byvoeg of wegvat volgens jou vel se spesifieke behoeftes.

Gebruik ʼn afskilferaar

Die koue winterweer veroorsaak ʼn droë en gedehidreerde vel, wat porieë groter laat voorkom. Daarom is dit die ideale tyd om nou jou gesig en vel af te skilfer. ʼn Afskilferaar help met die proses om ou velletjies te verwyder sodat nuwes kan vorm.

Onthou om ʼn delikate afskilferaar vir jou gesig te gebruik, ʼn growwer een kan wel op die res van jou lyf gebruik word.

Drink meer water

Hidrasie is baie belangrik om jou vel te help herstel na die winter. Drink sowat agt glase water per dag om te voorkom dat jou vel droog raak.

Pas bevogtiger aan

Oorweeg dit om die gebruik van dik en ryk bevogtigers af te skaal wanneer die winter verby is. ʼn Ligter room kan help om jou vel gesond en gehidreer te hou, sonder om te swaar te wees.

Gaan vir ʼn gesigbehandeling

ʼn Besoek aan ʼn spa sal nie net ontspannend wees nie, maar dit help ook om kollageenproduksie te stimuleer en om die vel se tekstuur te verfyn.

Eet vars vrugte en groente

ʼn Maklike manier om meer water in te neem is deur meer vars groente en vrugte te eet. Die beste vrugte en groente vir jou vel is appels, sitrus, waatlemoen, brokkoli, blaarslaai, wortels en pomelo.

Dra sonroom

Een van die maklikste maniere om reg deur die jaar te voorkom dat jou vel beskadig word, is om daagliks sonroom te dra.

Veral in die warmer maande wanneer blootstelling aan die son toeneem, is dit selfs belangriker om getrou ʼn goeie sonroomroetine te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.