7 wenke vir ʼn bruin vel sónder die son

Jy hoef nie in die son te lê om daardie goudbruin kleur te kry wat ʼn mens oor die Desember-vakansie begeer nie. Velverbruiningsroom raak al meer gewild omdat dit ʼn gesonder alternatief is vir in die son lê, en nie veroorsaak dat jou vel voor sy tyd verouder nie.

Wanneer dit by velverbruiningsroom kom, is mense meestal bekommerd oor onegaligheid, bruin merke en strepe na aanwending. Volg hierdie sewe stappe om die beste uitkomste te verseker.

  1. Skeer slim

Skeer die dag voordat jy velverbruiningsroom aanwend, eerder as direk voordat jy dit aanwend. Dit sal voorkom dat ʼn bietjie van die verbruiningsmiddel nie in die porieë gaan lê nie. Om te skeer is ook ʼn goeie manier om die bolaag van die vel af te skilfer.

Moenie skeer nadat jy reeds die verbruiningsmiddel aangewend het nie; dit sal die proses teenwerk.

  1. Skilfer af

Was jouself eers en gebruik dan ʼn ongegeurde afskilferaar oor jou hele lyf, met spesifieke klem op dele soos jou knieë, elmboë, polse en enkels. As jy ʼn goeie werk doen met die afskilferproses, is die kans dat jy ʼn egalige verbruining gaan kry baie hoër.

Vir ʼn maklike ongegeurde afskilferaar meng bloot ʼn bietjie water met koeksoda sodat dit ʼn pasta vorm en skilfer jou vel daarmee af.

  1. Maak jou vel behoorlik droog

Nadat jy jou vel afgeskilfer het, is dit belangrik om nie enige ander middels of room op jou vel te gebruik nie. Maak jou vel behoorlik droog en wag vyf minute voordat jy die verbruiningsroom begin aanwend.

  1. Egaligheid

Probeer die verbruiningroom so egalig moontlik in ’n sirkelbeweging aanwend. Moenie verbruiningsroom direk aan jou gewrigte, elmboë, knieë en enkels smeer nie. Smeer eerder byvoorbeeld van jou bobeen af oor jou knie en van jou skeen af op oor jou knie, sodat die verbruiningsroom in dié dele dunner is as op die ander dele.

  1. Was jou hande gereeld

Indien jy nie ʼn lyfkwas of ʼn spons het waarmee jy die verbruiningsroom aanwend nie, maak seker dat jy jou hande gereeld was. Deel jou liggaam in seksies op en was jou hande na elke seksie om te voorkom dat jou handpalms ʼn bruin-geel kleur raak.

  1. Nasorg

Wag ten minste 30 minute voordat jy klere aantrek nadat jy die verbruiningsmiddels aangewend het. Dit moet heeltemal droog wees. Moet ook nie daarna room aansmeer nie. Wag 12 tot 24 ure voordat jy weer stort.

  1. Dra sonskerm

(Foto: Pixabay)

ʼn Mens is geneig om minder sonskerm aan te wend soos wat jou vel bruiner word, maar as jou son deur velverbruiningsmiddels bruin word, is dit belangrik om daarvoor te sorg omdat die vel onder die middels eintlik nog wit is.

Wend genoeg sonskerm oor jou hele lyf aan sowat 15 minute voor jy in die son gaan wees. En beskerm jou vel en gesig soos normaalweg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Liza ·

Nee wat, ek het dit eenkeer probeer, het die hele vakansie met geel strepe oor my bene geloop. Het vreemde kyke gekry. En dit het later gelyk soos brandsiek! ‘n Vriendin het tablette geneem wat jou vel verbruin, sy het oranje uitgekom! Nee liewer spierwit!

Reine waarheid ·

Wees trots op jou vel,! beskerm dit, soos dit vir jou bestem is, GESOND, wees gelukkig en DANKBAAR … geniet jouself met genoeg beskerming dmv sonskerm hoed bril en klere jy sal NOOIT spyt wees, pa en ma, ouma en oupa vertel kinders oor en oor hul sal eendag verstaan.

Jaco ·

Son, son, son! mens kan sien wanneer dit n fake tan is. dit lyk sleg …jys nie n bodybuilder met n speedo nie!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.