9 SA mode-ontwerpers om dop te hou

Vergete is die dae waar goeie ontwerpers slegs in Milaan en Parys te vinde is. Suid-Afrika spog deesdae met sy eie topmode-ontwerpers wat klere met ʼn unieke styl skep en terselfdertyd daardeur die diversiteit van Suid-Afrika omarm. 

Van die land se beste mode-ontwerpers is verantwoordelik daarvoor om die toptien Mej. Suid-Afrika-finaliste by vanjaar se Mej. Suid-Afrika-kompetisie spoggerig op die verhoog te laat lyk.

Hier is nege van die beste Suid-Afrikaanse mode-ontwerpers wie se werk by die Mej. Suid-Afrika-kompetisie te sien gaan wees:

Lena Lisa deur Lena-Lisa Retief

“Vanjaar wou ons simplistiese, tydlose klere maak. Vir ʼn skoonheidskompetisie probeer ons altyd dramatiese aksente insluit wat die rok deftig maak.”

Lena-Lisa Retief (Foto: Verskaf)

House of Fabrosanz deur Sandi Mazibuko

“Dit is belangrik vir my om die Zoeloe-kultuur in drabare klere te omskep. Die Nguni-patroon [wat op die Mej. Suid-Afrika-verhoog gedra gaan word] kry inspirasie vanaf die tradisionele kuns van die Nguni-stam.”

Sandi Mazibuko (Foto: Verskaf)

Imprint ZA deur Mzukisi Mbane

Mbane is bekend onder voormalige Mej. Suid-Afrika-wenners soos Basetsana Khumalo, Rolene Strauss en Zozibini Tunzi wat al voorheen hierdie stranddrag gedra het.

“Ons het ʼn meer uitspattige voorkoms vanjaar, maar daar is steeds ʼn element van klas. Ek beskou my handelsmerk as ʼn manier om stories te vertel en om die stories te vier.”

Mzukisi Mbane (Foto: Verskaf)

TracyB Swimwear deur Tracy Efstathiou

Vanjaar is die fokus op funky Afrika-geïnspireerde swemdrag met ʼn sexy en gesofistikeerde gevoel.

“Ek geniet die diversiteit en kultuur van waar mense vandaan kom en dit maak dit opwindend en vars om iets nuuts te skep.”

Tracy Efstathiou (Foto: Verskaf)

Anel Botha Couture deur Anel Botha

Die draer van die rok inspireer Botha om ʼn rok te skep wat hulle verteenwoordig. “Ons soek na huidige tendense om die vroulike vorm te vier.”

Anel Botha (Foto: Verskaf)

Juan William Aria deur Juan Visser

Voormalige Mej. Suid-Afrika-wenners soos Zozibini Tunzi, Demi-Leigh Tebow en Tamaryn Green het al hierdie ontwerper se klere gedra.

“My ontwerpe is sexy maar ook gesofistikeerd. Ek put inspirasie uit aandrokke in die 80’s en 90’s.”

Juan Visser (Foto: Verskaf)

La Art Neviole Emporium deur Neville Masondo

“Ek fokus vanjaar op couture-rokke met baie eenvoudige buitelyne en dramatiese handwerk. Verwag helder kleure en ʼn mengsel van nuwe en ou style.”

Neville Masondo (Foto: Verskaf)

Orapeleng Modutle Style Avenue deur Orapeleng Modutle

“Vir my gaan dit altyd oor mode en om oomblikke vas te vang wat resoneer met historiese mode-oomblikke deur mense soos Elizabeth Taylor, Miriam Makeba en prinses Diana.”

Orapeleng Modutle (Foto: Verskaf)

Scalo Designer deur Sello Medupe

Medupe sê hy het die rokke vir Mej. Suid-Afrika ontwerp met godinne in gedagte.

“Hulle het elkeen hul eie stories en uniekheid. Ek wil hê hulle moet gemaklik voel op die groot dag.”

Sello Medupe (Foto: Verskaf)

Die Mej. Suid-Afrika-kompetisie vind op 24 Oktober in The Table Bay Hotel in Kaapstad plaas. Die geleentheid sal regstreeks uitgesaai word op M-Net en Mzansi Magic.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.