Beplan die perfekte klerekas

Foto ter illustrasie. (Foto: Annie Spratt/Unsplash)

Deur Lizel van der Westhuizen

Is jou klerekas ʼn opgaarplek vir allerhande klere wat jy oor die jare versamel het? Dan is dit tyd om iets daaraan te doen.

Jou klerekas moet ʼn belegging in jouself wees. Almal weet dat wanneer jy goed voel oor jou klere, jy oor die algemeen ook meer selfversekerd sal wees.

Daarom moet jy jou klerekas met dieselfde respek behandel as waarmee jy behandel wil word.

Die eerste stap op jou reis na ʼn beter klerekas, is om te gaan sit en jou ideale klerekas te beplan.

Soos met enigiets anders, kan jy baie vermag met ʼn bietjie ekstra moeite. Sit dus ʼn paar uur vir jouself opsy, gryp ʼn pen en papier, en begin beplan.

Hier is tien stappe om jou te help om die perfekte klerekas saam te stel:

1. Ontleed jou leefstyl en omgewing

Tydens hierdie stap bepaal jy watter soort klere jy deur die jaar gaan nodig hê en wat by jou leefstyl sal pas.

(Grafika verskaf)

2. Bepaal jou liggaamsvorm

Dit is moontlik dat jou lyf in meer as een van die liggaamsvormafdelings pas. Die geheim is om te weet watter liggaamsdele jou in watter kategorie laat inpas en dan daaraan te werk om hulle dienooreenkomstig te vlei.

Jy het dalk groot heupe soos die peer, maar terselfdertyd het jy dalk wye skouers wat kenmerkend is van ʼn reghoek. Wees buigsaam in jou kategorisering.

(Grafika verskaf)

3. Kies jou styl

As jy van baie verskillende stylpersoonlikhede hou, is jy welkom om almal te kies. Om ʼn tema vir jou klerekas te ontwikkel, sal ek egter nie aanbeveel dat jy eendag romanties aantrek en die volgende dag sportief nie.

Wanneer dit kom by die beplan van uitrustings, probeer eerder om elemente van verskeie stylpersoonlikhede in een uitrusting in te sluit. Jy kan byvoorbeeld ʼn rok saam met tekkies dra.

So maak jy seker dat daar ʼn tema in al jou uitrustings teenwoordig is en daar ook ʼn mate van eenvormigheid is.

Hier is die sewe hoof stylpersoonlikhede. Jy kan dit kombineer vir ‘n unieke stylpersoonlikheid. (Foto: Verskaf)

4. Skep ʼn kleurpalet

Om te beplan watter patrone en afdrukke jy in jou klerekas gaan inkorporeer, is dit belangrik om te verseker dat hulle goed by die res van jou klerekas sal inpas.

(Grafika verskaf)

5. Voeg patrone by:

Om te beplan watter patrone jy in jou klerekas gaan inkorporeer, is dit belangrik om te verseker dat hulle goed by die res van jou klerekas sal inpas.

(Grafika verskaf)

6. Maak seker jy het die basiese items in jou kas:

Om jou te help om te bepaal watter basiese items jy in jou kas moet hê, kan jy oor die volgende vrae dink:

  • Sonder watter tipe klere kan jy nie klaarkom nie, of wat is die gunsteling-items in jou klerekas?

Is dit ʼn paar gemaklike denims of dalk ʼn swart rok? As jy net twintig items uit jou klerekas kon kies om te hou, wat sou dit wees en hoekom?

  • Watter items dra jy die meeste?

Bepaal wat jy nou in jou kas het en die meeste dra. Dit is die beginpunt van jou basiese lys.

  • Watter items gebruik jy gereeld om ʼn uitrusting te bou of te beplan?

Om te verstaan ​​watter items die beginpunt vir jou uitrustings is, kan jou help om te bepaal wat jy as noodsaaklik beskou. Skep jy jou uitrustings rondom ʼn grys T-hemp? Beskou dit dan as die stapelvoedsel van jou klerekas.

  • Is daar alledaagse aktiwiteite waarvoor jy sukkel om aan te trek?

As daar spesifieke tye is wat jy sukkel om iets in jou klerekas te vind om aan te trek, kan dit wees omdat jy sekere sleutelitems in jou klerekas mis. Sukkel jy om ʼn uitrusting aanmekaar te sit wanneer dit koud is buite? Miskien kort jy ʼn bypassende oorjas of ʼn geskikte trui. Lys die aktiwiteite van die eerste stap waarmee jy die meeste sukkel en oorweeg watter kledingstukke dit sal regmaak.

(Grafika verskaf)

7. Sit ekstras by

ʼn Nuttige manier om te bepaal wat daardie ekstras kan wees, is om weer na jou aktiwiteitsirkelgrafiek te kyk.

Alle aktiwiteite wat saam minder as 40% van jou grafiek uitmaak, is spesiale geleenthede. Dit is die aktiwiteite waaraan jy minder tyd spandeer.

As jy byvoorbeeld een keer per maand aandgeleenthede bywoon, sal jy ʼn paar aandrokke nodig hê, maar dit sal beslis nie die ruggraat van jou klerekas vorm nie.

(Foto verskaf)

8. Kies jou skoene

Al is hulle aan die onderkant van ʼn uitrusting, is skoene ʼn belangrike deel van jou algehele voorkoms. Moet dus nie hierdie stap verwaarloos nie.

(Foto verskaf)

9. Bykomstighede

Net soos klere, kan bykomstighede strategies gebruik word om jou silhoeët uit te balanseer – die belangrikste item hier is jou handsak.

(Foto verskaf)

10. Voeg seisoenale items by

Sodra jy die basiese noodsaaklikhede vir ʼn hele jaar se klerekas het, kan jy begin om items by te voeg wat elke seisoen omgeruil kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.