Beste items vir ’n plusgrootte figuur

Deur Lizel van der Westhuizen

Is dit net ek of het ontwerpers die fokuspunt verloor? Wat het van billike, elegante klere geword wat plusgrootte vroue kan dra?

Groter vroue wil nie laaggesnyde bloese of swakgesnyde broeke hê wat hulle heupe nog meer beklemtoon nie. Aan die ander kant wil hulle ook nie soos slonskouse lyk nie.

Dit is geen geheim dat vroue in alle vorms en groottes kom nie, maar al te dikwels sien ons kleinhandelaars wat vir die kleiner groottes voorsiening maak, terwyl hulle diegene wat plusgrootte klere dra heeltemal ignoreer. Om nie eens te praat van diegene wat plusgrootte is én boonop ouer as 50 is nie. So, watter kledingstukke is die vleiendste -vir groter, ouer vroue? Wat moet jy in ag neem wanneer jy aantrek om jou vorm te pas?

Om ʼn paar basiese items in jou kas te hê, is ʼn goeie manier om seker te maak jy het ʼn meng-en-pas-klerekas met klere wat vir enige geleentheid geskik is.

Hier is die noodsaaklikhede:

(Foto: Verskaf)

Oorvourokke, -bloese en -rompe

As jy op soek is na plusgrootte klere, is ʼn oorvoustyl (wrap style) ʼn besliste moet-koop. Die V-nek is ʼn besonderse komplimentêre styl vir diegene wat ʼn groter borsmaat het, terwyl die oorvou-element jou middellyfvorm op ʼn aangename manier sal uitlig. Dit is veelsydig en beskikbaar in ʼn reeks style en materiale; een hiervan sal jou beslis goed te pas kan kom.

Tuniek

Tunieks of langer bloese is perfek vir groter en voller figure, want dit sit vleiend aan die meeste liggaamsvorms en versteek daardie areas waarmee jy dalk nie te gemaklik voel nie. Koop ʼn reeks tunieks met verskillende patrone en kleure om jou kapsule-klerekas aan te vul. Dit bied ʼn bietjie variasie op dae wanneer jy nie kan besluit wat om aan te trek nie. Vir ʼn gemaklike voorkoms, trek bedags ʼn tuniek saam met ʼn denim aan, of saans saam met ʼn spanbroek (leggings). Dra dit ook in die winter met ʼn lang T-hemp onderaan of saam met ʼn baadjie en oopknooptrui.

(Foto: Verskaf)

Denims of denimspanbroeke

Wat broeke betref is denims jou beste vriend; die gemaklike rekstof waarvan dit gemaak word, is iets waarna die meeste vroue in ʼn denim soek. Soek ʼn paar wat jou kurwes beklemtoon en probeer ʼn donkerder kleur, soos swart of donkerblou, as jy jou bene slanker wil laat lyk. Denimspanbroeke (jeggings) is die ideale alternatief vir denims as jy vind dat laasgenoemde nie gemaklik genoeg is nie. Kombineer dit met ʼn langer T-hemp, bloes of trui na gelang van die geleentheid en weer.

(Foto: Verskaf)

Snyerspakkies

Goed gesnyde klere – nie te styf of te los nie – sal ʼn tikkie elegansie by enige uitrusting voeg. Alhoewel daar ongelukkig ʼn gebrek aan pasgemaakte opsies vir vroue in groter groottes is, het handelsmerke soos Queenspark en Contempo ʼn reeks broeke en baadjies wat perfek is om jou werksklerekas op te kikker of ietsie by ʼn spesiale geleentheidsuitrusting te voeg. ʼn Snyerspakkie sal jou selfversekerd laat voel en langer en slanker laat vertoon.

(Foto: Verskaf)

Noupassende romp

Klere moet jou goed laat voel, nie snaaks nie, en daarom verwerp ons die eeueoue retoriek van “aantrek om by jou ouderdom te pas”. Kies style wat jou liggaamsvorm vlei en jou ongelooflik laat voel, selfs al voel dit aanvanklik ʼn bietjie waaghalsig.

Noupassende rompe (pencil skirts) beklemtoon kurwes en is ʼn stapelitem in die klerekas wat jy saam met ʼn ingevoude bloes kan dra vir werk of ander geleentheid. Dié soort rompe gee die illusie van ʼn gedefinieerde middellyf en, hoewel dit soms knap om die middel kan word, hoef dit nie ongemaklik te wees nie. Die meeste noupassende rompe met ʼn hoë middellyf kom in rekbare, gemaklike materiale voor wat terselfdertyd ʼn bietjie asemhalingsruimte bied.

(Foto: Verskaf)

Topwenke vir plusgrootte vroue:

  1.  Moenie bang wees om jou kurwes ten toon te stel nie.
  2. Ken jou vorm en dit wat jou goed pas, en beklemtoon jou beste eienskappe.
  3. Gaan donkerder in groter areas, soos jou heupe of bene.
  4. Bou ʼn kapsule-klerekas op met betroubare klereitems.
  5. Voeg ʼn spatsel kleur of patroon in uitrustings by, of dit nou deur jou klere óf bykomstighede is. Groter juweliersware is ʼn wonderlike manier om ekstra kleur by ʼn uitrusting te voeg.

(Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Ronel

Ek sien julle noem Contempo vir broeke & baaitjies, hul reeks is ‘n baie klein snit en sal hul glad nie aanbeveel nie

Alta Alleman

Van watter nommer grootte is plusgrootte?