Dié neigings tref by Parys- en Milaan-modeweek

(Foto: Instagram/@victoriabeckham)

In die gewilde Hollywood-rolprent The Devil Wears Prada vertel Meryl Streep se kwaai, moderedakteur-karakter dat niemand, al is hulle volgens hul opinie glad nie modebewus nie, immuun is teen die impak van die modebedryf nie.

Of dit nou duursaam, tweedehandse of uiters bekostigbare Chinese invoerprodukte is – elke kledingstuk in ons kaste is op die een of ander manier deur ʼn modeneiging op Europese en Amerikaanse loopplanke geïnspireer of daarvan afgelei.

Moet daarom nie verbaas wees as een van dié vyf neigings wat die afgelope maand by verskillende Europese modeweke vir herfs- en winterversamelings te sien was, reeds in die komende kouer maande op jou gunstelingklerewinkel se rakke is nie.

Deursigtigheid

Ten spyte van koue herfs- en wintertemperature het ontwerpers van modehuise soos Armani, Prada, Gucci en vele meer verskeie deursigtige ontwerpe op die loopplank gehad.

Modelle soos Gigi Hadid was ook in verskeie deursigtige nommertjies in die Versace-modevertoning te sien.

Van semi-deursigtige geborduurde lyfpakke tot mikro-rokkies met goudgeweefde versierings – dit blyk dat minder veral in dié geval meer is.

Die eenvoudigste manier om hierdie seisoen gestalte te gee aan dié neiging, is waarskynlik om ʼn deurskynende hemp by herfs- en winterkombinasies soos rompe of stylvolle broeke te voeg.

Hoë krae en bonkige breiwerk

Dit blyk dat ontwerpers neklyne na nuwe hoogtes wil neem.

By Alexander McQueen was bonkige breiwerk te sien, terwyl Stella McCartney (dogter van musikant Paul McCartney) ʼn meer praktiese aanslag met dié tendens gevolg het met haar handelsmerk se sagte snitte en materiale.

Ook Moschino het oorgroot gebreide truie in vleeskleurskakerings ten toon gestel.

Kantoordrag

Uitrustings van Chanel se mees onlangse versameling. (Foto: Julien De Rosa/AFP)

Stof jou kantoorbaadjies en netjiese broeke af. Die sogenaamde “corpcore”, oftewel “corporation core” is te sien in talle versamelings, insluitende dié van Max Mara, Chanel en die voormalige Spice Girl, Victoria Beckham – wat ook nuwe lewe in leerbaadjies geblaas het met oordrewe ritssluierontwerpe daarop.

Baie ontwerpers soos Tom Ford het selfs hul vertonings met dubbelborsromppake geopen. Sy reeks het veral dubbelbors swart jasse en baadjies met groot, glinsterende goue knope ingesluit.

Verwag dus ʼn oorvloed van netjiese knopieshemde, noupassende kantoorbaadjies, stylvolle reënjasse in verskillende materiale binnekort op jou winkelrakke.

Nagemaakte pels

Die debat oor die etiese gebruik van pels sal altyd relevant in die modebedryf bly, maar ontwerpers verken die eindelose moontlikhede van nagemaakte of faux pels, met harige sintetiese materiale wat opduik by handelsmerke so uiteenlopend soos Prada en Diesel en Emporio Armani.

Verwag moontlik harige aksente op jasse, truie en bykomstighede soos hoede en serpe in die komende wintermaande.

Geel waar jy kyk

Nes die Coldplay-treffer lui; “it was all yellow”.

Bottergeel, ʼn sagte, byna pastelskakering, was volop in ontwerpe van die Roberto Cavalli-ontwerper Fausto Puglisi, asook by handelsmerke soos Louis Vuitton, Sandy Liang en Burberry.

Baie mense voel dat geel nie hul kleur is nie, maar veral sagter skakerings van dié kleur komplementeer volgens kenners byna enige velkleur en kan veral as aksentkleur op truie of bykomstighede gedra word.

Die kleur komplementeer boonop ook die meeste diep kleure soos donkerblou, wynrooi, swart of selfs verskillende teksture soos denim en nagemaakte pels.

Bronne: AFP, Glamour UK, Vogue, CCN Style.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anel ·

As ek na al hierdie narklere kyk wat hulle as mode voordoen, wonder ek wie dra die goed? Nog nooit op straat gesien mense wat die belaglike goed dra nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.