Dié swemklere-style is vanjaar in die mode

Die tyd het aangebreek vir sanderige voete, lang dae langs die swembad en lywe wat lekker in die water baljaar. Of jy nou see toe gaan, in die swembad gaan baljaar, of bloot buite in jou tuin gaan lê, die gepaste swemklere is ʼn móét.

Vanjaar word enige liggaamsvorm omarm, met swemklere style wat vir almal werk. As jy nie hou van ʼn tweestuk nie, dra ʼn eenstuk. As jy nie hou van ʼn bikini-broekie op jou heupe nie, dra een wat tot by jou middel gaan. Solank as wat jou baaikostuum voldoen aan die volgende neigings sal jy in die kol wees, waar jy ook al gaan.

Soliede kleure eenstuk

Moenie dink eenstuk-swembroeke is meer net om ekstra vetjies weg te steek nie. Dit is ʼn stylvolle alternatief vir mense wat nie van ʼn bikini hou nie, maak nie saak van jou lyf nie. Staan vanjaar uit met ʼn pragtige rooi, blou of groen eenstuk.

Blou eenskouer eenstuk beskikbaar by Superbalist

Uitknipsels

Uitknipsels is vanjaar op al wat ʼn loopplank is gesien vir klere en aandrokke, en nou loop dié neiging ook oor na swemklere. Dit is ook ʼn slim idee om steeds ʼn bietjie lyf te wys, al dra jy ʼn eenstuk.

Eenstuk met uitknipsels beskikbaar by Cotton On

Diere-motiewe

Diere-motiewe het vanjaar bewys hulle kraai steeds koning. Van luiperd, tot sebra tot slangvelpatrone – gebruik diere se pelsjasse as inspirasie wanneer jy ʼn nuwe baaikostuum koop.

Bikini met diere-motiewe beskikbaar by Cotton On

Helder kleure

Somertyd is die ideale tyd om te eksperimenteer met helder kleure. ʼn Goudbruin lyf lyk ook dikwels ekstra mooi in helder kleure soos pienk, oranje en geel, of kies selfs ʼn swembroek met helder tropiese motiewe.

Helder bikini beskikbaar by Superbalist

Moue

Swemklere met moue is vanjaar hoogmode. Of dit nou ʼn eenstuk is of ʼn bikini-top met lang moue. Dit kan ook veral gepas wees as jy aan die Weskus vakansie hou waar die water yskoud is.

Swembroek met lang moue beskikbaar by Bacon Bikinis

Swart-en-wit

Daar is iets oor ʼn goeie swart-en-wit swembroek wat uiters gesofistikeerd is. Skaf een van ʼn goeie gehalte aan en dit kan jou jaar na jaar hou.

Swart-en-wit eenstuk beskikbaar by Woolworths

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.