Dra só grimering saam met ʼn masker

Ons almal het dit al gesien – daardie smeersel onderlaag of lipstiffie wanneer jy jou masker afhaal en jy wat dan met ʼn rooi ken en vaal lippe vinnig badkamer toe hardloop om dit te gaan opknap.

Daar is niks wat ons kan doen omtrent die feit dat ons ten alle tye maskers moet dra nie, maar ons kan wel ons grimeringroetine verander om by dié vereiste aan te pas.

Dit is die beste om sover as moontlik geen grimering onder jou gesigmasker te dra nie, om te voorkom dat jou masker jou velprobleme gee. Maar as jy vir ʼn spesiale geleentheid ʼn restaurant besoek of ʼn belangrike vergadering by die werk het, en jy kan nie anders as om grimering te dra nie, volg gerus hierdie wenke:

Hidreer

Voordat jy enigiets anders doen is dit belangrik om jou vel goed voor te brei vir grimering. Omdat jou gesigmasker jou vel kan irriteer, is dit uiters belangrik om ʼn gesigroom aan te wend wat jou vel goed sal hidreer.

Probeer gerus hierdie produk:

Neutrogena Hydro Boost

ʼn Basislaag (primer) wat klou

ʼn Goeie basislaag is uiters belangrik wanneer jy grimering onder ʼn masker wil dra. ʼn Goeie basislaag sal sorg dat jou onderlaag en grimering eerder aan jou vel vasklou, as wat dit na jou masker se materiaal oorgedra word.

Probeer gerus hierdie produk:

Maybelline Superstay Primer

ʼn Ligte onderlaag

Laat vaar voorlopig die swaar onderlaag en gebruik eerder ʼn ligte een of ʼn BB-room. BB-room is ook goed vir ekstra bevogtiging, wat sal help om irritasie te voorkom en jou grimering langer mooi sal hou.

Probeer gerus hierdie produk:

Garnier BB-cream

Poeier

Wanneer jy ʼn masker dra sal ʼn poeier help om te voorkom dat jou masker later met onderlaag besmeer word. Die poeier hou die onderlaag vas en sorg dat dit langer op sy plek bly.

Wend die poeier dik met ʼn sponsie aan, laat “bak” dit vir ʼn paar minute deur dit so dik op jou vel te los. En vee dan die orige poeier met ʼn borseltjie af.

Probeer gerus hierdie produk:

Essence compact powder

Fokus op die oë

Aangesien ʼn masker die een helfte van jou gesig toe maak, is dit nou die gulde geleentheid om ekstra aandag aan jou oë te gee. Speel rond met jou gunsteling-oogskadukleure en moenie vergeet van jou wimpers en wenkbroue nie!

Probeer gerus hierdie produk:

Essence Salut Paris

Lipstiffie

Probeer om eerder sonder lipstiffie te gaan, want die kans is goed dat die lipstiffie op jou masker gaan beland nog voordat jy dit afhaal. Gebruik eerder ʼn deursigtige lipsalf om jou lippe gesond te laat voorkom.

As jy regtig nie sonder lipstiffie wil uitgaan nie, gebruik ʼn langdurige mat-lipstiffie, eerder as een met glans. Dit smeer nie so maklik aan materiaal af nie, en sal jou ʼn beter kans gee om met jou gunsteling-kleur lippe by die kantoor of restaurant aan te kom.

Probeer gerus hierdie produk:

Maybelline Superstay Matt Ink

Gesigsproei

ʼn Gesigsproei is ʼn wonderlike ding om in jou grimeringkassie te hou. Wanneer jy klaar jou grimering aangewend het, spuit jy ʼn paar spuite oor jou gesig om jou grimering in plek te hou en langer te laat mooi lyk.

Wanneer jy grimeer vir onder ʼn masker, is hierdie stap uiters belangrik, omdat dit sal voorkom dat jou grimering aan jou masker afsmeer.

Probeer gerus hierdie produk:

Maybelline Lasting Fix

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae