Drie wenke teen velveroudering

Dit is die moeite werd om plek te maak in jou badkamerkassie vir hierdie drie teenverouderingsmiddels.

Vitamien C

Vitamien C is ʼn goeie anti-oksidant wat net so goed vir jou vel werk as vir jou liggaam. Vitamien C speel ʼn groot rol in jou vel se produksie van kollageen, wat elastisiteit verbeter en tekens van veroudering vertraag.

Hoewel velprodukte met ʼn hoë-konsentrasie Vitamien C kan help om vroeë tekens van veroudering soos plooie te voorkom, is dit belangrik om dit ook in ʼn gesonde dieet in te sluit deur byvoorbeeld koejawels, soetrissies, brokkoli, tamaties, aarbeie en lemoene te eet.

Oogroom

ʼn Goeie oogroom help om vog spesifiek in die vel rondom jou oog vas te vang. Die vel rondom die oog is dun en sensitief, en wanneer dit nie genoeg bevogtig word nie kan plooie maklik daar vorm. Wend oogroom soggens en saans aan om die vorming van plooie te vertraag.

Wend dit so aan: Druk ʼn klein bietjie oogroom op jou ringvinger uit. Druk dit dan liggies oor die lid van jou oog, onder jou oog en langs jou oog. Sowat die helfte van ʼn ertjiegrootte is genoeg room per oog. Maak ook seker jy druk dit liggies, moet nooit oor jou oë vryf of die room probeer insmeer nie, dit kan die vel mettertyd tyd rek en ouer laat voorkom.

Hierdie Kalahari-oogmasker kan help met pofferigheid om die oë, donker kringe en dit kan help met die vel se fermheid. Die formule bevat bestanddele soos kafeïen en vitamien C, P (flavonoids of bioflavonoids) en K. Besoek hul webtuiste hier.

Kalahari-oogmasker (R430)

 

Retinol

Retinol is ʼn magtige bestanddeel om voor te soek wanneer jy veroudering wil bekamp. Velprodukte wat retinol bevat is hoog in vitamien A, wat die produksie van kollageen aanhits. Retinol moedig ook die produksie van nuwe bloedvaatjies in die vel aan, wat die vel se voorkoms verbeter.

Wees wel versigtig wanneer jy vir die eerste keer retinol gebruik – dit vermeerder velsensitiwiteit, so mense word aangemoedig om uit die son uit te bly nadat hulle dit gebruik het. ʼn Mens se vel kan sensitief wees vir retinol, so maak jou vel stelselmatig gewoond daaraan deur dit byvoorbeeld eers twee dae per week te gebruik, voordat jy dit elke tweede dag gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.