Foto’s: Pta-vrou bring toe wel kroon huis toe

Marlize Kotze (Foto: Verskaf)

Die Pretoriase vrou wat verlede maand na Singapoer in Asië gereis het om Afrika in die Mrs Worldwide-kompetisie te verteenwoordig, het die kroon van eerste prinses in dié kompetisie huis toe gebring – en nou beoog sy ʼn wêreldwye liefdadigheidsprojek.

Marlize Kotze (35), ʼn junior projekbestuurder vir ʼn plaaslike maatskappy, het vroeër aan Maroela Media vertel sy wil aan dié kompetisie deelneem om ander soos sy aan te moedig om in enige gegewe stadium hul drome na te jaag – selfs al skree die doemprofete hardop.

Nou het Kotze wél ʼn kroon huis toe gebring, en die skoonheid vertel Woensdag aan Maroela Media sy beoog om haar stem te gebruik om minderbevoorregtes se lewens wêreldwyd te verbeter.

Kotze, wat as ʼn deelnemer van Africa Pageants oorsee gereis het, vertel benewens haar kroon as die eerste prinses het sy ook die titel as die sogenaamde Lady of Brilliancy gewen; iets wat “elke verwagting oortref het”.

“ʼn Mens gaan na hierdie kompetisies en verwag dat jy sommer net sal pret hê. Nooit in my wildste drome het ek verwag dat ek terug Suid-Afrika toe sal kom met twee titels nie,” vertel sy.

Marlize Kotze (Foto: Verskaf)

Kotze sê die kroningsaand in Singapoer op 25 Junie was ʼn senutergende geleentheid. “Aan die einde van die aand, net voor die finale kroning, is die top-10-finaliste aangewys. My naam is heel laaste uitgeroep; ek was totaal uit die veld geslaan. Jy verwag nie dat dit jóú naam gaan wees wat laaste gelees word nie,” vertel sy.

Die top-10-deelnemers moes ná die eerste aankondiging weer ʼn vraag van die beoordelaarspaneel beantwoord. Kotze is gevra wat sy sou kies tussen geld en onderrig; en haar antwoord was voor die hand liggend, vertel sy.

“Ek sal natuurlik in enige stadium van my lewe onderrig bo geld kies,” sê sy. “ʼn Mens moet altyd in jou lewe gretig wees om meer te leer. Boonop kan jy baie verder kom met onderrig, jy kan jou eie rykdom skep, waar ʼn paar duisend rand se geld vinnig sal opdroog.”

Dis na dié vraagsessie dat Kotze as eerste prinses gekroon is. Mev. Viëtnam het die kompetisie gewen en Mev. Rusland is as tweede prinses gekroon.

Kotze saam met Mev. Rusland en Mev. Viëtnam (Foto: Verskaf)

Sy sê dié kompetisie het haar oë vir nuwe wêrelde geopen. “Baie van die mense in die land is glad nie Engels magtig nie. Ek moes in die week wat ek daar was geleer het hoe om handseine te gebruik om met die mense te kommunikeer. Van die ander meisies het my as uitgesproke bestempel. Ek het besef ek is eintlik bevoorreg om in ʼn land te woon waar ek wél ʼn sê het, want nie almal het daardie voorreg nie.”

Kotze vertel sy en die ander deelnemers beoog om nou ʼn wêreldwye liefdadigheidsinisiatief van stapel te stuur. Dié inisiatief gaan nie-bederfbare kosse insamel en wêreldwyd aan minderbevoorregtes uitdeel, skryfbehoeftes vir minderbevoorregte skole insamel, en sanitêre ware insamel om saam met die 2019-wenner van die Mrs Africa Worldwide-kompetisie na Singapoer te stuur.

“Ek besef dat hierdie titel ʼn werkende titel is. Dis nou alles verby, maar ons kan nie sommer net van ons onderskeie projekte vergeet nie. Ek hoop om volgende jaar se kroningsgeleentheid in Singapoer weer by te woon en dat ons wêreldwye projek teen daardie tyd al ʼn groot impak gelaat het.”

Kotze saam met Mev. Rusland en Mev. Viëtnam (Foto: Verskaf)

Kotze se nasionale drag (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

CB ·

Wel gedaan. Maroela ek wens jul wil met Lorna Greyling wat pas haar kroon as MRS TRANSCONTINENTAL oorhandig het aan die nuwe MRS Transcontinental in USA, ‘n onderhoud hê. Jul het my e-pos as jul haar inligting wil hê. Een van die wonderlikste vroue wat ons land so mooi verteenwoordig.

Koos ·

Daar is deesdae meer skoonheidswedstryde as bokstitels. Lagwekkend.

Wonder ·

Sy is pragtig en baie geluk. Ek wonder net, waarom almal altyd die miderbevoorregte kaart skiet, as daar kompitisies is ens. Is dit die inding van vandag se lewe? Daar is baie ander dinge wat regtig hulp nodig het. Soos die beskerming van wilde diere. Siek mense wat hulp nodig het ens.

se net ·

Sy is baie mooi. Net dai drag van nasionale drag, wonder waar kom die rok vandaan en hoe pas dit in.
Maar sy is by verre die mooiste tussen die 3. Rusland lyk vir my effe soos n dooie standbeeld of n spook. Vrekken wit en bleek.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.