Gesigserum: Wat, waarvoor en hoe?

(Foto: Unsplash)

Jy gebruik al lank ʼn gesigroom, maar meer onlangs het die voordele van gesigserums ook bekend geraak. ʼn Gesigroom en ʼn serum het heeltemal verskillende funksies, maar albei is nodig in ʼn goeie velsorgroetine.

Serums kan vinniger resultate toon omdat dit jou vel dieper en met meer gekonsentreerde bestanddele binnedring. Hier is ʼn paar nuttige wenke oor serums en die gebruik daarvan.

Wat is ʼn serum?

ʼn Serum is ʼn dun vloeistof wat jou vel kan binnedring en gekonsentreerde aktiewe bestanddele bevat om jou velprobleme aan te pak.

ʼn Serum kan meer van die nodige bestanddele vinniger in die vel in vervoer, wat doeltreffende werking verbeter. Danksy die hoë konsentrasie van serumbestanddele kan ʼn mens ook gewoonlik vinniger resultate aan jou vel sien.

Anders as ʼn gesigroom is ʼn serum lig en dun en dit versprei baie maklik oor die vel. Aangesien ʼn serum dunner is, kan dit die vel dieper binnedring, in vergelyking met gesigroom wat die vel op die oppervlak bevogtig.

Waarvoor om te kyk as jy ʼn serum koop

Wat belangrik is in serums is dat dit aktiewe bestanddele bevat. Aktiewe bestanddele is byvoorbeeld vitamien C, retinol, hialuroniese suur (hyaluronic acid), salisielsuur (salicylic acid), vitamien B, steroïede en alfahidroksisure (alpha hydroxy acids). Verskillende serums hou verskillende voordele in, en die aktiewe bestanddele is die ding wat daardie probleem direk gaan beveg.

Kies ʼn serum met ʼn hoë konsentrasie van die aktiewe bestanddeel vir jou velkwessie. ʼn Olierige vel kan byvoorbeeld baat by ʼn serum met salisielsuur en ʼn droë vel kan gevoed word deur die kragtige bevogtiging van hialuroniese suur. Vitamien C en retinol kan weer gebruik word vir ʼn vel met lyne en plooie.

Wanneer jy ʼn serum koop, is ʼn goeie wenk om een te kies wat die aktiewe bestanddeel spesifiek noem. Die aktiewe bestanddeel moet die hoofbestanddeel en trekpleister wees. Soek ook iets wat nie ʼn room is nie, want dit kan jou vel nie so goed binnedring nie.

Hoe om serum te gebruik

Serums werk die beste wanneer dit met drie ander uiters belangrike velsorgstappe gepaardgaan.

Maak eerstens jou gesig skoon met ʼn gesigseep of -reiniger van goeie gehalte, wend dan die serum met skoon hande aan. Wanneer die serum in jou vel ingetrek het, wend gesigroom aan. Dit is ook altyd belangrik om ʼn sonroom aan te wend, veral as jy veroudering probeer vertraag.

ʼn Serum is dun en maklik om te versprei, daarom behoort jy nie meer as ʼn paar druppels serum nodig te hê om jou hele gesig en nek te bedek nie. Aangesien jy so min serum op ʼn slag gebruik, sal dit jou ook langer hou. Danksy die lang gebruiktydperk en die doeltreffende werking daarvan is ʼn serum ʼn goeie produk om jou geld in te belê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.