Grimeerkwas nou ‘saai Sannie’ se vriendin

Willem Botha se skoonheidswerksessie in Pretoria. (Foto: Maroela Media)

Ek het onlangs, heeltemal onbepland, op ’n koue Saterdagoggend die sanger, TV-aanbieder, fotograaf én grimeerkunstenaar Willem Botha se langverwagte skoonheidswerksessie, Make-Up Masterclass, in Pretoria bygewoon.

Ék – die meisie met die nederige grimeersakkie wat die maskaraborsel soggens skaars deur my wimpers trek voordat ek inderhaas by die deur uit waai!

Lang storie kort, my goeie vriendin se oulike skoonma het siek geword en kon ongelukkig nie meer die werksessie bywoon nie. En dít is hoe ek én my nederige grimeersakkie ons sonder enige verwagting by Botha se meestersklas bevind het – nog in dieselfde klere waarin ek daardie oggend by die plaaslike boeremark gaan draai het.

Ek het geen benul gehad wat om te verwag nie. Ek (én waarskynlik die arme tannie aan die tafel langs my wat sonder ’n draad grimering opgedaag het) was onder die indruk dat dit ’n klein skoonheidswerksessie sou wees waartydens ons sommer self sou grimeer terwyl Botha bystaan en help.

Willem Botha grimeer Leandie du Randt tydens die skoonheidswerksessie. (Foto: Melissa Meyer Photography via Facebook)

Klein was dit allermins nie.

Sowat 300 vroue, onder wie bekendes, het vir dié skoonheidswerksessie opgedaag waartydens Botha stap vir stap verduidelik hoe hy van die land se mooistes grimeer voordat hulle voor sy lens verskyn, met die aktrise Leandie du Randt as sy model.

Ek en my vriendin was in absolute vervoering. “No way, is dít hoe mens dit doen,” en “oeps, dis die fout wat ons ook maak,” het ons gereeld vir mekaar gefluister. Ons was selfs só beïndruk dat ons nog voor die einde van die klas in die ry gaan staan het om ’n lipstiffie vir skoonma en ’n verbronser vir my te koop.

Ek was selfs só geïnspireerd dat ek daardie middag direk vanaf die werksessie winkel toe is om nog basiese grimeerprodukte aan te skaf – min wetend dat ek die daaropvolgende week verskeie komplimente sou kry oor my grimering.

Hierdie 10 bekostigbare en maklike wenke het Botha tydens die werksessie gedeel:

  1. Voller en versorgde wenkbroue maak werklik ’n verskil aan ’n vrou se voorkoms. Botha se raad vir voller wenkbroue is verrassend eenvoudig én bekostigbaar: ’n gliseriensepie en haarsproei. Maak ’n pasta van ’n skeppie van die sepie en ’n paar sproeie haarsproei. Dié pasta word dan gebruik om die wenkbroue opwaarts te kam vir ’n voller voorkoms.
  2. Dit bring my by nóg ’n eenvoudige dog belangrike wenk: Grimeer altyd opwaarts vir ’n meer jeugdige voorkoms.
  3. Gebruik ’n basislaagsproei (primer) voordat jou onderlaag aangewend word. Dit maak jou vel gladder en verbloem porieë.
  4. Moet nooit jou onderlaag met jou vingers aanwend nie. (Ek is ’n groot sondaar wat dit betref.) Botha gebruik ’n sagte sponsie om onderlaag aan te wend. Dit is egter nie nodig om die sponsie nat te maak nie omdat die sponsie geneig is om dan baie van die produk te absorbeer.
  5. Dit is baie belangrik om jou onderlaag egalig én tot in jou nek aan te wend. “Dab, dab, dab met daardie sponsie,” het Botha ons gewys.
  6. Begin altyd in die middel wanneer jy jou wenkbroue inkleur. (Ek was geneig om van ’n kant af te begin inkleur.)
  7. Daar moet met oogskadu altyd eerder klem aan die buitekant van die oog geplaas word om die oë groter te laat vertoon. Hoe meer klem aan die binnekant van die oog geplaas word, hoe kleiner vertoon die oog.
  8. Botha begin eers met ’n ligte kleur grimeer voordat hy die donkerder kleure aanwend vir meer diepte.
  9. Wend verbronser aan waar die lig val. Dit sluit jou wangbene en die middel van jou neus in.
  10. Moenie te veel produk onder jou oë gebruik nie. Ek is geneig om meer onderlaag onder my oë te plak in ’n poging om enige donker merkies en plooitjies te verbloem. Dít doen ek nie meer nie nadat Botha daarop gewys het dat meer produklaag onder die oë juis geneig is om later deur die dag op die plooitjies te gaan “sit”.

Willem Botha se skoonheidswerksessie, Make-Up Masterclass, in Pretoria. (Foto: Maroela Media)

Willem Botha se skoonheidswerksessie, Make-Up Masterclass, in Pretoria. (Foto: Maroela Media)

 

Klik hier vir meer inligting oor Botha se splinternuwe grimeerreeks, Willem Botha Beauty.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

PYPORREL ·

Daar is deesdae min “net vir mans- of net vir vroue” beroepe… met Hannon en Willem is die ys behoorlik gebreek mvn grimmeer wenke en haarstyle en keuses van klere en al daardie goed!! Dit wil gedoen wees…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.