Haresorg: Koester jou krul

Argieffoto. (Foto: Pixabay)

Jou hare se krullerigheid word beïnvloed deur jou haarfollikels. Mense met krulhare is geneig om meer ovaal of assimetriese follikels te hê. Dit word natuurlik deur jou genetika bepaal.

Natuurlike krulhare is ook geneig om droër te wees, wat dit moeiliker maak om dit na wense te versorg. Hier is ʼn paar wenke en truuks om jou krulhare blink en gesond te hou:

  • Wees op die uitkyk vir ʼn sjampoe en opknapper wat spesifiek ontwerp is vir krulhare. Kies produkte wat natuurlike of essensiële olies soos klapperolie, jojoba-olie, sonneblomolie en avokado-olie, aalwyn (aloe vera), keratien, galambotter (shea-butter), gehidroliseerde sy- en diereproteïen, pantenol en provitamiene en plantekstrak bevat.

 

  • As jy jou hare daagliks wil was, gebruik ʼn sagte sjampoe wat sagter reinigings- en opknappingsmiddels bevat. As jou hare olierig of vuil is, gebruik ʼn sterker, verhelderende sjampoe een of twee keer per week. Gebruik altyd ʼn opknapper vir bevogtiging. Dit is egter nie ʼn goeie idee om jou hare elke dag te was nie – probeer eerder om die sjampoe vir elke derde dag te hou.

 

  • As jy baie growwe of krullerige hare het, kan jy dit oorweeg om ʼn voor-sjampoe-behandeling te gebruik. Opknapper kan ook gebruik word voor en ná jy jou hare gewas het, en hoef nie net ná ʼn was aangewend te word nie. Deur ʼn opknapper te gebruik voordat jy jou hare was, help jy om die haarstring te beskerm sodat die sjampoe nie die hare se natuurlike olies verwyder nie.

 

  • Warm water verwyder vog uit hare en droog dit uit. Deur jou hare met koue water te was, kan jy sorg dat jou hare se vog en sterkte behoue bly. Dit help ook om die haarkutikula te seël as jy jou hare met koue water afspoel.

 

  • Gebruik die regte borsel en borsel jou hare in die stort uit om te voorkom dat jou hare afbreek. Begin met ʼn wyetandkam om enige koeke uit te kry. Jy kan ook jou hare kam terwyl die opknapper nog aangewend is om te verseker dat die opknapper oor al die haarstringe versprei word. Belê in ʼn haarborsel met natuurlike hare in plaas van plastiek. Nog ʼn opsie is om glad nie ʼn borsel of kam te gebruik nie – as jy bonsende krulle het, gebruik ʼn opknapper wat nie afgespoel hoef te word nie en versprei dit deur jou nat hare met jou vingerpunte.

 

  • Die meeste haarstiliste sal aanbeveel dat krulhare natuurlik droog word, aangesien ʼn haardroër die hare kan beskadig en verder uitdroog. Wanneer jy egter jou hare met ʼn haardroër wil droogblaas, wend ʼn produk aan wat die hare teen hitte beskerm en hou die droër sowat 15 cm van jou hare af weg.

 

  • Oorweeg ʼn haarmasker, essensiële olies of opknapper wat nie afgespoel hoef te word nie om jou krulle te bevogtig terwyl jy slaap. Jy kan ook jou krulle beskerm deur ʼn kopserpie voor slaaptyd om jou hare te draai en dit te vermy om op jou rug te slaap.

Bron: Healthline.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.