Hoe om reg aan te trek: 10 reëls waarvan elke man moet weet

(Foto: Jeremy Beadle/Unsplash)

Die lewe is vol reëls. Party is egter daar om dinge makliker te maak, soos byvoorbeeld die wat bepaal hoe jy moet aantrek.

Natuurlik verskil mense se opinies hieroor en werk alle reëls nie altyd ewe goed vir almal nie.

Hier is ʼn paar aantrek-reëls vir mans wat die toets van tyd deurstaan het:

1. Dra ʼn pak wat pas:

ʼn Pak is ʼn “uniform”. Die manier waarop jy dit dra is wat mense beïndruk en nie die etiket aan die binnekant van die baadjie nie. Die geheim lê dus in hoe die pak wat jy kies pas. As jy by ʼn kettingwinkel koop, fokus op die pasvorm oor die skouers, want dit is ʼn relatiewe maklike taak om die bors en middellyf te verander.

2. Belê in ʼn goeie horlosie:

(Foto: Bryan Angelo/Unsplash)

Horlosies is baie persoonlik. Dit hou nie net tred van tyd nie, maar moet ook prakties wees. Estetiese, funksionele sportmodelle pas by enigiets en kan die harde stampe van alledaagse werkstoestande weerstaan. Tog moet ʼn horlosie ook by jou persoonlikheid pas. Dit moet gemaklik aan jou pols sit en die regte grootte wees – 40 mm word beskou as die Gouelokkies (Goldilocks)-grootte.

3. Moenie bang wees vir kleur nie:

Moenie bang wees om kleur deel te maak van formele of informele uitrustings nie. Die meeste mans is bang daarvoor, omdat hulle geïntimideer voel deur enigiets wat nie blou of grys is nie. Pienk of salmkleur, groen, mosterd en helderder bloue is veelsydige skakerings wat regdeur die jaar jou kleredrag sal ophelder.

4. Dra jou denim tot dit “joune” is:

(Foto verskaf)

Volgens Alex Mir, mede-eienaar van Forge Denim, is nou-afgewerkte denims (slim-tapered) die nuttigste snit van die wêreld se mees geliefde kledingstuk. Dit is wyer by die bobeen, so dit is gemaklik, maar vernou by die onderbeen. Die beste keuse is beslis ʼn donker skakering en die lekker ding is dat die manier waarop jy jou denim dra sal bepaal hoe dit verouder.

5. Versorg jouself:

(Foto verskaf)

Dit klink nou wel na die soort raad wat jou ma sal gee, maar omdat jy tyd en geld aan jou klere bestee het, is dit noodsaaklik om behoorlik daarna om te sien. Gebruik houthangers vir hemde; laat jou pak droogskoonmaak; was jou klere gereeld en probeer om dit nie te tuimeldroog nie omdat dit die materiaal kan beskadig; en poets jou skoene. Skep ʼn eenvoudige, maar doeltreffende, velsorgroetine, borsel jou hare en sny jou naels.

6. Hou jou onderklere eenvoudig:

(Foto verskaf)

Styl gaan nie net oor wat almal kan sien nie. Wanneer dit by onderklere kom, is daar twee baie belangrike faktore om in ag te neem. Een, helderkleurige motiewe is nie vir volwasse mans nie – “jou onderklere hoef nie jou ‘persoonlikheid’ te weerspieël nie,” meen onderklereontwerper, Emma Willis. “Tweedens is onderklere met duur handelsmerke nie altyd gesofistikeerd nie,” voeg Willis by.  Die styl wat die toets van tyd die beste deurstaan ​​het, is natuurlik die katoenbokserbroek, waarskynlik omdat dit (soos in die geval van linne) herhaaldelik gewas word, goed asemhaal en gemaklik voel teen jou vel.

7. Bestee geld aan duursame skoene:

(Foto verskaf)

“Tydloosheid gaan oor eenvoudige ontwerp en des te meer wanneer dit by skoene kom,” argumenteer Tim Little, eienaar van die skoenhandelsmerk, Grenson. “Die kleur, patroon en sool is eienskappe waarna jy moet oplet.” Gehalte-skoene is die soort belegging wat 15 jaar of langer behoort te hou.

8. Beperk bykomstighede tot ʼn minimum:

(Foto verskaf)

Bykomstighede soos dasse en sakdoeke verleen individualiteit aan klassieke klere, maar wees versigtig hoe jy dit aanwend. “Besluit op ʼn kleur of twee en maak seker dat jou bykomstighede dit komplementeer. Wanneer dit kom by hemp- en daskombinasies, kies ʼn das of sakvierkant in ʼn donkerder skakering as jou baadjie. Moet ook nie jou bykomstighede oordoen nie. As jy twyfel, hou by die reël van minder is meer en neem ʼn item of twee weg. “Mik daarvoor om nonchalant voor te kom,” voeg Hill by. “Jy het dus net een fokuspunt nodig.”

9. Kies veelsydige basiese items:

(Foto verskaf)

Die versoeking is dalk om ʼn klassieke styl te dra, maar moderne materiaal in donkerder skakerings en gemaklike snitte maak jasse wat hulle moet wees – liggewig maar ook beskermend. “Veranderinge in seisoenaliteit, klimaat en koopgewoontes laat swaar woljasse nou nie meer byhou nie. Dink eerder aan ʼn jas as jou laaste laag – een waaronder jy so veel of min kan dra as wat nodig is. ʼn Eenvoudige of bomber-styl baadjie is ʼn goeie en veelsydige opsie om te oorweeg.

10. Trek aan vir die geleentheid: 

Styl gaan nie net bloot oor selfuitdrukking nie; dit gaan ook daaroor om gepas aangetrek te wees vir jou omgewing. Dink aan klere as kodes: jy het die regte kombinasie nodig om te werk met die omgewing waarin jy is – of dit nou ʼn formele aandete of ʼn lui Sondag by die huis is. Soos een van Tom Ford se gereelde mode-aanhalings verduidelik: “Dit is ʼn teken van respek vir ander en om gemaklik te voel met jouself.”   Weet wanneer om by die reëls te hou en wanneer om dit te breek. Sekere reëls is daar vir ʼn goeie rede; tipies omdat die geleentheid dit vereis of omdat een of ander hoër gesag – dalk jou baas – dit verwag. Maar, net so, soos Michael Hill, kreatiewe direkteur van die handelsmerk Drake’s, tereg opmerk: “Kan ons ook te erg raak oor reëls, en daar is altyd ʼn tyd om daarteen te rebelleer”. Dit is tog hoe styl vorder, bietjie vir bietjie. “Geniet die vryheid wat jy nou het om foute te maak.”

(Foto verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.