Hoe werk gesigserums?

Argieffoto. (Foto: Unsplash)

Serums is ʼn wonderlike manier om die doeltreffendheid van jou vel se oggend- en aandbevogtigers ʼn hupstoot te gee en het ʼn langdurige gloeiende vel tot gevolg.

Serums is ʼn intensiewe behandeling wat ontwerp is om nuwe lewe in die vel te blaas. Die sagte, ligte tekstuur van ʼn serum penetreer die vel se oppervlak om dit vir daaglikse versorging voor te berei.

Die talle aktiewe bestanddele in serums het ten doel om die uitwerking van jou normale velroetine te versterk en verhoog die gloei, fermheid en soepelheid van jou vel.

ʼn Gesigserum behoort by jou daaglikse roetine ingesluit te word en is veral doeltreffend om die onvolmaakthede op jou vel te verbeter en kan gebruik word om die delikate oogarea, wat tot donker kringe geneig is, te bevogtig.

Die oorspronklike serums is ontwerp vir verouderde vel. Daar is egter vandag ʼn verskeidenheid serums beskikbaar vir elke soort vel, ook jong velle.

Hier is ʼn paar voordele van serums:

  • Dit word vinnig deur die vel geabsorbeer omdat dit dunner en ligter as bevogtigers is. Dit maak ʼn gesigserum die ideale eerste stap in die laagvormingsproses.
  • Dit kalmeer sensitiewe vel. Dit is oor die algemeen beter vir individue met olierige velle wat geneig is tot byvoorbeeld aknee.
  • Dit verbeter die voorkoms van lyne en plooie. Sommige gesigserums bevat bestanddele soos retinol, wat help om die voorkoms van fyn lyntjies en plooie te verminder.
  • Dit beskerm jou vel van toekomstige skade. Serums met bestanddele soos vitamien C, vitamien E, feruliese suur, groentee, resveratrool en astaxantien help om oksidatiewe skade van ultravioletlig en besoedeling, wat tot die voortydige veroudering van die vel en plooie kan lei, te beperk.

Argieffoto. (Foto: Unsplash)

Sommige serums werk beter in die oggend terwyl ander hulle beste werk doen wanneer dit in die aand aangewend word. As jy nie seker is watter serum reg is vir jou vel nie, gesels met ʼn gesertifiseerde dermatoloog.

Bronne: Clarins.com, Healthline.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.