Is ek te oud om sekere items te dra?

(Foto verskaf)

Deur Lizel van der Westhuizen

Na 50 begin die meeste vroue se styl natuurlik ontwikkel om aan te pas by die veranderinge in hul lywe en lewens. Hierdie veranderinge hoef nie onstylvolle gevolge te hê nie; dit beteken bloot ʼn herbesinning van die neigings wat voorsiening maak vir jou veranderende omstandighede en vorm.

Alle vroue, ongeag hul ouderdom, vorm, gewig of lengte, kan ongelooflik lyk – al wat nodig is, is kundigheid en ʼn bietjie oefening.

1. Jy is so jonk soos jou gesig en gees

Daar is ʼn verskil tussen hoe oud jy is en hoe oud jy voel.

Baie vroue lyk nie so oud soos wat hulle regtig is nie en is nog jonk van gees. Hulle ken hul persoonlike styl en kies klere en bykomstighede wat vleiend is en by hul leefstyl pas.

2. Wys net genoeg vel

Om te weet hoeveel vel om te wys, is baie belangrik wanneer jy stylvol wil lyk oor 50. Daar is verskeie areas van die liggaam wat geneig is om ouderdom weg te gee, soos die gesig, nek, hande, bo-arms, dye en borsarea.

(Foto verskaf)

3. Neklyne

Hoeveel van jou nek jy ontbloot, hang af van die toestand van jou vel en die lengte van jou nek. V-neksnitte en oop krae is baie vleiend en altyd in die mode.

Die boonste décolletage van die meeste vroue bly redelik ferm en glad en maak voorsiening vir baie neklyn-neigings. Dit is net diep halslyne, wat jou borsarea ontbloot en ʼn effense plooiende klowing kan wys, wat vermy moet word vir ʼn meer jeugdige voorkoms.

4. Bo-arms

Hierdie is ʼn algemene area wat vroue bo 50 bekommer. Bors- tot halflengte moue kan baie vleiend wees en daar is tans baie klokmoustyle om van te kies. Deursigtige moue is altyd ʼn wenner, omdat dit die beste van albei moontlik maak.

(Foto verskaf)

5. Bobene en rugarea

Lengte is ʼn groot faktor om in ag te neem wanneer jy moet aantrek vir jou ouderdom.

ʼn 60-jarige behoort nie dieselfde mini-romp te dra as ʼn 16-jarige wanneer sy stylvol wil lyk nie. Die rede hiervoor, is omdat ons dye nie noodwendig meer na 50 ons beste eienskap is nie.

Ek beveel aan dat jy ʼn rok of romp moet vermy as die soomlyn hoër as 2.5 cm bo die knie of die spleet té hoog is. Kortbroeke moet ook nie korter as die middel-dy wees nie.

Ooprug-aandrokke en -swemklere wat baie laag gesny is, mag dalk ook nie vleiend wees nie.

(Foto verskaf)

6. Styl en jou silhoeët

Hierdie reël geld nie net vir ouderdom nie, maar ook in die algemeen. As iets ongemaklik of beperkend voel en dit beklemtoon onvleiende bulte, is dit nie vleiend of stylvol nie.

As daar een goue reël is wat ek vir dames bo 50 kan gee, is dit om gemak ʼn prioriteit te maak. Daar is baie vleiende en stylvolle items wat jy kan dra wat jou nie ongemaklik sal laat voel nie.

Kledingstukke wat jou kurwes beklemtoon sal altyd meer vleiend wees as ’n reguit snit wat styf en boksagtig voorkom, ongeag van jou gewig, vorm of ouderdom.

Die vorm van kledingstukke is sielkundig gekoppel aan jeugdigheid en behendigheid, terwyl die omgekeerde waar is van vormloosheid.

(Foto verskaf)

7. Jou middel

Dit is ʼn area wat meer uitdagings bied soos wat jy ouer word. As jy ʼn lang lyf en gedefinieerde middellyf het, sal hoë middellyf-ontwerpe altyd in jou guns werk. ʼn Hoë middellyf kan ʼn vleiende pasvorm skep en dit is ook in die mode.

(Foto verskaf)

8. Kleur, patroon en bykomstighede

Hierdie mode-elemente is ’n prettige manier om stylvol en in die mode te bly sonder om die bank te breek. Hulle is dikwels die spilpunte wat jou klassieke uitrustings modern kan hou.

Patrone wat té hard of helder is, kan met iets vervang word wat medium tot laag in kontras is. Jy hoef nie noodwendig by klassieke kleurpalette te hou nie, maar maak seker dat die kleure wat jy kies by jou pas.

Gelukkig is daar soveel kleure en patrone beskikbaar dat jy verseker iets sal vind wat by jou styl pas.

(Foto verskaf)

Vrae oor aantrek wat jy jouself moet vra soos wat jy ouer word:

  1. Wys dit te veel lyf?
  2. Is dit vormloos?
  3. Is dit te helder?
  4. Is die styl vleiend?
  5. Pas dit my persoonlikheid?

Die vraag of jy te oud is om iets te dra, kan maklik beantwoord word deur ʼn proses van eliminasie. Pas klere aan, bepaal wat die beste lyk en waarin jy die gemaklikste voel.

Moet nooit ophou om met jou styl te eksperimenteer en pret te hê met jou klere nie, want ouderdom is net ʼn nommer.

(Foto verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Racheltjie Debeer ·

Net jammer nie 1 van die modelle op die foto’s dra klere van grootte 24 en op nie. Dit help nie julle wys slegs vir maer mense hoe om aan te trek nie.

Nommer 7 ·

Asseblief dame, as u in die 80’s ‘n tiener was, met ‘n 80’s haarstyl, is dit nou tyd om u haarstyl te verander!

Linda ·

En nog n reel wat agterweë bly: Tattoos verdoesel nie plooie nie, dit beklemtoon eerder jou veroudering of lei die aandag direk na jou probleem areas toe.

Delia ·

Tattoos word nie noodwendig gebruik om in die mode te wees of om plooie te verdoesel nie. My 2 het n diep betekenis dat baie diep waters.
Daar is lank genoeg moets en moenies op ons afgedwing.
Doen net waarmee jy gemaklik voel.

Delia ·

Wie besluit wat is jou probleemareas. Moenie dat mense en tydskrifte vir jou voorskryf nie. Dra waarin jy gemaklik en stylvol voel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.