Kameel-poeiermelk nuwe toevoeging tot velsorg

Die kameelkoeie word in ‘n stalhok gejaag en met ‘n mobiele melkmasjien gemelk. (Foto: Du Preez de Villiers)

In die eerste gedeelte van hierdie artikel het Maroela Media by Hans Knoesen in die Kalahari gaan kuier om meer te wete te kom oor sy kameelmelkery. In hierdie deel van die artikel gaan ons met hom en sy vrou, Eleonor gesels oor die velsorgprodukte wat sy van kameelmelk maak.

Knoesen sê ʼn kameel is die ideale dier vir die Kalahari, is gehard en kan die hitte hanteer. “Ons melk twee keer per dag ten spyte van die versengende 40 ˚ C wat hier heers. Dit beïnvloed nie ons produksie nie.

“Dit sou egter baie makliker wees as ons nader aan ons mark kon wees.”

 

Kamele aard baie goed in die Kalahari, terwyl hul melk voortreflike gesondheidseienskappe het. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Om kameelmelk uit die Kalahari tot by die mark in die groot stede te kry werk soos volg: Op ʼn Vrydag is daar genoeg voorraad sodat Knoesen dit Upington toe kan neem. Nadat hy en sy melkspan van twee baie vroeg die oggend die eerste melkskof afgehandel het, het hy met sy gebottelde, gevriesde melk die 250 km na Upington aangedurf. Daar is dit op ʼn trok gelaai en Kaapstad, Johannesburg en Durban toe geneem. By dié bestemmings is daar firmas wat die verspreiding doen.

Hulle bemark dit as ʼn produk teen diabetes en die mark steun dié onderneming.

“Daar word beweer dat kameelmelk veral kinders met outisme help om hul gedrag te verbeter en dit herstel die mikrobe-samestelling in jou spysverteringstelsel, wat weer gifstowwe uit jou stelsel verwyder, wat die opname van voedingstowwe verhoog,” sê Knoesen.

Hy sê ʼn vrou in Bloemfontein het gesweer dat kameelmelk kankerwerende eienskappe het en daar is ook navorsing gedoen en bevind dat sekere proteïen in die melk kankerselle beveg. Die vrou en haar broer het die melk in Johannesburg versprei.

Ten spyte van al hierdie wondereienskappe is die bedryf baie klein en Knoesen het weldra besef dat sy boerdery nie kan groei as hy kameelmelk as ʼn kommoditeit verkoop nie. Hy moes waarde toevoeg.

 

Die melk vir ‘n dag se tweede melksessies. Die oggendskof lewer twee derdes en die aandskof ʼn derde van die dag se produksie. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Hy sê hoewel daar baie positiewe terugvoer was, is die kameelmelkbedryf baie beperk en hy kon net ʼn paar liter op ʼn slag wegstuur as daar bestellings was.

“Jy sal ʼn tydperk kry waar jy vir twee, drie weke nie kan voorbly met bestellings nie, waartydens al die kliënte voorraad opbou. Daarna was dit doodstil en soms moes ek met slegs twee bokse Upington toe ry. In die eerste jaar het ek nie meer as ses bokse per week verkoop nie, wat ongeveer 150 liter is.

“Dit was bloedsweet en gesukkel en ons kon nie mooi uitwerk hoe om dit te maak werk nie.

“Ons het dus baie skoolgeld betaal en baie liters melk weggegooi. Dan is daar nie bestellings is nie en dan is dit nie melktyd nie,” sê Knoesen.

“Ons het ook ʼn ander groot probleem gehad. Almal wou die melk vars en ongepasteuriseer hê, maar ons het net gesê ons kan nie dit doen nie. Die logistiek was net te moeilik om vars melk uit die snikhete Kalahari tot in die stede te kry.

“Daar was ook nie ʼn kans om gevriesde melk in ʼn winkel te verkoop nie, want die klante het nie in die vrieskaste gaan soek as hulle melk wou koop nie. Hulle stap dadelik na die yskaste toe om vars melk in hul mandjies te pak. Wanneer gevriesde melk ontdooi is, hou dit net vyf dae voordat dit sleg word.”

Daar was ook nie altyd bottels in Upington beskikbaar nie.

Daar het mettertyd ook te veel middelmanne in die verskaffingsketting beland.

“Ek het wel geweet dat kameelmelk baie potensiaal het. Die vraag was net, wanneer en wat kon ek doen om gereed te maak daarvoor.

“In die Midde-Ooste, Australië, die VSA en Europa is dié bedryf mooi aan die gang, maar Suid-Afrika is agter en ons weet dit neem langer om hier nuwe neigings te aanvaar,” sê hy.

Poeiermelk tot die redding

Hans het toe op iemand afgekom wat poeiermelk in die Kaap maak en gevoel hier kom ʼn deurbraak, maar toe breek Covid-19 aan en tydens die inperking het sy voorraad net opgehoop.

 

Eleanor Knoesen wys hoe lyk haar velsorgprodukreeks wat uit kameelpoeiermelk vervaardig word. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

 

“Ek was raadop en vra toe my vrou, Eleanor, ʼn voedingskundige, om asseblief net iets met die klomp poeiermelk te doen.

“Sy begin toe eksperimenteer en kort voor lank het sy met ʼn uitgebreide velsorgreeks na vore gekom.”

ʼn Webwerf met ʼn aanlyn winkel het spoedig gevolg.

Knoesen en Pierre van Niekerk van @EcoHealth, ʼn gesondheidsprodukte-onderneming in Centurion, se paaie het onlangs gekruis. Laasgenoemde het ook ʼn aanlyn winkel met verspreiders regoor die land. Hy het ʼn massiewe gevolg van amper 120 000 volgelinge op Facebook.

“Vandag vat hy al my voorraad en ek kan ek nie genoeg voorsien nie,” sê Knoesen.

“Nou kort ons kamele. In Februarie, Maart verlede jaar moes ons kamele verkoop om aan die gang te bly en nou sal ek 200 koop as ek kan kry.”

Intussen moes hulle die melkkliënte bevredig, want dit was steeds ʼn stabiele inkomste wat hulle aan die gang gehou het.

Boonop moet Knoesen tans omtrent ʼn goëltoertjie uitvoer om al sy melkpoeierkliënte tevrede te hou.

Dit is ook ʼn toertjie om sy mark te vergroot terwyl genoeg voorraad verskaf moet word, “maar ons weet dat die mark nou daar is en ons moet net deurdruk”.

Knoesen droom ook daarvan om poeiermelk uit te voer, want die mark is uiters groot.

ʼn Besondere velsorgreeks

In 2020 het Eleanor begin om op die plaas met seep te eksperimenteer en het sy formulerings uitgewerk. Sy het haar produkte Afriqueen gedoop. Daarna het die groot ontwikkeling in velsorgprodukte posgevat.

“Ons het begin om seep te maak en toe het mense gevra vir lipsalf en toe word dit lyfrome en toe handrome en toe dag- en nagrome,” sê sy. “Binnekort gaan ons vloeibare seep in die pompbotteltjies bekendstel,” sê sy.

Eleonor sê sy gebruik vars melk in die seep en poeiermelk in die res van die produkte.

Die verwerking na poeiermelk word in die Strand gedoen en Knoesen stuur elke keer omtrent ʼn ton melk af Kaap toe, waarna die finale produk weer terug plaas toe gestuur word.

Knoesen sê omdat kameelmelk ʼn baie jong bedryf is en daar nog nie regulasies vir kameelmelk bestaan nie, is dit moeilik vir hom om enige raad en ondersteuning te kry, maar hy sê hy voldoen aan die gewone melkstalregulasies en pas dit streng toe.

“Daar is beslis ʼn toekoms vir kameelmelkprodukte, spesifiek poeiermelk. As die mark doen wat hy nou doen en as dit in Suid-Afrika werk, sal ons dit ook kan uitvoer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.