Kapsule-klerekas vir die 21ste eeu

Omskep jou klerekas met hierdie handige strategie een waar jy al die kledingstukke altyd kan, en wil gebruik. (Foto: Artem Beliaikin/Pexels)

Die ou gesegde, “uit die was aan die lyf”, is waarskynlik op jou klerekas van toepassing. Navorsing toon dat die meeste vroue slegs 80% van hul klerekas benut en dit is hoekom jy daai gunsteling-toppie of -rokkie oor en oor dra.

Klerekas.com stel voor dat jy ʼn kapsule-klerekasstrategie oorweeg.

Wat is ʼn kapsule-klerekas?

 ʼn Kapsule-klerekas bestaan uit ʼn versameling items wat noukeurig uitgekies is. Hierdie items is gewoonlik tydloos en lyk altyd sjiek, maak nie saak wat die geleentheid is nie. Jy kan hierdie uitgesoekte items ook afwissel om ʼn verskeidenheid van uitrustings te skep.

Die uitgesoekte items is gewoonlik neutraal en pas by alles. Dit kan gestileer word sodat dit oor en oor gedra kan word sonder om herhalend te voel of só te vertoon.

Die geskiedenis van ʼn kapsule-klerekas

Alhoewel ʼn kapsule-klerekas deesdae baie aanhang geniet van ontwerpers en stileerders, het dit eintlik al in die 1970’s in Frankryk begin. Susie Faux het ʼn modehuis in Londen begin met die naam “Wardrobe”. Hier het sy minimalistiese items van hoë gehalte verkoop, wat veelsydig genoeg was om vir verskeie geleenthede benut te kan word. Haar doelwit was om vroue deur die klere wat hulle dra te bemagtig.

Die idee het gou na die VSA oorgespoel en in 1985 het Donna Karan ʼn reeks bekendgestel, naamlik die sewe-mode-items-reeks. Hierdie klerereeks het bestaan uit slegs sewe items, maar die items kon só gestileer word dat jy verskeie uitrustings daarmee kon saamstel. Dit was ʼn wegholsukses.

Hoekom moet jy ʼn kapsule-klerekas oorweeg?

Daar word gesê dat die gemiddelde persoon 35 000 keuses elke dag moet uitoefen; dis ongeveer 2 000 keuses elke uur of een keuse elke twee sekondes. G’n wonder mens voel soms uitgeput nog voordat jy jou uitrusting vir die dag gekies het nie.

Die voordeel van ʼn kapsule-klerekas is dat jy minder klere-items het om van te kies en die items in jou klerekas raak op sigself pasmaats. Dit is sekerlik ook dan jou gunsteling-items, soos items waarin jy goed voel en op jou beste lyk.

Voordele sluit in dat jy minder keuses hoef uit te oefen wanneer jy jou uitrusting vir die dag uitkies. Dit spaar ook tyd; jy hoef nie meer eindelose ure voor ʼn oorvol klerekas deur te bring, met steeds “niks om aan te trek nie”, want jou keuses is heelwat meer beperk.

Boonop bespaar dit jou ʼn sak vol geld, want al die items is veelsydig en kan saam met ʼn verskeidenheid van ander items gedra word.

Die hele idee agter ʼn kapsule-klerekas is om doelbewus klere te koop, dít wat jy in jou klerekas het te dra en 100% van jou klerekas te benut.

Hoeveel items het jy werklik nodig?

Dit hang van mens tot mens af, maar gewoonlik tussen 30 en 50 items. Dit hang alles af van jou persoonlike styl en begroting.

Oorweeg die volgende items vir jou kapsule-klerekas:

  •  ʼn Wit bloes
  • ʼn Swart bloes
  • ʼn Denim
  • ʼn Swart broek
  • ʼn Beige broek
  • ʼn Romp
  • ʼn Vleiende rok
  • ʼn Veelsydige baadjie soos ʼn denimbaadjie, of ʼn kollegebaadjie (blazer) in ʼn neutrale kleur
  • ʼn Gehalte-handsak
  • Formele skoene, byvoorbeeld vleeskleurige hakskoene
  • Informele skoene, byvoorbeeld wit tekkies

Wenke om jou perfekte kapsule-klerekas bymekaar te sit:

 Hou jou leefstyl in gedagte

 Verwyl jy die meeste van jou tyd agter ʼn lessenaar of hardloop jy van die een plek na die volgende? Vereis jou werk dat jou klerestyl meer formeel of informeel is? Wat is jou styl en persoonlikheid?

Kies ʼn kleurpalet

Kies een basiese kleur soos wit, swart of vlootblou (navy) vir jou kapsule-klerekas, asook twee ander kleure wat by mekaar pas. Kies dan een aksentkleur.

Hou die items wat jy die meeste dra in gedagte wanneer jy jou klerekas se kleurpalet kies. Dit help nie jy kies rooi as ʼn aksentkleur, maar jy het nie ʼn baadjies of skoene wat daarby pas nie.

Basiese items

Basiese items is die items wat jy gebruik om enige uitrusting bymekaar te sit. Denims, baadjies, bloese met ʼn neutrale kleur en skoene van goeie gehalte is goeie stapelitems waarmee elkeen ʼn klerekas kan begin.

Noudat ons lente vier, is dit ʼn goeie tyd om jou klerekas te herbedink. ʼn Kapsule-klerekas is ʼn staatmaker wat jou altyd soos ʼn stylikoon sal laat voel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.