Kies klere wat jou liggaamsvorm pas

(Foto: Amanda Vick/Unsplash)

Deur Rianca de Wet

Jy ken sekerlik daai moedelose gevoel wanneer jy voor jou klerekas staan en dink: “Ek’t ʼn kas vol klere en niks om aan te trek nie!”

Navorsing toon dat die gemiddelde mens slegs 20% van die klere in sy/haar klerekas benut. Daarom dra jy jou gunsteling items oor en oor en voel jy gereeld mismoedig omdat jy niks het om aan te trek nie.

Daar is verskeie redes hoekom jy 80% van jou klere minder gereeld dra, maar een groot rede daarvoor is omdat jy nie klere koop wat by jou liggaamsvorm pas nie. Die item is dalk vir jou baie mooi en die materiaal is pragtig, maar vir een of ander rede hou jy nie van die spieëlbeeld wat jy van jouself kry wanneer jy die spesifieke kledingstuk aantrek nie.

Daar is soveel wenke en kennis op sosiale media en in tydskrifte beskikbaar wat jou presies verduidelik hoe om prentjiemooi te lyk én te voel. Dink maar aan daai staatmaker-raad wat jy elke oggend benut wanneer jy jou uitrusting vir die dag kies, of selfs wanneer jy vir ʼn skemerkelkie gereedmaak.

Een van die beste wenke is om jou liggaam te ken. Daar is vier tipes liggaamsvorms en elkeen het sterk- en swakpunte. Dit is belangrik dat jy jou liggaam se beste bates benut – só sal jy nie net goed lyk nie, maar ook goed voel.

Onthou, jou liggaamsvorm is die genetiese manier hoe jou bene gevorm is; dit maak jou uniek en daarom kan jy gerus jou skoonheid omarm.

Die vier tipes liggaamsvorms is:

Van die algemeenste liggaamsvorme. (Foto: StyleByJamiela.com)

A-vorm

  •  Hierdie is die mees algemene liggaamsvorm met soveel as 75% van vroue wie met die volgende eienskappe kan assosieer:
  • Jou heupe en bobene is breër as jou bors.
  • Wanneer jy gewig optel, is dit gewoonlik in jou onderlyf.

V-vorm

  •  Jy het breër skouers, dun heupe en is gewoonlik slank met gespierde bene.
  • Wanneer jy gewig optel, is dit gewoonlik in jou bolyf.

X-vorm

  •  Die X-liggaamsvorm is die mees gebalanseerde en ideale liggaamsvorm.
  • Jou skouers en jou heupe is ongeveer ewe breed, met ʼn dun middel.
  • Jy tel eweredig gewig tussen jou bolyf en onderlyf op.

I-vorm

  • Jou skouers en heupe het ongeveer dieselfde mates.
  • Jy tel gewig in jou maag-area op.

Hoe om jou liggaamsvorm te bepaal:

Wanneer jy jou mates neem en jou heupe is met sewe en ʼn half of meer sentimeter breër as jou skouers, val jy in die A-kategorie.

As jou borsmaat enigsins meer is as dié van jou heupe, het jy ʼn V-liggaamsvorm.

Wanneer jy jou mates neem en jou heupe en skouers verskil met minder as 7 cm van mekaar, en jou middel is 18 cm of meer kleiner as jou borsmaat, val jy in die X-kategorie.

Wanneer jy jou mates neem en jou heupe en skouers verskil met minder as 7 cm, val jy in die I-kategorie.

Die styl van ʼn klere-item is hoe die item by jou liggaamsvorm pas. Wat lyk mooi en wat beklemtoon jou beste eienskappe?

Hier is ʼn paar wenke om volgens jou liggaamsvorm aan te trek:

(Foto: FashionActivation.com)

Dit is belangrik om te onthou dat jy altyd balans wil skep. Wanneer jy aantrek, wil jy die illusie van ʼn X-liggaamsvorm skep, omdat die X-liggaamsvorm die mees gebalanseerde liggaamsvorm is.

A-liggaamsvorm

As jy ʼn A-liggaamsvorm het, is jy groter in jou onderlyf en wil jy dus nie aandag op jou onderlyf vestig nie.

Jou doel is om volume in jou bolyf te skep, want jy het reeds ʼn bietjie meer volume in jou onderlyf. Wanneer jy in jou bolyf volume skep, balanseer jy jou liggaam.

ʼn Persoon met ʼn A-liggaamsvorm lyk goed met eenvoudige, effekleurige broeke en rompe saam met besige bloese met patrone, groot krae of pofmoue.

Bykomstighede soos bonkige juwele en helder lipstiffie sal ook help om die aandag na jou bolyf te trek en jou liggaam só te balansseer.

Jy wil ook nie hê jou bloes of baadjie moet op die breedste deel van jou liggaam eindig nie, want dit trek die aandag weer dadelik na jou heupe en laat jou breër lyk.

V-liggaamsvorm

ʼn V-liggaamsvorm is die teenoorgestelde van ʼn A-liggaamsvorm.

Indien jy ʼn V-liggaamsvorm het, is jou bolyf groter as jou onderlyf. Jy wil dus jou bolyf verslank deur middel van die klere wat jy aantrek.

ʼn V-nek hemp of bloes sal jou nek langer laat voorkom en jou bolyf verslank.

Hoe smaller die hemp se V-vormige halslyn, hoe maerder sal dit jou bolyf laat lyk. Hoe breër die V-vormige halslyn, hoe breër sal dit jou bolyf laat lyk.

ʼn Hemp met ʼn ronde neklyn sal jou bolyf groter laat lyk; vermy dit eerder.

Maak seker dat jou moue ook nie op die breedste deel van jou bolyf eindig nie, want dit sal jou ook groter en breër laat lyk.

Kies eerder effekleurige bloese en baadjies.

Skep volume in jou onderlyf deur vloeiende rompe of wyepypbroeke met patrone op te dra.

Indien jy mooi, gespierde bene het (wat baiekeer die geval is met ʼn V-liggaamsvorm) dra ʼn mooi regaf rokkie wat jou bene ten toon sal stel.

X-liggaamsvorm

Die X-liggaamsvorm moet jou middel met die klere wat jy dra beklemtoon. Jou middel is jou grootste bate.

Dra rokkies met ʼn middellyn, of ʼn oorvourok of -hemp wat jou middel sal beklemtoon.

Probeer gerus ʼn groot, bonkige beld wat die aandag op jou middel vestig.

Potloodrompe en denims met ’n hoë middellyf sal al die regte plekke beklemtoon.

I-liggaamsvorm

As jy ʼn I-liggaamsvorm het, wil jy die illusie probeer skep dat jy wel ʼn middel het.

Indien jy maer is, is ʼn beld ʼn goeie bykomstigheid om te gebruik om vir jou ʼn middel mee te skep. Of dra ʼn pragtige heupvalbloes (peplum) waar die valletjie onder die middellyn vir beklemtoning sal sorg.

Indien jy ʼn voller figuur het, moet jy eerder nie ʼn beld of enigiets anders dra wat te veel aandag na jou middellyf sal trek nie. Dra eerder ʼn bloes of baadjie wat die aandag na jou skouers sal trek.

Moet ook nie bykomstighede (soos serpe) dra wat op die breedste deel van jou liggaam eindig nie.

Indien jy ʼn groot middel het, moenie ʼn broek kies wat in jou middel eindig nie en vermy dit ook om jou hemp in te steek en aandag na jou middellyf te trek.

Wanneer jy na iemand kyk, sien jy heel eerste die uiterlike raak, en daarom wil jy van kop tot tone op jou beste lyk.

ʼn Groot deel van jou voorkoms bestaan uit die klere wat jy dra, so maak seker dat die klere wat jy kies jou beste eienskappe ten toon stel en hou altyd jou liggaamsvorm in gedagte wanneer jy volgende keer nuwe klere koop.

Wanneer daai gevoel van moedeloosheid weer aan jou klerekas se deur kom klop, stoot dit eenkant toe, trek met selfvertroue aan en weet dat jou liggaam elke dag op die beste manier vir jou kan werk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.