Klerekasdilemma – moet ek dit koop?

Foto ter illustrasie. (Foto: Artem Beliaikin/Pexels)

Deur Rianca de Wet

Jy spandeer al ure aanlyn, jy is besig om jou laaste selfoondata te gebruik en dit maak nie saak hóéveel keer jy deur die foto’s blaai of dit vergroot nie, jy het jou hart op ʼn pragkledingstuk verloor. Elke oomblik is ʼn kopkrapstryd, want jy kan nie besluit of jy werklik die item nodig het nie.

Volgende keer kan jy hierdie wenke benut om nie net tyd te spaar nie, maar ook om werklik items te koop wat die res van jou klerekas sal komplimenteer:

  1. Probeer om ten minstens aan vyf items in jou huidige klerekas te dink wat jy saam met hierdie item kan dra.

Dit is alles goed en wel dat die toppie ʼn pragstuk is, maar watter items in jou klerekas kan daarmee gekomplimenteer word? Dalk ʼn denim, ʼn elegante baadjie, ʼn formele broek, hakskoene of selfs jou gunsteling serp?

Die eerste reël is om jouself aan jou bestaande kleurskema te herinner. Indien jou klerekas oorwegend aardse kleure bevat, sal dit goed wees indien jy eerder kleurvolle patrone vermy.

  1. Vra jouself af hoe gereeld jy die spesifieke item sal aantrek

Daar is natuurlik altyd daai een spesiale geleentheid waarvoor jy ʼn unieke item moet aanskaf, maar meestal koop jy klere om weekliks benut te kan word.

Indien dit ʼn duur item is, probeer in gedagte hou hoe gereeld jy die item gaan gebruik. Leerskoene of ʼn leerhandsak kan heeljaar gebruik word, en daarom is dit die moeite werd om bietjie meer aan só ʼn item te spandeer.

  1. ʼn Goue vraag is of dit ʼn aanwins tot jou klerekas sal wees

Ons almal verval somtyds in die gewoonte dat ons byvoorbeeld baie van swart klere, of van iets soos linnemateriaal hou en dan oor en oor soortgelyke items koop. Indien jy reeds ʼn paar swart skoene het, is dit nie nodig om weer geld te spandeer aan nóg ʼn paar nie. Belê dan eerder in ʼn kleur wat nog nie in jou klerekas voorkom nie.

  1. Is dit goeie gehalte?

Met aanlyn inkopies is dit moeilik om deur ʼn foto die kwaliteit van die item te bepaal. Dit is altyd gepas om te kyk na die produkbeskrywing en dan oor die tipe materiaal waaruit die item vervaardig is op te lees.

  1. Pas die item by jou persoonlike styl?

Die meeste dames geniet dit om die nuutste mode te volg, maar dit kan baie duur en korttermyn gefokus wees. Dit is hoekom dit belangrik is om jou persoonlike styl en voorkeure te ken. ʼn Item wat tans hoogmode is sal jou oor minder as ʼn paar maande rooi in die gesig laat. Wees jouself en vorm jou eie uniekheid.

  1. Is die item vleiend vir jou figuur?

Aan die einde van die dag moet jy steeds goed lyk en goed voel in die item. Jy hoef glad nie skaam te wees vir jou liggaamsvorm nie, maar moet ook nie dat ánder skaam kry vir die klere wat jy aantrek nie.

  1. Kan jy dit bekostig?

Jy hoef nie altyd iets te koop net omdat dit ʼn winskopie is nie. Maak seker dat dit jou begroting pas en dat jy dit wel kan bekostig. Robert Kiyosaki meen in sy baanbrekersboek, Rich Dad, Poor Dad, dat jy jou geld op iets moet spandeer wat weer vorentoe vir jou waarde kan skep. Dit is dieselfde met klere.

Tog is daar niks so lekker om ʼn nuwe kledingstuk aan te trek, in die spieël te kyk en komplimente te ontvang nie. Lig jou ken op, dra jou gunsteling lipstiffie en koester jou styl en items in jou klerekas.

Volgende keer wanneer jy wonder of jy ʼn item moet aanskaf, kan jy hierdie wenke vir praktiese advies volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Belinda

Koop nooit aanlyn nie want dis altyd nie die regte grootte of dis glad nie soos die prentjie nie (cheaper materiaal of wat ookal) en dan verkoop ek ook nooit my ou klere nie, ek skenk dit aan die minder bevoorregte mense of aan Hospice.