Koop ’n denim wat gemaklik pas

(Foto: Waldemar/Unsplash)

Deur Lizel van der Westhuizen

Die perfekte denimbroek kan ʼn dramatiese impak hê op hoe jy oor jouself voel.

Goeie gehalte klere is die geheim tot ʼn stylvolle voorkoms en dit is veral belangrik wanneer jy ʼn denim aanskaf.

Leer so om die beste broek vir jou figuur te vind:

1. Gaan koop in die winkel, oppas vir aanlyn aankope:

Koop eerder in persoon wanneer jy ʼn denim aanskaf, veral as jy ʼn nuwe handelsmerk of ʼn ander styl of pasvorm probeer. Die enigste uitsondering is as jy weer dieselfde soort broek koop en reeds weet dat dit goed pas.

2. Kies drie groottes:

Neem drie verskillende groottes denims saam met jou in die aantrekhokkie in: die grootte wat jy dink jy is, een groter en een kleiner. As “jou” grootte pas, probeer steeds die ander twee om seker te wees jy maak die regte keuse. Jy sal dalk meer as drie groottes moet probeer om die perfekte snit te vind, veral as jy verskeie pasvorms, style of denimhandelsmerke probeer.

(Grafika: Treasurie.com/Verskaf)

3. Jy hoef nie die bank te breek nie:

Tendense verander en groottes ook. Om ʼn bekostigbare denim te koop, sal jou die vryheid gee om verskillende denimstyle te probeer. Jy sal ook meer gemaklik voel om ʼn nuwe broek te koop as jy van vorm verander. Onthou – dit is van kardinale belang dat jou denim altyd gemaklik pas.

 4. Probeer ʼn noupassende snit (slim fit):

Dit is lekker om met proporsies te speel, veral wanneer dit by denims kom, maar ʼn afgewerkte denim is geneig om meer vleiend te wees as ʼn stewel- of reguitsnit broek. As jy ʼn basiese, alledaagse denim soek, wat jou liggaamsvorm komplementeer, probeer ʼn noupyp-snit met ʼn bietjie rek. Of jy nou ʼn hoë-, middel-, of lae-lyf-snit verkies, sal die beste denim een met ʼn “slanker” afwerking wees.

(Foto verskaf)

5. ʼn Stywe denim is vir almal:

As jy nog nooit voorheen ʼn stywe denim (skinny jeans) probeer het nie, mis jy dalk die geleentheid om op jou beste te lyk. Skinny jeans kom in alle groottes en is geskik vir elke liggaamstipe – uurglas, reghoek, omgekeerde driehoek, appel en peer.

6. Oorweeg lengte:

Afgesnyde of verkorte broeke (cropped) kan baie stylvol wees, maar dit kan ook die illusie skep van buitensporige kort bene. Wanneer jy inkopies doen, dink aan jou figuur en ook hoe jy jou nuwe denim sal stileer.

Met hierdie riglyne gaan jy heel jaar stylvol lyk in jou denim. Onthou ʼn denim is ʼn basiese item wat elke vrou in haar kas moet hê. Dit is veelsydig en kan baie gedra word.

Daar is nou oral uitverkopings, so gaan loer gerus en bederf jouself met ʼn denimbroek of twee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.