Mej. SA vind vanjaar later plaas

Sasha-Lee Olivier (Foto: Verskaf)

Die Mej. Suid-Afrika Organisasie het Dinsdagaand aangekondig dat dié kompetisie vanjaar later sal plaasvind as voorheen verwag.

Vroeër sou die 62ste Mej. SA-kompetisie oudergewoonte in die eerste week van Augustus plaasvind om met  die aanvang van Vrouemaand saam te val.

Stephanie Weil, uitvoerende hoof van die Mej. Suid-Afrika Organisasie, sê hulle is gevra om die kompetisie na so laat as moontlik vanjaar uit te stel, om te sien wat gebeur met inperkingsvlakke as gevolg van die Covid-19-pandemie.

“Ons kan dit nie tot later as middel November uitstel nie, want ons moet die top-3 en wenner aanwys, en al drie moet Suid-Afrika op die internasionale verhoog gaan verteenwoordig.”

Maroela Media het vroeër berig dat Mej. SA se top drie wenners vanjaar almal internasionaal sal deelneem. In die verlede het slegs die top-2 aan die Mej. Heelal en Mej. Wêreld-kompetisies deelgeneem, maar vanjaar sal een van hulle ook aan die Mej. Supranasionaal-kompetisie deelneem.

Weil het verder aangekondig dat Sasha-Lee Olivier, wat tans die Mej. SA kroon dra, vanaand (Woensdag) om 19:00 regstreeks op Instagram die top-15 vir vanjaar se kompetisie sal bekendmaak.

Die publiek sal ook vanjaar weer die geleentheid kry om vir hul gunsteling-semi-finalis te stem, en so ʼn sê te hê in wie na die volgende rondte deurgaan.

Tot dusver was die Mej. SA-inskrywings in die hande van vanjaar se eerste rondte-beoordelaars: Adé van Heerden, Liesl Laurie, Bokang Montjane-Tshabalala en Anele Mdoda.

Die publiek kan tussen 25 Junie en 16 Julie vir hul gunsteling-semi-finalis stem. Die top-10 finaliste, wat later vanjaar oor die verhoog sal stap, sal aan die einde van Julie bekendgemaak word.

Die publiek kan op die Mej-SA-webtuiste of by verskeie winkels se Money Market-toonbank vir hul gunsteling gaan stem; daar is ’n koste daaraan verbonde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.