Nuwe jaar, nuwe styl

(Foto: Verskaf)

Deur Lizel van der Westhuizen

Die begin van ʼn nuwe jaar is altyd ʼn opwindende tyd. Die lug is met die gevoel van moontlikhede gevul, en ons word opgewonde oor die idee dat dit die perfekte tyd is om nuut te begin. Begin daardie nuwe hoofstuk … Maak jou toekoms beter as jou verlede.

Jou styl groei en verander soos omstandighede in jou lewe verander. Dikwels raak ons ​​stylidentiteit deurmekaar, nes die inhoud van ons kaste ons soms laat wonder wat ons styl nou werklik is. Ek glo dat die begin van ʼn jaar die perfekte tyd is om al die areas van jou lewe te herevalueer en jou styl met jou persoonlikheid, liggaamsvorm en doelwitte in lyn te bring.

As jy gereed is vir ʼn jaar wat jou styl en lewe verbeter, is hier ʼn paar idees om jou aan die gang te kry.

Wat is jou doelwitte?

Net soos om ʼn reis te beplan, moet jy weet wat jou bestemming is as dit by styl kom. Om die styl te vind wat vir jou sal werk, werk dit op dieselfde prinsiep as om vir ʼn reis te beplan. Is jou doelwit in 2022 om ʼn lewensmaat te vind, ʼn hoër posisie by die werk te kry, meer ernstig opgeneem te word of meer vriende te kry? Voor enigiets anders moet jy weet wat jy wil bereik. Jy kan ook verskillende doelwitte vir die verskillende dele van jou lewe hê, dit wil sê areas soos jou werk, sosiale lewe en gesin.

Bepaal jou styletikette

Vroeg in die lewe leer ons om etikette aan mense te gee, byvoorbeeld, sy is so lank en elegant, of sy is mooi gebou maar tog so vroulik.

Mense reageer dikwels onbewustelik op dit wat hul oor ʼn persoon sien en voel, en uiteindelik, as genoeg mense op dieselfde manier dink, kan persepsie ook hul waarheid word. Dit hang van onsself af om die etikette wat ons wil hê ander oor ons moet sien, te skep en te koester. Jy kan dit doen deur al die byvoeglike naamwoorde te bepaal wat beskryf hoe jy wil hê ander jou moet sien. Hierdie lys word die grondslag waaruit jou styl sal ontstaan.

Hier is ʼn lys van moontlike byvoeglike naamwoorde om jou aan die gang te kry. Sodra jy ʼn groep kies, dink na oor watter kenmerke elke byvoeglike naamwoord in jou gedagtes oproep. Byvoorbeeld, jy het dalk “poised” (statigheid) gekies. Vir my sou die kenmerke hiervan onder andere wees: elegansie, selfvertroue, gladde oppervlaktes, gesofistikeerde kleure en klassieke vorms. Deur ʼn studie van die woorde te maak of te ontleed, sal jy ʼn beter idee kry wat nodig is om dit te kan naboots.

(Foto: Verskaf)

Trek outentiek aan

Daar is geen sin daarin om jouself te dwing tot ʼn ongemaklike voorkoms wat jou van egtheid beroof nie – om die waarheid te sê, dit is heeltemal aftakelend. Kies jou styletikette en ken jou doelwitte, maar doen dit binne die perke van jou persoonlikheid en begroting. As jy dit nie doen nie, sal jy binnekort net so ontevrede met jou styl of lewe wees as wat jy dalk tans is.

Die goeie nuus is dat dit onwaarskynlik is dat jy te ver van die styl waarmee jy gemaklik is sal afdwaal, tensy jy deur invloede van buite daartoe gedwing word.

Wysig, wysig en wysig nog ʼn keer

Sodra jy jou doelwitte en styletikette bepaal het, is dit tyd om jou kas te redigeer deur om van items ontslae te raak wat nie jou doelwit ondersteun nie, en begin bepaal wat jy moet koop om aan jou gewenste voorkoms te bou. Laat gaan, sit sentimentele items weg wat dalk jou kas deurmekaar maak en gee items weg wat jy skaars gedra het.

Om jou kas te redigeer is iets wat jy gereeld moet doen om nader en nader aan die voorkoms te kom waarna jy soek en sal jou help om met die kledingstukke, silhoeëtte en kleure wat jy graag wil aantrek, vertroud te raak. Maak seker dat jy ook al die moontlike uitrustingkombinasies ontdek. Jy sal verbaas wees oor hoeveel verskillende uitrustings bymekaargesit kan word as jy die tyd neem om dit te vind.

(Foto: Verskaf)

Belê in die regte snit

Dit is eintlik nogal hartseer hoeveel vroue die waarde van ʼn goeie naaldwerker/kleremaker onderskat, asook die waarde van ʼn goeie droogskoonmaker. Eerder as om outomaties na die goedkoopste of gerieflikste opsie in jou area te gaan, neem die tyd om navorsing te doen en verhoudings met hierdie sleutelmense te bou wat jou sal help om op jou beste te lyk. Alhoewel jy by winkels in die straat kan koop, sal ʼn wonderlike naaldwerker dit laat lyk of jou kledingstukke op bestelling gemaak word, want dit sal gemaak word om te pas.

(Foto: Verskaf)

Beplan en wees voorbereid

Beplan reeds Sondagaand wat jy die week gaan aantrek. Kyk na die week se komende gebeure, bepaal wat jy dag vir dag wil bereik en beplan dan jou uitrustings daarvolgens. Let op elke uitrusting – stukkie vir stukkie, insluitend die bykomstighede – sodat jy dit maklik bymekaar kan maak en die vorige aand uitlê. Jy sal nie net vind dat jou oggende minder stresvol is nie, maar sal ook meer selfversekerd voel met die wete dat jy reeds vooraf uitgedink het wat jy gaan aantrek.

(Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.