Omskep passie vir skoonheid in beroep

Omskep ‘n passie vir skoonheid in ‘n beroep by die Isa Carstens Akademie. (Foto: Verskaf)

In 1978 het die Isa Carstens Akademie ontstaan uit die passie van een vrou, Isa Carstens, wat as skoonheidsterapeut die behoefte in die mark raakgesien het vir goedgekwalifiseerde terapeute.

Ná 43 jaar leef dié passie steeds voort met Isa se dogter, Isabel Roos, aan die stuur van sake. Die akademie is destyds met slegs nege studente begin, en die missie van die akademie bly steeds om studente die nodige entrepreneursvaardighede te gee om eendag hul eie sakeondernemings te begin.

Vandag, met die groot belangstelling in teenveroudering en nie-indringende behandelings wat resultaatgedrewe is, volg die terapeut ʼn meer wetenskaplike benadering tot behandelings. Vele nuwe behandelings word gerugsteun deur kliniese navorsing vir betroubare en merkwaardige resultate.

“Ons probeer seker maak dat elke student wat hier uitstap dieselfde passie het vir die bedryf, want dít is wat hulle laat uitstaan bo die res,” sê Yolandé Swanepoel, akademiese hoof van die Isa Carstens Akademie.

“Ons kursusse is ook almal geakkrediteer deur die raad vir hoër onderwys, wat verseker dat ons voldoen aan nasionale wetgewing. As private instansie is ons onderworpe aan presies dieselfde regulasies as enige ander openbare universiteit.”

Omskep ‘n passie vir skoonheid in ‘n beroep by die Isa Carstens Akademie. (Foto: Verskaf)

Die akademie maak ten alle tye gebruik van bekende, professionele handelsmerke in die bedryf, maar as opleidingskool is die fokus meer op die aktiewe bestanddele in die skoonheidsprodukte en poog hulle sodoende om studente aan ʼn verskeidenheid professionele produkreekse bekend te stel.

“As hulle dus die dag begin werk, is hulle gemaklik met die gewildste reekse in die bedryf. Die meeste van ons programme sluit ook ʼn sekere aantal praktiese ure in wat hulle reeds vanaf hul eerste jaar doen om seker te maak hulle is gereed vir die bedryf as hulle die dag kwalifiseer.”

Die akademie het tans drie geakkrediteerde programme:

  • ʼn Eenjaarprogram in ontvangs/administrasie
  • ʼn Driejaarprogram in somatologie
  • Gevorderde program in gevorderde vel-estetika, wat dus ʼn addisionele 4de jaar van studie is.

Omskep ‘n passie vir skoonheid in ‘n beroep by die Isa Carstens Akademie. (Foto: Verskaf)

“Oor die jare het ons gesien dat daar al hoe meer ʼn aanvraag was na ontvangspersoneel in ʼn salon of spa. Vroeër jare het die terapeut ingestaan by ontvangs, maar soos dinge ontwikkel het, het die behoefte ontstaan vir iemand wat net daarop kan fokus. Dit is waarom ons die eenjaarprogram in ontvangs en administrasie ontwikkel het,” sê Swanepoel.

Te midde van die pandemie het die akademie sy klasse onmiddellik oorgeskakel na aanlyn klasse tydens die strengste inperkings, maar omdat dit ʼn praktiese veld is, moes sekere prosedures ingestel word om ook die prakties vir elke jaargroep suksesvol af te handel.

Die akademie het sowat 10 jaar gelede na Pretoria uitgebrei en is tans in ʼn baie moderne nuwe kampusgebou daar. Die perseel het ook ʼn koshuis wat oop is vir enige studente van ander instansies.

“Ons koshuismoeder in Pretoria praat altyd van die studente se ‘huis weg van die huis af’. Omdat ons privaat is, probeer ons soveel moontlik formele en informele funksies vir die studente reël. Die kampus het ook sekuriteit en die Gautrein-busroete loop reg voor die koshuis verby.”

Dit is belangrik om Engels magtig te wees aangesien al die handleidings, handboeke en klasse in Engels aangebied word. Die belangrikste skoolvak is lewenswetenskappe, wat noodsaaklik is vir die diploma in somatologie aangesien die studierigting handel oor die menslike liggaam en daardie fondament nodig is om suksesvol te wees.

Omskep ‘n passie vir skoonheid in ‘n beroep by die Isa Carstens Akademie. (Foto: Verskaf)

“Ons besef baie goed dat leerlinge reeds in gr. 9 vakkeuses moet doen en dalk dan nog nie besef watter studierigting hulle ná matriek wil doen nie. Vir studente wat dus nie lewenswetenskappe op skool gehad het nie bied ons ʼn anatomie- en fisiologie-oorbruggingskursus tydens hul eerste jaar van studies aan. Jy kan dus soos enige ander student begin met jou eerste jaar en net die oorbruggingskursus doen,” verduidelik Swanepoel. Vrystelling vir ʼn hoër sertifikaat of diplomastudies word benodig.

“Versorging is ʼn ervaring. Dit gaan dus nie net oor die behandeling nie, maar ook oor die besluit wat jy neem om jouself te gaan versorg, en dan die ervaring wat jy kry. Dit beïnvloed jou hele senuweestelsel en dan geniet jy nog die resultate na die tyd ook.

“Die realiteit is mos maar dat ons nie die verouderingsproses ooit gestop gaan kry nie, maar met ʼn bietjie hulp kan ons die proses so lank as moontlik vertraag. Dit verg egter in sommige gevalle ʼn bietjie meer gevorderde behandelings. Hierdie multidissiplinêre benadering tot behandelings is baie suksesvol en gee ongelooflike resultate.”

Volgens Swanepoel word Isa Carstens Akademie se terapeute opgelei om aan die voorpunt van die jongste behandelings te staan.

  • Isa Carstens is geregistreer by die departement van hoër onderwys en opleiding as ’n hoëronderwysinstelling ingevolge die Onderwyswet van 1997. Registrasiesertifikaat 2000/HE07/025.
  • Kwalifikasies geregistreer by die SAQA ID-nommer 111453 (NQF vlak 5), SAQA ID-nommer: 83046 (NQF vlak 6), SAQA ID-nommer: 97898 (NQF vlak 7)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.