Rokkies wil sy dra – ’n somerrok vir elke vrou

Rokke is verseker een van die gunstelingklereitems vir die somer.

Hoeveel keer het jy al jou uitrusting verander omdat iets nie reg voel nie; of die rok is te kort, of dit sit te styf om die heupe. Kom ons maak ʼn einde aan die frustrasies en vind vir jou die regte rok. Lizel van der Westhuizen, voorkomskonsultant, gee raad oor hoe om die regte rok te kies en hierdie somer stylvol te lyk:

Rokke vir breër heupe. (Grafika: Verskaf)

Rokke vir breër heupe:

As jy breër heupe het, is die styl wat die beste by jou pas, iets wat die middellyf beklemtoon.

  • Kies rokke met ʼn V-hals of silhoeëtte wat die bolyf beklemtoon.
  • Rokke met ʼn noupassende vorm, gelykstaande aan die bekende “pencil skirt” se vorm en styl, saam met ʼn belt is vleiend vir breër heupe.
  • Vermy oorgrote en slooprokke wat jou figuur nog wyer sal laat vertoon.
  • As jy ʼn maksirok dra, kies ʼn styl wat jou middel beklemtoon.

Rokke vir breër heupe. (Foto’s: Verskaf)

Rokke vir ʼn fyn of klein liggaamsbou. (Grafika: Verskaf)

Rokke vir ʼn fyn of klein liggaamsbou:

As jy klein en fyn gebou is, kan jy dit veral moeilik vind om ʼn rok te kry wat jou figuur nie oorweldig nie. Die rok wat die beste by jou figuurtipe pas, is die “oorvourok”. As jy langer wil lyk en voordeel uit jou klein figuur wil trek, is hierdie die beste truuks vir jou:

  • Kies knielengte rokke met reguit lyne. Die lyne sal jou klein raam verleng.
  • V-halsstyle sal jou nek verleng en jou figuur na bo langer laat vertoon.

Rokke vir ʼn fyn of klein liggaamsbou. (Foto’s: Verskaf)

Rokke vir ʼn sportiewe liggaamsbou. (Grafika: Verskaf)

Rokke vir ʼn sportiewe liggaamsbou:

As jy ʼn sportiewe liggaamsbou het, kies dan ʼn rokstyl met vroulike teksture en pofmoue of valle om jou liggaamstipe meer vorm en beweging te gee.

  • Wys wat jy het. Gespierde bene? Gaan vir ʼn mini. Gespierde arms? Spog met hulle.
  • Rokke in net of sy beklemtoon die vroulike voorkoms.
  • Speel met patrone en teksture om jou voorkoms beweging te gee.

Rokke vir ʼn sportiewe liggaamsbou. (Foto’s: Verskaf)

Rokke vir ʼn lang, slanker figuur. (Grafika: Verskaf)

Rokke vir ʼn lang, slanker figuur:

 As jy ʼn lang en slanke figuur het, is rokke wat jou kurwes beklemtoon die beste opsie. Kies style en silhoeëtte met oordrewe moue of middellyne en oorweeg dit selfs om ʼn oorvourok of twee aan te skaf.

  • Kies rokke wat die middellyf beklemtoon om die illusie van breër heupe te skep.
  • ʼn Mini met ʼn hoër neklyn en langer mou sal jou bene beklemtoon terwyl dit jou bolyf volume gee.
  • Speel met oordrewe materiale, silhoeëtte en patrone, aangesien dit jou skraal raam nie sal oorweldig nie.

Rokke vir ʼn lang, slanker figuur. (Foto’s: Verskaf)

(Grafika: Verskaf)

Rokke vir vroue met kort bene:

Hoe korter die bene, hoe korter moet jou rok wees. Hoe korter die rompgedeelte van die rok, hoe langer en slanker sal jou bene vertoon. As jy nie ʼn stywe minirok wil dra nie, kies ʼn T-hemprok. Ander truuks wat meisies met kort bene kan volg, is:

  • Kies style met ʼn hoë nek wat die klem op jou bene plaas.
  • Style met splete aan die kante (“side slits”) vertoon meer van jou bene.
  • “Nude” kleure sal jou figuur verleng.
  • Probeer om nie jou vorm te oorweldig met lang oordrewe maksistyle nie.

Lizel is ‘n voorkomskonsultant en grimeerkunstenaar. Besoek haar webwerf by www.fullcircleimage.co.za of volg haar op Facebook en Instagram.

 

Rokke vir vroue met kort bene. (Foto’s: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
AW

Rooi een is vir my mooi .