SA se Thato op pad na internasionale skoonheidsverhoog

Thato Mosehle. (Foto: Mej. SA-organisasie)

Thato Mosehle, wat verlede jaar op die Mej. Suid-Afrika-verhoog as Mej. Supranasionaal Suid-Afrika 2020 gekroon is, vertrek volgende Woensdag na Pole om aan dié internasionale kompetisie deel te neem.

Mosehle, ʼn mediese dokter, sal aan die 12de Mej. Supranasionaal-kompetisie deelneem wat op 21 Augustus in Nowy Sącz, Pole, aangebied word. Sy is die eerste persoon wat amptelik onder die vaandel van die Mej. SA-organisasie deelneem.

Die wenner sal deur Anntonia Porsild van Thailand, Mej. Supranasionaal 2019, as haar troonopvolger gekroon word.

Volgens Mosehle is sy “geëerd en trots” om die Mej. Supranasionaal-nalatenskap onder die Mej. SA-organisasie se vaandel te kan begin.

“Die ondersteuning van Suid-Afrikaners is wonderlik. Dit moedig my aan om my beste te doen. Ek het wonderlike vertroue in myself en het my vaardighede ontwikkel. Hou my in jul gebede; ek hoop ek maak julle ongelooflik trots,” sê Mosehle.

Die voorbereiding vir die kompetisie het onder meer loopplank-, hare- en grimeringopleidingsessies behels.

Sy het noukeurig saam met Werner Wessels, die kreatiewe direkteur van die Mej. SA-kompetisie, gewerk om die wese van die kompetisie te verstaan.

“Ek het geweldig baie gegroei en ontwikkel. Ek het die geleentheid van ʼn leeftyd gehad om lewens- en stemafrigting asook opleiding in aktuele sake te ontvang wat my vir altyd sal bybly, selfs lank na die finale aand.”

Haar nasionale kostuum is ontwerp deur Sello Medupe, eienaar van Scalo. Dit is geïnspireer deur die voorkoms van ʼn Afrika-krygerprinses met elemente van Mosehle se Sotho-kultuur en erfenis daarin verweef.

Haar uitrustings vir die dag is ontwerp deur Willet Designs Couture, Malondie, Sheriff Taylor, Ernst Schultz en Juan William Aria.

Haar aandrokke wat deur Kobus Rautenbach ontwerp is, lê haar na aan die hart omdat hy ook jare gelede haar matriekafskeidrok ontwerp het.

Anel Botha het ook een van haar aandrokke ontwerp. “Ek is mal oor my klerekas en al hierdie ongelooflike Suid-Afrikaanse ontwerpers wat ʼn manier gevind het om my spesiaal te laat voel.”

Sy sien baie daarna uit om Suid-Afrika na die beste van haar vermoë op ʼn internasionale verhoog te verteenwoordig.

“Ek sien ook uit daarna om Pole te verken aangesien ek nog nooit voorheen daar was nie, en om eendersdenkende vroue van regoor die wêreld te ontmoet.”

Meer besonderhede oor die Mej. Supranasionaal-kompetisie sal op Mej. SA se amptelike webwerf en sosialemediaplatforms bekend gemaak word. Daar kan ook vir Mosehle gestem word op haar sosialemediaplatforms.

Mej. Suid-Afrika word aangebied deur Weil Entertainment in samewerking met M-Net, Mzansi Magic en Sun International.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.